Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die prins, Faf en die broekie

Die mensdom is nou maar eenmaal ’n nuuskierige spesie. En die media voed hierdie nuuskierigheid onverpoos.

Ons lees en kyk en loer tot ons nuuskierige siele behaaglik versadig is.

Madré van Tonder

’n Video van ’n straatbakleiery in Pretoria laat die land skater. Die hoofkarakters, die Janssens-gesin, haal die voorblad van ’n gesinstydskrif.

Hoe dan anders?

Ons wil weet wat daardie dag gebeur het. Ons is vreknuuskierig.

Chris Chameleon erken sy sinspeling op ’n familieband met wyle Bles Bridges was ’n “sosiale eksperiment”. Die volk wil nie hierdie storie laat gaan nie. Die gesinstydskrif plaas ’n artikel van twee bladsye oor die ooreenkomste tussen dié twee sangers, mét foto’s wat die “familietrekke” uitwys.

’n Sondagkoerant vertel ons van ’n amperse vuisgeveg tussen Sylvester Stallone en Richard Gere oor die mooie prinses Diana. Dit was donkiejare terug by ’n ete in Elton John se huis. Hoekom moet ons dit weet?

Ek moet sê: Die beeld van Rocky wat appels swaai met die Pretty Woman-mannetjie het nogal giggelwaarde.

Ná verlede Saterdag se Bok-sege in die Wêreldbeker-toernooi gaan draai prins Harry in die Springbokke se kleedkamer en skud blad met Faf de Klerk.

Gaan die wêreld nooit vir Diana in vrede laat rus nie?

William en Kate se toer deur Pakistan word in ’n tydskrif gekoppel aan ’n ode aan Diana.

Het die wêreld vergeet Diana se Pakistan-besoeke is aangevuur deur ’n obsessie met daardie chirurg, dr. Hasnat Khan?

In dieselfde artikel ontleed die lyftaalkenner dr. Denise Bjorkman William en Kate se lyftaal. Hulle loop met lang treë en is in beheer. (Is hulle nie dalk net haastig nie?)

Ons hoor die min spasie tussen hulle is opvallend, anders as die stram verwydering destyds tussen Charles en Diana.

Kan ons dus aanneem die jong paar gaan nie soos William se ouers destyds met ander kafoefel nie?

Elders vertel ’n ander kenner Charles en Camilla se lyftaal spreek boekdele. Hulle is “two very unfortunate looking people”, maar straal in mekaar se teenwoordigheid.

Ons word dié onnodige inligting gevoer want ons slurp dit op.

Ons is slagoffers van ons eie nuuskierigheid.

Ná verlede Saterdag se Bok-sege in die Wêreldbeker-toernooi gaan draai prins Harry in die Springbokke se kleedkamer en skud blad met Faf de Klerk. Dit lyk of die prins glad nie agterkom Faf het net sy Springbroekie (daardie landsvlag-swembroek) aan nie.

Wat is die kans dat ’n lyftaalkenner (of twee) Harry se lyftaal tydens hierdie ontmoeting met Faf in sy swembroekie gaan ontleed?

Goed. Baie goed.

Want die volk wag daarvoor.

Ons is nuuskierig.

Meer oor:  Madré Van Tonder  |  Mense  |  Goeiemôre.Media  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.