Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die rebelse minister wat aanhou droom

Vandeesweek het Derek Hanekom, minister van toerisme, ’n twiet uitgestuur wat ’n paar rimpelings deur die ANC gestuur het, dié keer oor die opspraakwekkende aantygings teen Ace Magashule. Hy gesels met Carla Lewis oor sy stroomop-streek, waarom hy steeds nie sy vertroue in die ANC verloor het nie en radikale idees op sy oudag.

Derek Hanekom

As Derek Hanekom, minister van toerisme, ’n karakter in die fliek was wat in ’n sterrestelsel ver, ver hiervandaan afgespeel het, sou hy sekerlik as “rebelse skuim” uitgekryt gewees het.

Net vandeesweek het hy weer ’n jakkals tussen die hoenders ingejaag, nadat hy ’n twiet in reaksie op ’n ANC-verklaring uitgestuur het.

“Hoe op aarde kry iemand wat een van Suid-Afrika se bekendste vryheidsvegters en openbare figure is, wie se loopbaan oor dekades heen strek, dit reg om dit alles te doen wanneer die publiek sy optrede onder ’n vergrootglas kan plaas? Duidelik is dit nonsens,” lui die party se verklaring oor die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh se boek, Gangster State.

Kort daarna het Hanekom die verklaring op Twitter aangehaal en daarop gereageer:

“Dit is nie by die nasionale uitvoerende komitee (NUK) bespreek nie. Ek is nie bereid om die aantygings teen Ace (Magashule) as leuens uit te maak nie, ook nie die meeste van my kollegas in die NUK nie.”

Tydens die Zuma-jare was Hanekom een van enkele stemme wat sy stem dik gemaak het teen die party se vergrype.

Hy het voor sy voorgestelde wantrouemosie in 2017 ANC-lede op Twitter aangemoedig om die idee van “stem saam met die opposisie” te laat vaar. “Ons moet teen staatskaping, reuse-plundery en korrupsie stem. Stem vir verandering,” het hy gesê.

’n Ander twiet van Hanekom het gelui: “Geheime stembrief. Geen vergelding omdat niemand sal weet hoe jy gestem het nie. Maar dié een moet ’n stem teen staatskaping wees!”

Sy uitlatings het hom nou nie juis baie gewild onder ’n sekere faksie in die ANC gemaak nie, en sy uitgesprokenheid het daartoe gelei dat hy sy pos as toerisme-minister in 2017 kwyt is.

Beledigings was daar baie: “’n telg van die witmonopoliekapitaliste”; “’n slegte hond wat afgerig is om swart velle te verskeur”; “’n wit Afrikaner-rassis”, en so meer.

Dit is nie by die nasionale uitvoerende komitee (NUK) bespreek nie. Ek is nie bereid om die aantygings teen Ace (Magashule) as leuens uit te maak nie, ook nie die meeste van my kollegas in die NUK nie.
Derek Hanekom

Zuma se seun, Edward, het in Augustus 2017 in ’n ope brief sy misnoeë oor Hanekom en Gordhan se verset teen sy pa sterk uitgespreek.

(Die gelykheidshof het verlede jaar bevind dat Edward se kommentaar oor die ministers haat-spraak was en hom beveel om skadevergoeding van R60 000 betaal. Die president se seun moes ook ’n onvoorwaardelike verskoning uitreik).

In Desember 2017 verskyn daar ’n glinstering van nuwe hoop op Suid-Afrika se politieke oosterkim toe Cyril Ramaphosa as die ANC se leier by die party se nasionale konferensie verkies word. In Februarie breek daar ’n nuwe daeraad aan: Zuma bedank en Ramaphosa word as president van Suid-Afrika ingehuldig. Kort daarna word Hanekom weer opgeroep om in Ramaphosa se kabinet te dien.

Rebel vir ’n rede

“Is jy nie maar ’n bietjie “rebel scum” nie,” vra ek die minister in ’n telefoniese onderhoud. Hy gesels uit Upington in die Noord-Kaap, waar hy vandeesweek op ’n toer was om potensiële toerismegeleenthede te identifiseer.

“Hoe durf jy my dit noem!?” is sy repliek, kamma-verontwaardig, maar sy stem dik van die lag.

Maar dan raak hy ernstig.

“Weet jy, ons is almal maar die resultaat van ’n verskeidenheid gebeurtenisse en invloede in ons lewens.”

Sy stroomop-streep, dié het hy by sy ma geërf.

“My ouers, veral my ma, het ’n groot invloed in my lewe gehad. Sy was ’n gedugte, vurige vrou. Klein van statuur, maar groot in gees en sy het ’n totale weersin in enige onreg gehad. As sy gesien het iemand word geboelie, het sy nie teruggestaan nie, al was hy twee keer so groot soos sy.

