Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die seer van ’n hart wat alleen klop in jou bors
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Uit watter newels van die nag die sin opdaag waarmee ek wakker word, is ’n geheimenis. Ek wou nog omdraai en verder slaap, maar kon die presiese woordorde van die sin nie onthou nie en staan toe op om die boek met die vergeelde bladsye te gaan haal waarin aanhalings neergeskryf word teen die vergeet.

“No one ever told me that grief felt so like fear. I am not afraid, but the sensation is like being­ afraid. The same fluttering in the stomach, the same restlessness . . .” skryf C.S. Lewis in A Grief Observed.

Waarom sou ek die fladdering op die krop van my maag voel? En vir wat sit daar so ’n bangerige huil in die kuiltjie van my keel?

Dalk is dit slegs maar deel van die wêreld se kollektiewe rou oor dit wat was en skynbaar nooit weer dieselfde sal wees nie, maak ek myself wys.

Maar toe die koffieblik uit my klam handpalms gly en die moer oor die vloer gestrooi lê, tjank ek. Want ek weet ek lieg vir myself.

Daar is geen meer verwagting wanneer die Augustuswinde aan die voordeur pluk nie.

Dit ís nie ’n hallo-ek-is-hier-klop nie. Leer af, dig N.P. Van Wyk Louw: “Moenie luister. / Moenie wag. Moet niks verwag nie. / Leer die verwagting af. Leer die wág af. / Leer áf om te luister. Leer af.”

En: “Ek het jou voetstap leer vergeet al / of: leer nie-onthou-nie – weet ek nie.”

Die verlies van ’n verhouding is maar net nog ’n syfertjie tussen al die morbiede statistieke in hierdie pandemiese tyd.

Die verlies van ’n verhouding is maar net nog ’n syfertjie tussen al die morbiede statistieke in hierdie pandemiese tyd.

Maar die vet weet, as ek ooit weer die sinspeling “liefde in die tyd van Covid-19” op Gabriel García Márquez se boek moet lees, gebruik ek daardie Love in the Time of Cholera as ’n verdomde deurstopper.

Die hond snuif aan die koffiemoer op die vloer en kry ’n niesaanval. En dit laat my lag asof dit die snaaksste ding is wat al op die ganse aarde gebeur het. Was ek al ooit so dankbaar vir ’n vroegoggendse klein waansin?

Dit is ieder geval die simpel goed wat ’n mens onthou en afskeid van moet neem wanneer jou hart opnuut alleen klop. Maar in skreiende eerlikheid is dit meestal die verwagting wat jy van jouself gehad het.

Die hond druk haar koffiesnoet in my nek toe ek buk om ’n lepel koffie te red om die dag mee te begin.

Stap gaan ons stap, belowe ek haar, tot daar waar die eskarp wegval voor die voete, en op pad soontoe gaan die wind ons wild en wakker waai, en ek gaan die skrywer Sandra Cisneros se sin onthou uit haar boek The House on Mango Street: “When I am too sad and too skinny to keep keeping, (. . .) then it is I look at trees.”

En so gou ek weer by ’n boekwinkel kom, bestel ek Cisneros se ander boek Woman Hollering Creek. Want dit is ’n rou, waansinnige mooi titel.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Vrees  |  Verlies  |  Hartseer  |  Emosies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.