Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die potloodtoets: Toets vir hare of geletterdheid?
Michael le Cordeur

Suid-Afrikaners wat graag wil sien dat ons land vorentoe gaan, wou waarskynlik die afgelope week hul hare uit hul kop trek oor ’n Clicks-advertensie.

Suid-Afrika kom uit ’n verlede waar hare gebruik is om families van mekaar te skei ingevolge die Bevolkingsregistrasiewet van 1950. Die bepalende toets vir hierdie registrasie was die sogenaamde potloodtoets. Die toets is ook gebruik om ander apartheidswette te formuleer, onder meer die Groepsgebiedewet.

In die Clicks-advertensie word swart vroue se hare onder meer as “beskadig” en wit vroue se hare as “normaal” voorgehou. Hoe Clicks nie kon snap dat die advertensie sou ontstel nie, is ’n raaisel. Dit het opnuut gevoelens van verwerping teruggebring. Ons eie Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, wat haar natuurlike hare met trots dra, het ook haar stem laat hoor: “Dit is nie net disrespekvol teenoor swart burgers nie, dit getuig van gebrekkige diversiteit en swak verteenwoordiging van swart mense in ’n land waar 80% van die bevolking swart is.”

Prof. Le Cordeur is professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Die foto hierbo is geneem toe hy ’n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was.

Clicks het teruggekap dat 80% van sy werkers swart en vroue is. Dis goed en wel, maar dit pla my dat transformasie steeds gesien word in terme van kleur. Transformasie is nie ’n enkele daad of persoon nie, dit is ’n nuwe lewenswyse wat voortdurend herbesoek en in pas met die Suid-Afrikaanse konteks gebring moet word. Ons benodig bekwame individue (ongeag velkleur) wat oor die vaardighede beskik om ware transformasie te bewerkstellig.

Clicks het intussen die advertensie onttrek en om verskoning gevra, maar dit sou nie die einde van die sage wees nie. Die EFF se reaksie om Clicks-winkels te plunder, het gegrens aan anargie. Dié optrede het so geskok dat die sentiment heeltemal teen die EFF gedraai het.

Clicks (en hopelik ook ander) sou die dure les leer dat ons jong demokrasie ná 26 jaar steeds broos is. Dit verg ekstra versigtigheid as dit by die rassekwessie kom.

’n Enkele fout, hoe onbedoeld ook al, sal deur ekstremiste soos die EFF uitgebuit word. Die potloodtoets is ’n onuitwisbare deel van ons land se geskiedenis, maar dit durf nooit deel word van ons land se toekoms nie. Ook nie geweld, plundery en beledigings nie.

Watter lesse hou dit in vir onderwys? Eerstens: Die KABV-kurrikulum plaas ’n hoë premie op sosiale geregtigheid en waardering vir inheemse kennis.

Kinders moet dus van jongs af geleer word om mede-burgers en hul eiendom te respekteer.

Kinders moet dus van jongs af geleer word om mede-burgers en hul eiendom te respekteer. Al verskil ons polities, moet daar steeds wedersydse respek wees.

Intelligente gesprekvoering, eerder as geweld, moet ons van mekaar se standpunte oortuig. Daarom is ’n geletterde jeug so belangrik as ons enigsins wil vorder op die pad van sosiale geregtigheid – ’n pad weg van anargie. As ons die jeug wil leer om tussen reg en verkeerd te onderskei, is dit belangrik dat hulle goed kan lees.

Tweedens: Pleks dat ons op Geletterdheidsdag besin oor of ons kinders kan lees en skryf, is daar hare gekloof oor iets so verdelend soos afkoms.

Kom ons gebruik Erfenismaand en leer ons kinders om hul inheemse agtergrond te waardeer; om trots te wees op wie en wat hulle is; dat ons land se diversiteit ’n bate is wat verdien om op die verhoë van die wêreld uitgestal te word, soos Zozibini Tunzi in styl en eg vroulikheid gedoen het. Want dit is ons erfenis. En dit is mooi.

  • Prof. Le Cordeur is professor in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. 
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Potloodtoets  |  Haredebakel  |  Clicks-Advertensie  |  Hare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.