Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die polisiestaat hoort op ashoop

Vandeesweek se landwye gedeeltelike opening van skole is ’n groot dog steeds tentatiewe stap in die land se stryd teen Covid-19.

Henry Jeffreys

Die verwagting is dat dit spoedig opgevolg sal word deur ’n vollediger opening van skole. Dit sal natuurlik bepaal word deur wat tydens die gedeeltelike opening gebeur.

Daar was ’n groot geskarrel onder skole om hulself betyds gereed te kry vir Maandag se gedeeltelike opening nadat dit aanvanklik met ’n week uitgestel is. Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die land die versekering gegee haar departement is oortuig alles is in orde en dat skole wel kan open. Onderwysvakbonde, wat aanvanklik teen die opening gekant was, het haar gesteun.

Druk op die regering om vinniger te beweeg met die verslapping van die inperking is aan die toeneem, en daar word gereeld verwys na wat in ander lande gebeur. In Nieu-Seeland, byvoorbeeld, is die inperking Maandag heeltemal gelig, en in Amerika is die inperking in byna al die deelstate gelig.

Maar Suid-Afrika is nie Nieu-Seeland of Amerika nie. Ons het nog lank nie die piek van die uitbreking van Covid-19 bereik nie. Daarvan getuig die infeksie- en sterftesyfers.

Die regering is korrek om versigtig te wees met die pas waarteen die inperking opgehef word – dit is beter om veiligheid voorop te stel. Uiteindelik is die uitkoms in ons, die burgers, se hande. Ons het tot nou in moeiliker omstandighede as in lande soos Nieu-Seeland en Amerika nie te sleg gevaar nie.

Benewens Covid-19 is die res van die wêreld behep met die dood van die swart Amerikaner George Floyd in Minneapolis.

Benewens Covid-19 is die res van die wêreld behep met die dood van die swart Amerikaner George Floyd in Minneapolis. Floyd is deur plaaslike polisiemanne versmoor ten aanskoue van alomteenwoordige selfoonkameras. Sy dood het hewige protes in Amerika se grootste stede laat opvlam.

Die gebeure in Amerika het hier te lande opnuut die kollig laat val op die dood van Collins Khosa, na bewering aan die hand van soldate en polisielede wat inperkingsmaatreëls afgedwing het in Alexandra, Johannesburg.

Die dood van veral swart Suid-Afrikaners aan die hande van die owerhede is niks vreemd nie. In die verlede was dit gewoonlik politieke aktiviste soos Steve Biko, Ahmed Timol en Neil Aggett wat geteiken is. Dit is dus nie verbasend dat die openbare reaksie op die dood van Khosa tot nou so gedemp was nie. Die gebeure in Amerika kan sterker plaaslike reaksie ontketen.

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en die weermag het hulle nie juis in die hantering van Khosa se dood onderskei nie. ’n Interne ondersoek na die voorval het die betrokke weermaglede kwytgeskeld.

Die hooggeregshof in Pretoria het egter in ’n uitspraak die minister en die weermag gelas om die betrokke soldate te skors. Waarop die weermag gesê het die ondersoek na Khosa se dood is afgehandel en sal nie heropen word nie. Dit klink na ’n oordeelsfout waaroor die minister en die weermag vorentoe nog spyt kan wees.

Toe pres. Cyril Ramaphosa die weermag en die polisie ontplooi het om die regering se Covid-19-planne te ondersteun, het hy dit beklemtoon dat hulle nie téén die land se burgers ontplooi word nie, maar om in hul diens op te tree. Die soldate betrokke by Khosa se dood het hom duidelik nie gehoor nie of hom gruwelik misverstaan.

Khosa se dood is nie net betekenisvol oor dit wat met Floyd en ander swart Amerikaners gebeur het nie, maar juis omdat ons as land vorentoe beweeg het.

Die polisiestaat van die verlede hoort op die ashoop van apartheid. Dis tyd dat Mapisa-Nqakula en die weermag die regte ding doen omtrent die onnodige dood van Khosa.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.