Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié riglyne kan dalk vlak van diskoers verbeter
Jan-Jan Joubert

’n Onverdiende genade waarvoor ek altyd dankbaar sal wees, is die groot geeste wat hulle onverwags aangemeld het om as rigters vir my loopbaan te dien.

Dit is ’n baie verrykende toevoeging tot ’n mens se arsenaal, hoewel baie mense steeds dink (en hulle is heel moontlik reg) dat jou beste pogings ’n klomp onsin is.

En dis juis waaroor ek dit vandag het, want een van daardie rigters, wyle prof. Jakes Gerwel, het ons vele gesprekke telkens met dieselfde versugting volvoer: Kan die debat en diskoers in Afrikaans nie maar bo die huidige banale vlak uitstyg nie? En wat kan mens doen om daartoe mee te help?

Ongelukkig het daardie droom van hom onvervuld gebly. En sedert hy in 2012 oorlede is, sou min mense wou aanvoer dat die vlak van die diskoers in Afrikaans verbeter het.

Die vervlakking van diskoers wêreldwyd is algemeen, maar die wêreld is my woning nie – Afrikaans wel, so kom ons fokus hierop.

One must disagree without being disagreeable.
IVP-stigter, Mangosuthu Buthelezi

Daar is ’n paar riglyne vir debat wat die vlak van diskoers baie sal verbeter. Die eerste is ’n sêding van die IVP-stigter, Mangosuthu Buthelezi: “One must disagree without being disagreeable”.

Jy moet dus te alle tye in jou taal en toon ordentlik bly, veral wanneer jy verskil. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die oudrektor van die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Andreas van Wyk, wat dikwels rigtend welkome terugvoer gee op my skryfsels. Altyd is sy kritiek sterk, en ’n mens leer daaruit, veral omdat dit so beskaafd en ironies gedoen word – nooit nydig nie.

’n Tweede goeie reël is om altyd te aanvaar dat rubriekskrywers baie dinkwerk en tyd in hul skrywes insit. Dis ’n voorreg om vir ’n koerant soos Die Burger te skryf, en almal doen die beste wat hulle kan.

Daarom is dit altyd goed om ’n ander se skryfwerk met respek of andersins met mededoë te hanteer, veral as jy meen jy sou dit beter kon doen. Skryf eerder ’n feitelik gebaseerde alternatief as ’n skunnige belediging.

’n Derde voorstel is om ’n rubriek of meningsartikel te sien as die begin van die debat, nie die einde daarvan nie. Niemand wil vir jou voorskryf nie.

En as ’n mens van ’n standpunt verskil, kan jy nogal baie daaruit leer.

En as ’n mens van ’n standpunt verskil, kan jy nogal baie daaruit leer. Jy hoef nie altyd aggressief af te skiet as jy verskil nie. Om nooit van mening te verander nie, is baie onintelligent. Twyfel is ’n onderskatte deug – solank dit nie omsit in besluiteloosheid nie!

’n Voorbeeld vanjaar vir my is hoeveel ek geleer het uit die beskaafde kritiek op my onlangse artikel ter ondersteuning van die US, sy rektor en kanselier. Die tyd en die dokumente kan die ander kant reg bewys, of nie.

Vierdens moet ’n mens nie ’n ander se ervaringsveld verwoord in jou kritiek nie. Tot my verrassing moes ek al vanjaar my mening oor taalbeleid, my destydse universiteitslewe, en my kennis van grondwette deur ander verwoord sien – heel misgetas, telkens. Laat elkeen maar vir homself praat.

Eintlik vra ’n mens maar net vir beskaafde debat, ook op sosiale media – ’n tuiste in eie taal, waar ons in liefde leer by mekaar.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Diskoers  |  Debat  |  Rubrieke  |  Riglyne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.