Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die politieke gesprek langs ’n wasgoedlyn
Dana Snyman Foto: Denvor de Wee

Ek hou in my bakkie voor die motorhuis stil. Ek was Vredenburg toe. Ek maak die agterplaas se hekkie oop, dan sien ek iets op die wasgoeddraad: ’n T-hemp met oud-president Jacob Zuma se gesig op.

Lettie Bogosi, wat saam met haar man, Johannes, in die woonstel langs my huis woon, is in die waskamer doenig. Sy was gewoonlik op ’n Donderdag ons almal se klere sommer saam. “En daai hemp, Lettie?” vra ek.

“Watter een, Ouboet?” wil sy weet.

“Die een met Zuma se gesig op.”

“Dis Johannes s’n, Ouboet.”

Johannes kom om die hoek van die huis ge­stap. Hy probeer dapper ons yl Weskus-tuin aan die gang hou. “Waar kry jy daai hemp, Johannes?” vra ek.

Jy kan mos nie vir Zuma vote nie. Daai man is ’n pampoen.

“Ek het hom gekry toe ek ge-vote het, Ouboet,” antwoord hy.

“Het jy vir daai skelm ge-vote?”

Johannes antwoord my nie. Hy lag net. Ek stap by hul woonstel in en gaan sit op die groen bank, wat eers in my sitkamer gestaan het. “Nee, nee, nee, Johannes,” sê ek. “Jy kan mos nie vir Zuma vote nie. Daai man is ’n pampoen.”

Lettie kom staan in die deur. “Ons het eintlik vir Mandela ge-vote, Ouboet,” sê sy. “Ons het nie vir Zuma ge-vote nie.”

“Dit werk nie so nie, Lettie,” sê ek. “As jy vir die ANC vote, vote jy vir Zuma.”

“Ouboet, moenie worry nie,” probeer Johannes my paai. “Ek dra die hemp nie bo nie. Ek dra hom onder die ander hemp. Soos die vest.”

Eers wil ek begin lag, maar ek doen dit nie. Ek is verras deur die gevoelens wat die T-hemp aan die draad in my losgemaak het. Ek voel ’n bietjie verraai deur Johannes-hulle wat vir die ANC gestem het. “Mandela is nou dood,” sê ek. “Julle kan nie vir Zuma stem nie. Hy is nie ’n goeie man nie. Hy het ons land ’n swak plek gemaak.”

Die polieste het ons gejaag met die honne. Ons moes die dompas dra.

“Zuma het vir ons ’n huis op Ventersdorp gebou – verniet,” kap Lettie terug. “Ons het nie ’n sent betaal nie. Zuma het vir ons ’n kraan met water gegee. Zuma het vir ons ligte gegee.”

“Dis nie Zuma nie,” sê ek.

“Dis Zuma, Ouboet,” antwoord Lettie. “Dis die ANC. Die ANC het ons gehelp. Ons kon nie vote nie. Ons was niks by hierie land nie. Die polieste het ons gejaag met die honne. Ons moes die dompas dra. Die ANC het ons gehelp om daai af te kap.”

“Het Ouboet vir die DA gestem?” vra Johannes.

Johannes se vraag tref my met iets soos ’n skok: Het hy nie dalk gedink ek stem ook vir die ANC nie? Ek antwoord nie Johannes se vraag nie. Ek wil begin praat oor die ANC se magsvergrype en die korrupsie, maar Johannes sê iets voor ek kan praat. Dalk sê hy dit omdat hy meer wysheid as ek het. Ek weet nie.

Hy kom regop, en sê: “Ons moet praat, Ouboet.”

Hy stap na buite en beduie na die huis se mure. “Hierdie huis moet verf kry,” sê hy. “Kyk hoe lelik lyk die mure. Kyk die dak.”

Meer oor:  Dana Snyman  |  Politiek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.