Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die skermgreep lê só op jou aandag beslag

Dit is goed dat nuwe woorde vir nuwe dinge gemaak word. Sodat ons beter kan beskryf wat ons weet, dink en voel. Só verwys “skermgreep” na die prentjie wat op die skerm van jou slimfoon of rekenaar vertoon word.

Wilhelm Jordaan

Vir baie mense het dit lewensbelangrik geword om deurentyd aandag te gee aan die “boodskappe” in skermgrepe. By wyse van spreke kan mans nie die seine of vibrasies in hul broeksakke (dis nou selfoonvibrasies) weerstaan nie, net soos vroue nie die seine of vibrasies in hul handsakke kan weerstaan nie.

Die skermgrepe bevat dalk iets wat nóú gesien en geweet moet word, nie later nie. En die voorbeelde is talryk: Studente bekyk skermgrepe eerder as om na hul dosent te luister; kinders doen dit om ouers se gesanik uit te doof; mense doen dit met mekaar om mekaar uit te doof. Ja, weliswaar deel ons graag skermgrepe met vriende en geliefdes, maar tog sukkel ons om mekaar in die oë te kyk en te gesels oor dit wat saak maak buite die bestek van die skermgreep.

Om te verstaan wat met ons gebeur deur die skermgreep se inperkende elektroniese ruimte, is dit nuttig om enkele bybetekenisse van die woordstuk “greep” te bedink:

Greep beteken “brokstuk” – ’n deeltjie van die geheel, ’n klein stukkie geheue sonder perspektief. Greep verwys ook na die “houvas” wat iets op jou het en waaruit jy nie kan ontsnap nie, soos ’n rofstoeier se knellende greep op sy opponent. Alles saam verwys “skermgreep” dan na dit wat so beslag op jou aandag en bewussyn lê dat dit baie ander dinge uitsluit.

Om ’n breër wêreldprentjie te hê, beteken nie om ’n hovaardige beterweter te wees nie. Dit beteken om verby die skermgreep lewensgevoelig te leef, aangevuur deur ’n tergende onrus dat jou verstaan van lewensdinge onvolledig en onvoltooid is.

Sonder twyfel is die inligting in skermgrepe waardevol. Die gevaar is dat jy jouself kondisioneer om die skermgreep te beleef as die bepalende “afmetings” van die werklikheid. Die resultaat is ’n klein wêreldprentjie bestaande uit ’n losse sameflansing van skermgrepies. Jy verloor ’n geheelperspektief wat algaande kan uitloop op ontvlugting én selfmisleiding.

Ontvlugting kweek arrogansie. Van die soort wat jou – sonder ’n breë insig in menswees en uiteenlopende lewenstoedragte – met bravade laat sê: “Ek weet wat ek nodig het en ek weet wat is reg en verkeerd.”

Ontvlugting plavei ook die pad na klein eilandjies van geluksaligheid – die opeenstapeling van kortstondige vreugdetjies by nagtelike uithangplekkies en naweek-avontuurtjies. En werk is net nodig om dit te bekostig.

Jy herken dié soort skermgreepmense aan die vermoeidheid wat intree as hulle ’n verwikkelde paragraaf in ’n koerant of boek moet lees, of met aandag na iemand moet luister. Soos die beertjie Winnie the Pooh het hulle ’n klein breintjie en lang woorde maak hulle moeg.

Om ’n breër wêreldprentjie te hê, beteken nie om ’n hovaardige beterweter te wees nie. Dit beteken om verby die skermgreep lewensgevoelig te leef, aangevuur deur ’n tergende onrus dat jou verstaan van lewensdinge onvolledig en onvoltooid is.

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Rekenaar  |  Slimfoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.