Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die Prog-invloed in SA loop diep
Leopold Scholtz

Die geskiedenis van die Progressiewe Party (PP), wat in hierdie dae 60 jaar gelede gestig is, en sy opvolgers is fassinerend. Nooit sou die party naby aan die regeringsmag kom nie, en tog was sy invloed teen die einde van die apartheidstyd groot.

Daar was een beslissende rede waarom die Progge voorbestem was om ’n opposisieparty te bly: Hy het nooit die harte van die Afrikaners, die meerderheid van die stemgeregtigdes, geroer nie. En dít moet aan twee faktore toegeskryf word.

Eerstens het die Nasionale Party (NP) onder die Afrikaners dieselfde rol as die ANC later onder swart mense gespeel. Die NP het die Afrikaners se bevrydingstryd in hul eie struggle gelei.

Die tweede, wat hiermee saamhang, is dat die Progge reg van die begin tot in 1994 ’n Éngelse party was. Die liberalisme wat hulle verkondig het, het nie slegs gelyke regte vir wit, bruin en swart – destyds ’n revolusionêre idee – bepleit nie, maar het neergesien op die Afrikaners se bevrydingstryd.

Dit was nie die soort liberalisme wat op die Europese vasteland vir die opkoms van die demokrasie en die regstaat gesorg het nie; dit was ’n verlengstuk van die Engelse imperialisme. En diep in hul harte het die Engelse liberaliste ’n minagting vir sowel Afrikaners as bruin en swart mense gehad.

En diep in hul harte het die Engelse liberaliste ’n minagting vir sowel Afrikaners as bruin en swart mense gehad.

Die Verenigde Koninkryk (meer bepaald Engeland) was die toppunt van die beskawing, en die Engelse taal en waardes was die norm waarna almal moes streef. Vandaar ook die PP se aanvanklike beleid van gekwalifiseerde stemreg – eers moes jy by implikasie jou potensiaal om Engels te word bewys; dán mog jy stem. (Ek weet dis kwaai kortpad gevat, maar ook nie heeltemal onwaar nie.)

Daar was heelparty Afrikaanse intellektuele wat ernstige bedenkinge oor die NP se apartheidsbeleid gehad het, veral teenoor bruin mense. Helaas het dr. Hendrik Verwoerd daardie afwykende geluide bruut platgestamp. Op voetsoolvlak het die meeste Afrikaners die NP se leiding, ondanks dalk ’n effense onrustigheid hier en daar, sonder meer aanvaar. Die NP was immers die Afrikaners se bevrydingsbeweging.

In opposisie het die PP mettertyd meer aanhang begin kry, hoofsaaklik ten koste van die destydse Verenigde Party, die Engelse aartskonserwatiewe.

Ook toe die HNP en KP in 1969 en 1982 respektiewelik van die NP weggebreek het, en toe die apartheidskip duidelik reguit op die rotse afgekoers het, kon die Progge nie hul Engelse beeld afskud nie.

In die loop van die jare het die Progge en hul boegbeeld, Helen Suzman, wel ’n paar dinge reggekry: In die parlement, waar vryheid van spraak nooit so erg soos daarbuite aan bande gelê is nie, kon hulle talle van die menseregtevergrype van die regering aan die kaak stel. En hulle kon die vlam van die liberale demokrasie en regstaat brandend hou, al was dit soms ook hoe flou.

Dus, toe die NP se oë in die tweede helfte van die 1980’s begin oopgaan en die praktiese onafdwingbaarheid van apartheid steeds duideliker word, kon die Progge ’n prinsipiële alternatief op die tafel neersit.

Omdat die NP en ANC mekaar begryplikerwys nie vertrou het nie, en omdat hulle albei vanuit ’n fundamenteel ondemokratiese agtergrond gekom het, het hulle die Prog-model van liberale demokrasie en regstaat gesamentlik aanvaar.

’n Mens kan lank en breed redeneer oor die vraag of die NP meer in die onderhandelings sou kon behaal het. Maar die breë Prog-model het die fondament van die skikking geword. Sedertdien het die ANC daardie model natuurlik toenemend by die venster uitgesmyt. Maar dit is weer ’n ander storie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Afrikaners  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.