Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die seisoen van desperaatheid en omkopery

Die hooggeregshofbevel die afgelope Vrydag wat adv. Shaun Abrahams basies as nasionale direkteur van openbare vervolgings verwyder, het die tempo van faksionalisme, angs, stem-werwery en desperaatheid in die ANC se leierskapstryd tot ongekende vlakke gevoer.

Llewellyn Prince

Die leierskapstryd is reeds in sy hoogste versnelling soos die verskillende presidentskandidate vir oulaas nog verwoed steun sal probeer werf voor die ANC se nasionale konferensie Saterdag amptelik by Nasrec, Johannesburg, afskop.

Wat die uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof egter so interessant maak, is nie net die feit dat dit Abrahams verwyder as pres. Jacob Zuma se hoofbeskermer in sy stryd om nie tereg te staan op aanklagte teen hom nie, maar ook dat dit nou in adj.pres. Cyril Ramaphosa se hande is om Abrahams se opvolger aan te stel omdat Zuma self te gekompromitteerd is.

Dit moet nie vergeet word nie dat die adjunkpresident dr. Nko­sazana Dlamini-Zuma, Zuma se eksvrou wat hy as die volgende ANC-president steun en wat hom verder teen die aanklagte kan beskerm, se vernaamste teenstaander in die ANC-presidentstryd is nie.

Wat dinge verder vir Zuma en die Dlamini-Zuma-kamp voor die konferensie kan frustreer, is dat dieselfde hof later vandeesweek uitspraak sal lewer in Zuma se aansoek om adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, se aanbeveling dat hoofregter Mogoeng Mogoeng ’n regter moet aanstel om die geregtelike kommissie van ondersoek na staatska­ping te lei tersyde te laat stel.

Omkopery kan die uitslag van die ANC se leierskapstryd bepaal.

Soos die hof Vrydag, het Madonsela met haar aanbeveling ook die mag uit Zuma se hande gehaal omdat hy self sentraal in bewerings van staatskaping staan.

Wat ná Vrydag se hofuitspraak opmerklik was, is dat die silly season (waar politici in aanloop tot verkiesingskonferensies bisarre goed ter ondersteuning van hul voorkeur-presidentskandidaat kwytraak) tot nuwe hoogtepunte (of is dit eerder laagtepunte?) gevoer is deur veral Zuma se ondersteuners.

Só het Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, die uitspraak Sondag by die Vrystaatse ANC-konferensie as “ongehoord” beskryf.

Umkhonto we­Sizwe se Militêre Veterane-vereniging het gesê daar is “geen twyfel” dat hierdie uitspraak in “beide sy inhoud en tydsberekening” bedoel is om die kandidatuur van Ramaphosa te bevoordeel nie.

En die ANC-vroueliga het prontuit gesê die regters het gefouteer.

Wat hieruit duidelik is, is dat Zuma en Dlamini-Zuma se ondersteuners uit desperaatheid nie sal huiwer om hofuitsprake soos hierdie te misbruik om afgevaardigdes by die nasionale konferensie te probeer oorhaal om vir hul kandidaat te stem nie – suiwer net sodat hulle aan politieke mag en toegang tot staatskoffers kan klou.

Dit is daarom ’n gegewe dat dié jongste hofuitspraak die vlak van desperaatheid, angs en stemwerwing in aanloop tot die nasionale konferensie nóg verder sal opklits.

Dit kan beslis ook ANC-vrese ’n werklikheid maak dat geld of omkopery die uitslag van sy leierskapstryd kan bepaal.

  • Prince is parlementêre beriggewer van Netwerk24.
Meer oor:  Shaun Abrahams  |  Anc  |  Angs  |  Leierskapkonferensie  |  Leierskapstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.