“Dis waarom ek seker so ’n bietjie van ’n ‘rebel’ is. Ek self haat boelies en ek het ook ’n weersin in onregverdigheid.

“My pa – wat Afrikaans was – was ’n lid van die NP, maar nadat die Natte in 1966 Distrik Ses beset en die inwoners met geweld uit die buurt gedryf het, het hy bedank. Dit het teen alles ingedruis waarin ons familie geglo het.

“Ek was van kleins af so ’n bietjie stroomop, maar ek was altyd maar deel van een of ander minderheidsgroep, ’n buitestander. Gr. 1 en gr. 2 is vir my ’n waas. Ek was die enigste Engelssprekende kind in ’n Duitse laerskool in Kaapstad en ek kon byna niks verstaan nie.”

As sy gesien het iemand word geboelie, het sy nie teruggestaan nie, al was hy twee keer so groot soos sy.
Derek Hanekom

Op hoërskool (die Hoërskool Jan van Riebeeck in Tuine) was hy weer ’n Katolieke Engelssprekende met ’n swaar Duitse aksent wanneer hy Afrikaans gepraat het.

In die laat 1960’s was die meeste kinders in Afrikaanse skole lidmate van een van die drie susterskerke, vertel hy.

“Ek het seker maar die gesag ook so ’n bietjie uitgedaag: My hare langer gedra as wat toegelaat is, rockmusiek geluister pleks van boeremusiek en wanneer jy pak slae gekry het, het jy daardie hale as ’n eerbewys gedra.”

Ná sy verpligte militêre diensplig het hy vir ’n regsgraad aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf, maar kort daarna opgeskop om eers vir ’n rukkie oorsee te reis en werk. Hy het sy reise befonds deur as ’n handearbeider op plase te werk en in Israel het hy die “utopiese sosialisme” van ’n kibboets beleef, iets wat hy met sy terugkeer in Suid-Afrika probeer herskep by sy en sy vrou se kleinhoewe buite Magaliesberg.

“Toe ek teruggekeer na Suid-Afrika, kon ek nie langer ignoreer wat in die land gebeur het nie.”

In 1976, tydens ’n vreedsame betoging by kerslig op die destydse John Vorster-plein, gebeur twee dinge wat sy lewe sou verander: Hy leer sy toekomstige vrou, Patricia Elizabeth Murray, ken en hy en Patricia word deur die veiligheidspolisie gearresteer.

Die ANC-jare

“In 1980 sluit ek en Trish aan by die ANC. Eers het ons mans probeer ontmoedig om hul verpligte militêre diensplig te doen. Later het ons inligting aan die ANC ‘gelek’ dat die Suid-Afrikaanse Weermag ’n staatsgreep in Mosambiek beplan en die regering wou omverwerp in samewerking met Renamo, die destydse Mosambiekse rebellegroep.”

Hanekom en sy vrou word in 1983 van hoogverraad aangekla, maar omdat van die dokumente wat as bewysstukke ingedien is sensitiewe inligting oor die beplande staatsgreep bevat het, was dit ook ’n diplomatieke kruitvat vir Suid-Afrika.

Die Hanekoms se regspan en die staatsaanklaer het ’n ooreenkoms buite die hof bereik: Die aanklagte van hoogverraad word verminder tot die besit en verspreiding van verbode literatuur, waarvoor die Hanekoms drie jaar tronkstraf uitgedien het. Daarna verhuis hulle na Zimbabwe, waar hulle in bannelingskap leef.

Toe Nelson Mandela in 1994 as president ingehuldig is, stel hy Hanekom as minister van landbou en landsake aan. Vir Hanekom was die toetrede tot die politiek heel toevallig en heeltemal onbeplan.

“Ek het nie eens gedink ek gaan parlement toe nie. Ek was van plan om ’n administratiewe pos in die nuwe bedeling te beklee. Ek het ook gedink dat ek vroeër al uit die politiek sou tree.”

25 jaar later het hy onder vyf presidente gedien en die moontlikheid van nog ’n termyn wink . . .

Derek Hanekom op besoek aan die Springbok-museum.

Boelies en burokrasie

As iemand wat beweer dat hy ’n “onwrikbare geloof in geregtigheid het en boelies verafsku”, hoe regverdig hy sy lidmaatskap van ’n party wie se optrede die afgelope vyf jaar reëlreg met sy lewensbeskouings gebots het?

