Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die slang is nou uit die mandjie
Johann Maarman

Die afgelope nege jaar was die ANC soos ’n Indiese bakkopslang wat gehipnotiseer is deur sy baas. Elke keer wanneer Jacob Zuma op sy politieke fluit gespeel het, was dit amper asof hulle soos ’n begoëlde slang was wat geweet het wanneer hulle hul lyf moet uitwurm en wanneer hulle hul lyf terug moet wurm in die rietmandjie.

Nie net het Zuma die ANC gehipnotiseer nie, maar ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sy kabinet, sy intelligensie-apparatsjiks, asook sy gehoor­same sikofante wat in die staatsdiens onder die dekmantel van regstellende aksie ontplooi is.

Maar nou is die slang uit die mandjie en hap na die hakskene van ’n politiek kreupel Zuma. Die NVG staan gereed om hom te vervolg. Die intelligensie- apparatus wat hy so suksesvol teen sy teenstanders gebruik het, se politieke kanonne is nou op hom en mense soos die Guptas gerig wat voorste kripvreters was by die staatsbak. Hulle kan binnekort inwoners word van die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria.

Binne die ANC word Zuma nou soos ’n melaatse hanteer. Sy voorste hosanna-sangers word die Petrus wat nie sal huiwer om hom drie maal te verraai nie.

Toe die hardkoppige Zuma die afgelope week viervoet vasgesteek het en eers vir redes gevra het hoekom hy moes bedank, was die skrif al aan die muur.

Die blote feit dat hy gevoel het dat hy ingekerker word deur Cyril Ramaphosa en die nuwe heersers in Luthuli-huis het gewys watter desperate én bang man Zuma eintlik was.

Hy was soos ’n springhaas in ’n skietlamp. Verbouereerd en versteen.

Sy lompe verweer dat hy geen legitieme redes gegee is hoekom hy moet bedank nie, was om die minste te sê lagwekkend. Was dit nie so ernstig nie, het ek gedink Zuma maak ’n grap toe hy sê hy was nooit deel van die Polokwane-bende wat Mbeki gefusilleer het nie.

Hy was stormdronk van mag en wou Mbeki ten alle koste verneder.

Toe hy vir Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas in die nag afgedank het, was daar geen kwaak van hom wat die beweegredes was vir sy besluit nie.

Toe hy Nhlanhla Nene as finansminister onseremonieel uit sy pos verwyder het en hom met ’n imbongi in Des van Rooyen vervang het, het hy die lompe verskoning gebruik dat Nene hoof sou word van die Brics-bank.

Ons almal weet nou dat ’n blote versinsel was en dat Zuma vir die land gelieg het. Zuma is ’n politieke skorriemorrie en het hierdie land, wat broodnodige sosiale kohesie nodig gehad het, in stukke opgekap en verdeel.

Hy het soveel haat en nyd veroorsaak dat mense oor kleurgrense verder gepolariseer is. Die wit-swart-verdeling en die oor-en-weer-verwyte het net skerper en gevaarliker onder sy bewind geword.

Dit was op Zuma se wagbeurt dat die ANC so vermurwe het, maar ná Vrydagaand weet ek dat die ANC weer ’n leidsman het wat die brokstukke kan optel.

’n Mens kan nie iemand beoordeel op grond van een toespraak nie. In die politiek is daar die ongeskrewe reël dat die rapport oor nuwe leiers eers ná 100 dae uitgereik word.

Maar pres. Cyril Ramaphosa (lekker om hom president te noem!) se vertoning Vrydagaand was ’n teksboekvoorbeeld van hoe ’n staatsman moet optree. Hy het hoop gebring in ’n tyd van wanhoop. Hy het die pendulum begin wegswaai van ANC-belang na Suid-Afrikaanse belang.

As ons sy toespraak kan opsom: Die tyd vir roofdier-politiek en kripvreters is verby.Dankie tog, ’n mens wou sommer agterna ’n ligte vuisie in die lug gepomp het en “amandla” geskree het.

  • Johann Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Johann Maarman  |  Jacob Zuma  |  Politiek  |  Anc  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.