Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die regte sin om Desember mee te benader
Annemarie van der Walt

Dié tyd van die jaar behoort die vakansiegees reeds so ’n bietjie vatplek te kry, maar steeds hou almal asem op totdat die regerende party se groot magspartytjie binnekort begin en afspeel. Of ons daarna dieper asem sal kan haal, bly egter ’n ope vraag.

Intussen karring ons gewone siele aan: Hier aan ’t huis word alle e-nuusbriewe wat goedkoop vlugte na eksotiese eilande aanbied, gekanselleer, want versoeking is die duiwel se tweede oorkussing; probeer ek die installasievoorskrifte van ’n waterpomp ontwar, en is ek en die studentekind al onder mekaar se voete.

Dis toe ons in alle erns bespreek hoe ’n mens die hond se hare – waarvan tans omtrent drie honde per dag uitgeborsel word – kan gebruik om mee te spin dat ek besef ons is hopeloos en oorhoops.

Kóm, beduie ek, en ons bedinges my spaarplan deur die motor vol brandstof te gooi en wyk uit na ’n kuierplek in ’n buurdorp waar die Laeveldse son van mik na mik skuif in die drie massiewe koraalbome waaronder die tafels staan.

Presies wat my die storie laat onthou het wat ek toe oorvertel terwyl ons van die sleur ontsnap, kan ek nie sê nie. Seker maar die gevoel dat ’n mens hierdie afwagting van ’n nuwe politieke kaptein moet besweer; moet waak teen die diep en donker gat wat voor ons voete wil oopval.

Die skrywer was blykbaar lief daarvoor om vroegdag reeds seker te maak die plaaslike kroeë bedien nog wat elke gister bedien is.

Die storie gaan oor ’n tyd toe vervolgverhale nog in koerante gepubliseer is – nie oor korrupsie en roof en moord nie, maar ’n rêrige-êrige storie met helde en heldinne. Dit was in die saliger Vaderland, het Chris Barnard destyds vertel. Dalk het hy die naam genoem van die skrywer van die vervolgverhaal, maar dis nou vergete (dalk is daar ou koerant-strydrosse wat sal kan onthou).

Dat dit ’n bedrewe skrywer was, spreek daaruit dat die hoofstukke soms net-net die spertyd gehaal het, maar áltyd met ’n cliffhanger van formaat. Wat gedoen wou wees, aangesien die skrywer blykbaar lief was daarvoor om vroegdag reeds seker te maak die plaaslike kroeë bedien nog wat elke gister bedien is.

Een dag was dit toe so, was Chris se vertelling, en kenmerkend het slegs sy skuddende skouers verklap hy lag nou lekker, dat die ou die held toe in een hengse gat inskryf. ’n Diep gat; een met gladde wande en absoluut geen tou of leer of gedoente waarmee hy dié gat kan uit nie.

Die spanning loop hoog, nie net onder die lesers nie, maar ook in die koerantkantoor die volgende dag, want die skrywer is toe so onder die prop hy kan nie eens met een vinger tik nie, wat nog te sê van ’n plan bedink om die held uit die gat te kry. Talle dreigemente en ’n lawery later en op spertyd se nippertjie kry hy toe darem sy sit voor die tikmasjien, brom-brom oor hy nie verstaan wat súkkel almal dan so met die storielyn nie.

En dis dié sin waarmee hy toe wegtrek en waarmee ons almal Desember seker moet benader: “Met een allemintige sprong . . .”!

Meer oor:  Chris Barnard  |  Menings  |  Desember  |  Kersverhaal  |  Vervolgverhale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.