Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
KYK: Die probleem met Greta Thunberg

Die bydrae wat die jong aktivis Greta Thunberg tot bewustheid oor aardverhitting gelewer het, mag nooit onderskat word nie. Maar as die klimaatbeweging ernstig is daaroor om mense en politici se mening oor klimaatsverandering te verander, moet hulle 'n ander benadering volg, meen Carla Lewis. 

Sy was veronderstel om die hoofpaneellid by ’n Davos-paneel: “Forging a Sustainable Path towards a Common Future” te gewees het.

Maar Dinsdag het Greta Thunberg broos, bleek en uitgebrand by die eerste dag van die Wêreld- Ekonomiese Forum in Switserland voorgekom. Haar antwoorde was hortend, soms onsamehangend en sy het weer dieselfde Oordeelsdag-retoriek aan die moderator van die paneel, Edward Felsenthal, Time se uitvoerende hoof en hoofredakteur, herhaal.

“Ons moet begin om na die wetenskap te luister. Ons huis is steeds aan die brand.”

’n Mens besef dis nie die ATKV-redenaarseindstryd of ’n debatkompetisie nie – die inspirerende tieners wat almal genooi is om deel van die paneel deel te vorm beywer hulself immers, nes Thunberg, vir ’n beter toekoms. Tog het dit gelyk asof Thunberg se medepaneellede – Salvador Gómez-Colón (16) van Puerto Rico, Autumn Peltier (16) van Kanada en Natasha Mwansa, (18) van Zambië – die jong klimaatsaktivis so ’n bietjie oordonder het.

As tieners het die jongklomp al meer in hul lewe vermag as sommige middeljarige politici.

Die ouer generasie het wel ervaring, maar ons het idees, ons het energie en ons het oplossings vir die probleme waardeur ons nou in die gesig gestaar word, asook dié wat in die toekoms vir ons wag.
Natasha Mwansa

Peltier is ’n Eagle Clan Anishinaabekwe – lid van ’n inheemse stam van Kanada – wat haarself beywer vir toegang tot vars, skoon drinkwater vir Kanada se inheemse stamme.

Toe Puerto Rico in 2017 vir weke sonder krag gelaat is in die nasleep van die orkaan Maria, het Gómez-Colón ’n groep tieners bymekaar gemaak en honderde sonkraglampe onder die slagoffers versprei.

Mwansa is dalk net 18 jaar oud, maar sy is reeds ’n joernalis en ’n vroueaktivis wat haar bemiddel vir jong vroue se toegang tot onderwys, geslagsgelykheid en gesondheid. Wêreldleiers soos die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, tel onder haar aanhangers.

As ’n mens wel een uitskieter van die paneelbespreking kon uitsonder, was dit Mwansa. Die Zambiër het nie net met praktiese oplossings en voorstelle vir ’n volhoubare toekoms na vore gekom nie, maar ook met ’n boodskap van hoop.

Mwansa se voorstel dat jong aktiviste en ouer leiers bereid moet wees om hande te vat en saam te werk, as die wêreld werklik ernstig daaroor is om ’n volhoubare toekoms te skep, was die sterkste boodskap wat ek by die paneelbespreking waargeneem het.

Sy het gepraat oor haar verwagtinge om ’n positiewe verandering te sien, wanneer jeugaktiviste en ouer wêreldleiers saamwerk.

“Die ouer generasie het wel ervaring, maar ons het idees, ons het energie en ons het oplossings vir die probleme waardeur ons nou in die gesig gestaar word, asook dié wat in die toekoms vir ons wag.”

’n Moderne Cassandra?

Van links, Edward Felsenthal, ‘Time’ se uitvoerende hoof en hoofredakteur, Natasha Mwansa, (18) van Zambië, Salvador Gómez-Colón (16) van Puerto Rico, Greta Thunberg (17) van Swede en Autumn Peltier (16) van Kanada. Foto: Reuters

Dis jammer dat die beriggewing van Dinsdag se paneel hoofsaaklik net op Thunberg gefokus het en dat die ander drie aktiviste net so in die verbygaan genoem is.

Thunberg het self tydens die paneel droogweg genoem dat sy nie meer bekommerd is dat niemand na haar luister nie.

“Daar word die hele tyd aan my gehoor gegee.”

Pleks van om net te lees van “Ons huis brand steeds – Gretha Thunberg” of “Niks is al gedoen om aardverhitting te voorkom nie – Thunberg” sou dit verfrissend gewees het om ook opskrifte soos “Jong aktiviste pleit vir samewerking by Davos” of selfs “Die tieneraktiviste wat in Thunberg se spore volg” te gesien het. Om nie net vir Thunberg as ’n enkele stem te hê as jong mense se pleidooi teen aardverhitting nie.

