Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié sensuur was ’n dwase besluit
Leopold Scholtz

Die herrie oor MultiChoice se “verbod” dat ’n video van Steve Hofmeyr vir die prestigeryke Ghoema-prys oorweeg mag word, sal nie gou gaan lê nie. Met reg, want dit dwing ons om opnuut te kyk na sake soos spraakvryheid en politieke korrektheid.

Verskeie oorwegings is belangrik.

Ten eerste is die vryheid van spraak in beginsel ononderhandelbaar. Dit word net beperk deur art. 16(2) van die Grondwet, wat oorlogspropaganda, die aanhitsing van geweld en haatspraak uitsluit.

Tweedens: ’n Volwasse liberale demokrasie hou in dat elkeen sy eie standpunt mag hê. Dis jóú standpunt, wat jy self op die spreekwoordelike markplein van idees moet gaan verdedig.

Jou régte, wat die Grondwet aan jou verleen, is nie net jóúne nie; dis álmal s’n. As jóú regte aangetas word, word álmal se regte – ook myne en joune – aangetas. In ’n demokrasie moet jy dus ook mense se reg op standpunte wat jou walg, verdedig.

’n Derde oorweging is die vraag of dit verstándig is om politiek by die kunste in te sleep. Om kuns vir politieke propaganda in te span is tipies iets wat in ’n totalitêre diktatuur tuishoort, nie in ’n demokrasie nie.

Is dit kommersieel verstandig om van jou kliënte te vervreem – amper soos ’n verkoopsman van skoene wat aan mense sê hulle het lelike voete?

 Is dit kommersieel verstandig om ’n deel van jou kliënte te vervreem – amper soos ’n verkoopsman van skoene wat aan mense sê hulle het lelike voete? Bowendien moet ’n kunstenaar wat ’n lewe uit sy kuns maak in ag neem dat sy kuns geniet word deur mense van uiteenlopende politieke oortuigings.

Kom ons vat die punte nou saam. Steve Hofmeyr het die reg om sy politieke standpunte te verkondig, ook in sy kuns. Of hy uit sy eie oogpunt verstandig optree, is ’n ope vraag – maar hy sal self die finansiële pyn moet vat as hy mense van hom wegdryf.

Daarteenoor staan MultiChoice se sensuur, wat in beginsel ontoelaatbaar is. Dit beteken dat ’n maatskappy aan ’n kunstenaar voorskryf welke politieke idees hy mag verkondig en welke juis nié. Daarmee oortree MultiChoice – en die Ghoemas se raad van trustees – die gees van die demokrasie. Dis hoogs ironies dat die sensuur teen Hofmeyr nie afkomstig is van die regerende ANC nie, maar van ’n maatskappy wat uit die Naspers-familie kom.

Laat hiéroor geen misverstand bestaan nie: Ek is geen besondere aanhanger van Steve Hofmeyr nie.

Tim du Plessis het verlede Sondag in Rapport tereg aangedui dat MultiChoice hiermee ’n oneerbare tradisie uit die apartheidstyd voortsit, toe politieke sensuur ook gepleeg is teen idees wat onwelgevallig was.

Sedertdien, so het ’n mens gedink, het ons darem al ’n ent verder gevorder. Ek weet dat die mense wat destyds die grense van die liberale demokrasie oortree het, dit met die voordeel van agternakennis nie weer sou doen nie – en hier gebeur dit jou wrintiewaar weer.

Laat hiéroor geen misverstand bestaan nie: Ek is geen besondere aanhanger van Steve Hofmeyr nie. Na my beskeie mening doen hy sy eie saak deur sy oordrewe felheid meer skade aan as wat hy dit bevorder.

Aan die ander kant van die politieke spektrum ken ek kommentators (kom ons verswyg hul name maar) wat ook nie ’n argument koel, logies en kalm kan uiteensit nie, wat altyd die oortreffende trap moet gebruik. Ook húlle doen hul eie saak skade aan.

Hofmeyr sou goed doen deur minder emosioneel en meer rasioneel te wees.

Maar die Ghoema-raad van trustees het Hofmeyr by ’n deel van die publiek van wie hy finansieel afhanklik is, ’n yslike hupstoot gegee. Ek sou reken Hofmeyr het ’n gat in die lug gespring toe hy hoor wat gebeur.

Blykbaar kan ’n mens die Ghoema-raad ook nie van rasionaliteit verdink nie.

Leopold Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Leopold Scholtz  |  Ghoemas  |  Dwase Besluit.  |  Sensuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.