Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die skedel se inhoud is belangriker as die dop

André Tsjaikowski (1935-1982) is in Warskou, Pole, gebore.

Klein André het van kleins af gewys hy kán klavier speel. Later van jare het hy die Joodse ghetto’s in Pole vir Engeland verruil om in Oxford naam as ’n pianis te maak.

Heinz Mödler

Tsjaikowski se dagtaak was om vir die Royal Shakespeare Company tydens hul opvoerings klavier te speel. Van al Shakespeare se werke was Hamlet sy gunsteling.

Op 46-jarige ouderdom sterf Tsjaikowski weens die komplikasies van kolonkarsinoom. Sy wens was dat hulle sy kop van sy lyf moet verwyder, die vel afsny, die brein en ander organe verwyder, en die benige skedel afkook en blink poets.

Sy skedel moet dan aan die Royal Shakespeare Company geskenk word, waar akteurs dit in elke opvoering van Hamlet as Yorick se skedel moet gebruik.

Vir jare het Tsjaikowski na Yorick gekyk, en elke keer wanneer Hamlet Jorick se skedel in die begraafplaas optel en sê “Alas, poor Yorick! I knew him, Horatio, a fellow of infinite jest, of most excellent fancy”, het hy geweet, binnekort is dit sy skedel in die akteur se hande.

Aanvanklik was sommige akteurs skrikkerig om Tsjaikowski se skedel op die verhoog te gebruik.

Ander het weer gedink dit maak die toneelstuk vir die gehoor ’n meer intense ervaring. Die skedel is wel gebruik.

Tsjaikowski was nie die eerste persoon met ’n dringende begeerte om ná hul afsterwe Jorick te wees nie. Maar nie almal is so gelukkig soos hy nie.

Jonathan Hartman is ’n akteur wat sy hele lewe daarvan gedroom het om vir die Royal Shakespeare Company Hamlet te speel. Hulle het hom nooit ’n speelkans gegee nie. Al wat nog vir hom oorgebly het, was om sy skedel ná sy afsterwe aan hulle te bemaak sodat dit as Jorick gebruik kan word. Ook dié gebaar het hulle geweier.

Die inhoud van die skedel is gewoonlik belangriker as die dop. Veral as jy slim is. Soos Albert Einstein. Hy het nooit gehou van die aansien en ophef wat mense oor hom gemaak het nie.

Einstein het homself as ’n normale, intelligente mens beskou, met sy intellek wat maar net een faset van sy totale bestaan uitgemaak het.

Hy het besef mense gaan ná sy dood sy brein fynkam op soek na anatomiese wenke wat kan verduidelik waarom hy en niemand anders nie E=mc² geformuleer het. In sy testament het hy uitdruklik geweier dat patoloë sy brein moet ontleed.

Thomas het ’n klomp foto’s van Einstein se brein geneem, dit in honderde blokkies opgesnipper en in formalien gedompel.

Thomas Harvey, sy patoloog, het nie geluister nie. Hy het Einstein se 76-jarige brein as’t ware gesteel. Later van tyd het hy skaamteloos beweer dat Einstein se seun, Hans, wel toestemming verleen het.

Thomas het ’n klomp foto’s van Einstein se brein geneem, dit in honderde blokkies opgesnipper en in formalien gedompel.

Later het hy en sy kollegas naarstiglik onder die mikroskoop begin soek na die heilige graal van intelligensie in Einstein se dooie brein.

Anatomies gesproke het hulle niks spesiaal gevind nie.

Hulle was te laat. Einstein se intelligensie het saam met sy ander spesiale eienskappe, soos nederigheid, sagmoedigheid en veral, eerlikheid, op 18 April 1955 die aarde verlaat.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.