Die bewusmaking wat sy rakende klimaatsverandering geskep het, mag wel nooit onderskat of ontken word nie. Maar toe die bleek, uitgebrande tiener Dinsdag wêreldleiers by die WEF toegespreek het, het ek ook gewonder of dit nie tyd is vir Thunberg om ’n blaaskans te neem en die vaandel vir ’n rukkie aan ander jong aktiviste te oorhandig nie. Deels vir haar welstand, maar ook vir die welstand van die klimaatbeweging.

’n Bleek Greta Thunberg by die Davos-paneel: ‘Forging a Sustainable Path towards a Common Future’. Foto: AP

Ondanks haar en haar span se beste bedoelings, saai Thunberg onenigheid.

Vir elkeen wat Thunberg as ’n jong, inspirerende vrou sien wat nie skrik vir boelies nie, nie bang is om haar mening te lug en vir grootmense die leviete voor te lees nie, is daar iemand anders wat voel die “klein snip” het nie respek vir groot mense nie, dat haar pleidooie vir verandering eintlik maar net vloermoere is en dat sy deur haar “liberale” hanteerders as ’n marionet misbruik word om hul eie motiewe te bevorder.

Dis juis die gemeenskaplike weersin tussen Thunberg en konserwatiewes wat my bekommer – navorsing wys dat diegene wie se politieke oortuigings meer na ’n regse, konserwatiewe kant toe leun, ook meer geneig is om aardverhitting te ontken.

Sy preek vir die bekeerdes en ’n mens wonder tog nie of sy ook besig is om in ’n Cassandra-figuur te ontaard nie. Nes die tragiese Griekse profetes voorspel sy verdoemenis, verderf en verwoesting as daar nie aan die Parys-verdrag gehoor gegee word nie, maar ’n groot groep mense glo dis niks meer as doemprofesieë nie.

As jy Thunberg se mediabeeld en die persepsie van haar onder die loep neem, duik daar nog uitdagings op.

Haar Oordeelsdag-boodskap bring reeds slegte tyding en haar uitgesprokenheid, iesegrimmigheid en ouderdom vind nie juis aanklank by mense wat glo dat kinders gesien, maar nie gehoor moet word nie.

’n Nuwe studie wat verlede jaar in die Journal of Experimental Psychology verskyn het, wys dat mense negatiewe gevoelens teenoor boodskappers van slegte nuus ontwikkel, selfs al is die mense net onskuldige bystanders.

Dan is daar ook nog die bevestigingsvooroordeel, of confirmation bias, waar mense dikwels feite wat hul oortuigings weerlê, verwerp en doelbewus inligting wat dit bevestig of staaf, uitsoek. Thunberg kan die beste, onwrikbare wetenskaplike studies tydens haar toesprake aanhaal, maar dit gaan net op dooie ore val by hardnekkige ontkenners wat reeds nie ooghare vir haar het nie.

Ken jou gehoor

Die jong Zambiese aktivis, Natasha Mwasa. Foto: Reuters

“Maar Thunberg se boodskap kan juis nie met versiersuiker en linte opgetert word nie, sy waarsku teen die uitwissing van die mensdom.

“Sy is ’n aktivis, nie ’n tienerdebutant nie! Sterk vroue wat vir iets gestaan het, was nog altyd ongewild. Haar ongewildheid by konserwatiewes is juis ’n spieël van ons samelewing se vrouehaat en onverdraagsaamheid,” is maar net van die teenargumente teen mense wat Thunberg se iesegrimmigheid kritiseer.

Dis geldige punte, wat al in vorige meningstukke bespreek is. Maar die werklikheid is dat wêreldpolitiek al hoe meer konserwatief, regs-van-die-middel en nasionalisties word. Leiers met konserwatiewe lewensbeskouings word in magsposisies aangestel en verkies. Dis mense wat namens ons en ons kinders belangrike besluite moet neem oor wetgewing rondom ’n volhoubare toekoms, energie en aardverhitting.

’n Tiener wat by die Verenigde Nasies gil dat grootmense haar jeug gesteel het, gaan nie veel doen om die groep mense te beïnvloed en hul harte te wen nie.

Mwansa verstaan dat aardverhitting, feminisme en volhoubaarheid nie afsonderlik gepak kan word nie. Elkeen is interafhanklik van mekaar en elkeen gaan ’n positiewe uitkringeffek op die ander hê. Haar praktiese, helder en ja, volwasse argumente is iets wat ek by Thunberg se histeriese retoriek mis.