Voormalige ANC-lede soos Makhosi Khoza het hul heil by burgerregte-organisasies soos Outa gaan soek (sy het intussen bedank). Hanekom self is deur die ANC verneder, belaster en geboelie. Selfs nou, onder Ramaphosa se ANC, blyk daar steeds ’n onwilligheid te wees om teen hooggeplaastes op te tree.

Hoekom ploeter hy steeds voort in die politieke vuilput?

“Die afgelope vyf jaar was van die moeilikste jare in my politieke loopbaan,” gee hy toe.

“Is ek moedeloos oor wat met Suid-Afrika ná 1994 gebeur het? Nee. Ek dink wel ons kon die afgelope 25 jaar meer bereik het.

“Net omdat ek teleurgesteld is, beteken nie dat ek hoop verloor het in die land nie. Dit beteken net dat ek steeds moet veg vir die ideale wat die ANC voor 1994 nagestreef het. Vir my beteken dit net weer dat my werk hier nog nie klaar is nie; dat ek weer aan die werk moet spring.

“Tydens die Zuma-era het ons bewus geword van ’n onheilspellende gekonkel, onder andere met die kernkragooreenkoms.

“Het ek geweet van die fynere details wat nou op die lappe kom? Nee. Maar ek het dinge gesien waaroor ek nie langer kon stilbly nie. Dis waarom ek met ’n veldtog van binne die party begin het om Zuma uit die kussings te lig.

“Ek kon dit nie as ’n buitestander doen nie – dit moes uit die hart van die nasionale uitvoerende komitee kom. Dit was ’n stryd om die leierskap van die land en die beste manier hoe ek dit kon beveg, was van binne die party.”

Radikalisme, nie populisme

Daar bestaan ’n uitdrukking wat lui: As jy nie ’n liberalis is op 25 nie, het jy nie ’n hart nie. As jy nie konserwatief is teen 35 nie, het jy nie verstand nie.

Verskil sy politieke oortuigings nou, as 66-jarige, van dié van daardie 25-jarige takhaar?

“Ek stem glad nie saam met daardie stelling nie,” sê hy.

“Ek was in elk geval nie ’n liberaal nie, meer van ’n radikale sosialis. En ’n groot hippy. Ek het in ’n kombi gebly saam met my hond en ek was lief vir Bob Dylan se musiek. Ek is steeds.

Carla Lewis

“Ek het ook ná skool op ’n kibboets in Israel gewerk en op ’n manier het die ervaring bygedra tot my lewensbeskouing van ’n groen, volhoubare utopie, waar geboer word met ’n sosiale gewete en vir ’n groter doel as net jouself.

“En alhoewel ek nie meer ’n fundamentele sosialis is nie, koester ek steeds radikale ideale en drome oor gelykheid. In my hart is ek nog ’n radikaal.

“Ek droom van ’n nierassige samelewing, waar mense nie deur die kleur van hul vel gedefinieer word nie. Waar ongelykheid heeltemal uitgeroei word, waar daar nie teen mense op grond van hul geslag en seksuele oriëntasie gediskrimineer word nie. Dié ideale kort radikale ingryping om mense se lewens en uitkyk te verander.”

Hy waarsku dat ware radikalisme nie met populisme verwar moet word nie. “Daar is groepe en mense wat hul idees en beleid as ‘radikaal’ beskryf, maar die kern daarvan is populisme.

“As jy kyk na die ANC se nasionale ontwikkelingsplan, is dit nie ’n plan wat sosialisme aanhang nie, maar wel gelykheid. Al dié ‘radikale ideale’ word daarin saamgevat. Dis ’n stryd wat ons steeds moet veg om enige vorm van diskriminasie, rassisme en seksisme teen te staan.”

Wat is sy planne vir die komende vyf jaar? Is hy steeds van plan om ’n ANC-lid te bly?

“Ek weet nie eens of ek oor agt weke, ná die verkiesing, nog ’n werk gaan hê nie.

“Dit bly die president se voorreg om te kies wie in sy kabinet dien. En as ek eerlik moet wees, ek het die afgelope paar maande gewroeg met die gedagte of dit nie tyd vir my is om uit die politiek te tree nie. Reis bly een van my groot liefdes. Ek wil reis as ’n toeris, nie as die toerisme-minister nie. Ek is immers 66 jaar oud.

“Maar Suid-Afrika het Rama-phosa nodig, en jy gaan verbaas wees oor wie in die komende weke hul gewig agter hom ingooi. Ek is nie nou hier besig met verkiesingspraatjies nie. As Rama-phosa my vra om nog ’n termyn onder hom te dien, sal ek dit met plesier doen.”

  • Lewis is ’n senior joernalis van Beeld.
Meer oor:  Derek Hanekom  |  Carla Lewis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.