Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die pyn, die lyding en dan die vreugde

Ek was altyd net ’n kuiergas, maar reeds as kind het ek my hart op die Karoo verloor. Dit was deel van my vormingsjare, en ek deel daarvan, en dis ’n liefde wat ek dekades later steeds koester.

Ek was 12 toe ek saam met Koos Vos op die Karoo-vlaktes tussen Carnarvon en Vanwyksvlei begin “boer’’ het. In dié tyd was die uitsig vir boere net so bleek soos vandag. Die aarde was net so swart geskroei soos nou, en die veld het eweneens soos ’n doodskleed gelyk. Die droogte tóé ook oënskynlik eindeloos. En met die intrap, kleintyd, het ek ’n gesonde respek vir water aangeleer.

Ek het dikwels saam met Koos Vos in die veld gery. Dit was nie meer vreemd om die lykies van lammertjies onder bossies te sien lê nie. Of swak lammertjies wat met hul laaste krag aan hul ma’s suig, stertswaaiend van op­gewondenheid. Maar hulle suig te­vergeefs. Die spene is leeg. Uiteindelik strompel die tak-maer beentjies weg, wankel en val. Koos Vos raak al hoe moedeloser. Ek voel sy verdriet, en lees die verlange na reën in sy oë.

Ná skool reis ek vir ’n paar jaar in die buiteland. Met my terugkeer klim ek op die Trans-Karoo – nou het my siel die ooptes nodig.

Maar Koos Vos is al só moedeloos oor beloftes van reën, hy lig nie eens sy oë na die hemele nie.

Maar op Koos Vos se Humansdam is dit somber, want sedert my vorige besoek drie jaar tevore het die reën weggebly en die boerdery is op die rand van ’n afgrond.

Een middag kom ons van die veld af. Die wolke trek ligtelik saam. Ek hou hulle goed dop. Spierwit wolke. Maar Koos Vos is al só moedeloos oor beloftes van reën, hy lig nie eens sy oë na die hemele nie.

Toe die grootmense later gaan skuinslê, dwaal ek op die werf rond. Die wolke raak al hoe donkerder. Skielik tref iets soos ’n klippie my voorkop. Ek staan vir ’n oomblik doodstil. Nóg ’n klippie. En toe begin dit drup. Die druppels wat teen my vel plons, is só groot, dit maak byna seer. Eers val dit net effe, maar meteens stort dit só erg, ek moet hardloop.

Dit reën kliphard. Dit reën die stilte van die droogte weg. Die wolke stamp kop. Dit donder. En agter die gordyne dans die blitse.

Nou is die huis wakker. Ons verwonder ons aan die reën-gordyn wat voor ons val.

Ná ’n uur bedaar dit. Almal haas hulle buitentoe, veld toe. Waar die geskroeide aarde vroeër die dag gelê het, blink nou oral riviertjies. Ons ry diepveld in, tot heel aan die anderkant van die plaas teen die voetheuwels van die Dwaalberg. Hier kyk ons uit oor die delta water wat al op die vlaktes gevorm het.

’n Skaduwee trek oor ons. Dis ’n trop diep-pienk flaminke wat in een van die panne neerstryk, asof om finaal aan te kondig die droogte is gebreek.

Maar nou is dit terug. Boere verloor hul grond, hul moed, hul lewenslus.

Al wat bly, is hoop. Dat die flaminke weer sal kom.

Meer oor:  Lise Beyers  |  Karoo  |  Herinneringe  |  Droogte  |  Plaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.