Thunberg is ook ’n simptoom van die skynheiligheid van sommige van die klimaatbeweging se “ambassadeurs” – wat graag vir mense voorskryf hoe hulle moet leef, maar nie hul eie raad volg nie. Dink maar aan sogenaamde “groen krygers” soos prins Harry, Leonardo di Caprio en Elon Musk wat volhoubaarheid preek, maar dan in privaat stralers oor die wêreld heen rondrits. Thunberg stel wel die voorbeeld wanneer dit by volhoubare openbare vervoer kom, maar haar en pres. Donald Trump van die VSA se bekgevegte oorskadu soms die brandende kwessies oor aardverhitting wat wel aandag moet geniet. In haar toespraak Dinsdag in Davos het sy spesifiek vir Trump en Amerika uitgelig as klimaatmuishonde omdat hulle van die Parys-verdrag onttrek het, maar geswyg oor lande soos Turkye en Iran, albei reuseproduseerders en verbruikers van fossielbrandstowwe wat ook weier om die verdrag te onderteken. Hoekom noem haar toesprake nie leiers soos Indië se eerste minister, Narendra Modi, of China se leier, Xi Jingping, op die naam nie, eerder as om hulle onder die sambreel van “sommige lande” in te bondel nie?

Dan is daar die turksvy van oorbevolking en ongebreidelde bevolkingsaanwas, ’n warm patat waarvoor die groen beweging katvoet loop omdat dit so gou na eugenetika kan lyk.

Iemand soos Mwansa, wat aandring op toegang tot geboortebeperking, seksopvoeding, die afskaffing van kindertroues en gelyke onderwysgeleenthede vir jong Zambiese vroue, pak egter die kwessie sonder inspanning, onder die vaandel van feminisme en vroueregte.

“Ek verpes dit dat ons dit kindertroues noem. Dis pedofilie! 

“Dis ontoelaatbaar dat meisies nie toegang het tot gehalte onderwys nie. Dis onaanvaarbaar dat meisies nie tydens hul maandstondes na hulself kan omsien nie, as gevolg van stereotipiese oortuigings. Politici kan praat, ouens. Maar wat van daadwerklike aksie? Ons moet hulle aanspreeklik hou.”

“Stel doelwitte vir ons. Gee vir ons ruimtes waarin ons kan groei, waarin ons kan gedy,” het sy verlede jaar tydens ’n kragtige toespraak by die Women Deliver-konferensie in Kanada gesê.

Mwansa verstaan dat aardverhitting, feminisme en volhoubaarheid nie afsonderlik gepak kan word nie. Elkeen is interafhanklik van mekaar en elkeen gaan ’n positiewe uitkringeffek op die ander hê. Haar praktiese, helder en ja, volwasse argumente is iets wat ek by Thunberg se histeriese retoriek mis.

Almal moet ’n kopskuif maak

Carla Lewis

Ná die paneelbespreking met die tieneraktiviste het ek ook gewens dit was Mwansa, eerder as Thunberg wat ’n toespraak voor die wêreldleiers by Davos kon lewer het.

Die aardverhittingsdebat is ongelukkig nie net ’n politieke ideologiese speelbal nie, dis ’n twispunt tussen oud en jonk. Niks gaan egter opgelos word as ou wêreldleiers vir jong mense vertel hulle moet eerder “ontspan en ’n fliek gaan kyk”, as om aan hul toekoms te dink nie. Ek verstaan die frustrasie wat die jong Nieu-Seelandse LP Chlöe Swarbrick (25) moes ervaar toe sy die opposisie-LP Todd Muller “okay boomer!” toegesnou het, toe hy haar tydens haar toespraak oor die voorgestelde wetsontwerp vir ’n zero koolstofvoetspoor in die rede geval het. Maar snedige wysneus-opmerkings verander nie wette nie.

Oor een ding is Thunberg wel reg – of jy nou links of regs, ryk of arm, liberaal of konserwatief is, aardverhitting gaan jou raak. Die wêreld bevind homself in ’n penarie en die wetenskaplike bewyse is onomwonde: 97% van klimaatswetenskaplikes stem saam dat aardverhitting deur menslike bedrywighede veroorsaak word.

En miskien is dit tyd vir Thunberg om wel ’n blaaskans te neem, al is dit net vir ’n rukkie.

As daar nie nou radikale ingryping plaasvind nie, gaan die toekoms heel moontlik soos ’n postapokaliptiese wetenskapfiksieriller lyk. Dit verg egter gesprekke en samewerking tussen oud en jonk, liberaal en konserwatief en almal sal kopskuiwe moet maak. Ons kan nie kla oor die bevolkingsaanwas, maar dan verontwaardig wees wanneer skole seksvoorligting deel van die kurrikulum maak en tieners toegang tot voorbehoedmiddels gee nie.

Terselfdertyd kan ons nie identiteitspolitiek as ’n slaanstok gebruik om wit mans soos Trump en die Australiese eerste minister, Scott Morrison, se omgewingsbeleide te kasty, maar swyg wanneer dit by lande soos China, Indië, Suid-Korea en Japan se koolstofvoetspoor kom nie.

En miskien is dit tyd vir Thunberg om wel ’n blaaskans te neem, al is dit net vir ’n rukkie. Ná Dinsdag se paneel kan sy gerus wees dat daar steeds tieners en jong mense is wat vir ’n beter toekoms sal baklei.

* Lewis is ’n senior verslaggewer van Beeld. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.