Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die plank wip, maar ons gaan nêrens heen nie

Die pandemiese tyd voel nogal soos om vasgevang te wees in ’n werk van M.C. Escher (1898-1972), die Nederlandse grafiese kunstenaar bekend vir sy spel met dimensies, weerkaatsings en perspektiewe. Sy uitbeeldings, meestal litografieë, keer swaartekrag op sy kop, dit verwar en omtower die sinne.

Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

So neem ek my op ’n goeie dag voor: Vandag neem ek dié stel trappe, kyk, my greep is stewig op die handreling van die werklikheid, gits, ek voel sommer die pure beheer. Net om oomblikke later verward op ’n trapportaal tussen ’n niks en ’n nêrens te land en die enigste sekerheid is dat als absoluut relatief is.

Miskien ly die leste een van ons nou al aan ’n waansin. Ons ry wipplank, een dag op en die volgende af, maar bly terselfdertyd net mooitjies op dieselfde plek en voel so bietjie soos Alice in Wonderland, “curiouser and curiouser”.

Myns insiens slaan Alice die spyker ook presies op die kop met dié stelling: “If I had a world of my own, everything would be nonsense. Nothing would be what it is, because every-thing would be what it isn’t And contrary wise, what is, it wouldn’t be. And what it wouldn’t be, it would. You see?”

(Kan ek asseblief kry wat Alice-skrywer Lewis Caroll gerook het?)

Basta, neem jy jouself voor, die enigste teenvoeter is ’n streng roetine. Maandag is dit wasdag, en Dinsdag gaan ek stryk, Woensdag is ’n lekker dag om uit die bus te val . . .

Want op ’n simpel manier was dit makliker om by só ’n reëlmatige en voorspelbare doen en late te hou in daardie eerste 21 dae van die inperking. Toe ons nog onder die waan was daar is ’n begin en ’n einde aan die spulle.

“Covid-koppie”, is ’n vriendin se kort en kragtige verduideliking toe ek my lot bekla dat ek à la Alice aan ses onmoontlike dinge dink voor brekfis terwyl ek om en om klim op Escher se trappe.

Sy probeer haar term verhelder: “Dit is al die teenstrydighede, glo ek. Masker of nie, simptome en negatief, positief sonder simptome, Illuminati of Nkosazana, etes by ’n restaurant, maar slegs as jou keel droog bly, en les bes sien jy jou persoonlike smokkelaar meer gereeld as jou naaste familie. Sien, plein en eenvoudig.”

Ek bedank haar plegtig dat ek nou boonop met ’n prentjie in my gedagtes sit dat die ganse mensdom se kop lyk soos die prentjies van die virus.

Die enigste oplossing waaraan ek kan dink, is “sit dit af, sit dit af”. Skakel die radio af, moenie die koerante oopvou nie, vermy sosiale media, stuur Showmax in sy maai, en moenie jou ore uitleen vir enigiets anders as poësie nie.

Ek maak die Groot verseboek oop by ’n gedig van Fransi Phillips: “Moenie in die stilte / vrae vra nie / moenie met vrae / die stilte / stil maak nie / moenie die niet / vernietig nie . . .”

Waansinnig gepas, meen ek.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.