Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die slapende honde is wakker

Die waarheid is onomwonde dié fundamentele element in die joernalistiek. In die kontrak tussen die versender en die ontvanger is die waarheid uber alles.

Johann Maarman

Daarom is die waarheid somtyds traumaties, gekompliseerd, snydend, pynlik, maar die waarheid is ook paradoksaal. Dit maak vry en dit is juis in daai vryheid dat ’n terapeutiese effek ook opgesluit is.

Die debat oor die opspraakwekkende boek Die seuns van Bird Island, wat deur die oudpolisieman Mark Minnie en die voormalige joernalis Chris Steyn geskryf is, woed nog. Hierin beweer wyle Minnie en Steyn dat Magnus Malan, ’n voormalige minister van verdediging, John Wiley, ’n voormalige minister van omgewingsake, Dave Allen, ’n Baaise sakeman, en nog ’n ongeïdentifiseerde minister uit die PW Botha-kabinet glo in die 1980’s in Port Elizabeth betrokke was by ’n pedofielnetwerk wat jong bruin seuns geteiken het.

Hierdie boek het ou wonde oopgekrap en die spreekwoordelike slapende honde wakker gemaak. Dit het Suid-Afrika weer in twee gedeel. Die een pool het die oudminister van verdediging verguis vir die klaarblyklik afskuwelike dade en die mantel van ’n walglike pedofiel is om die ontslape minister se skouers gehang.

Die teenpool – die sogenaamde binnekring – het hulle weer vierkant agter die oudgeneraal geskaar en dit as blote versinsels afgemaak. Malan is beskryf as ’n man van onkreukbare karakter en selfs sy oudkollegas het dit as ’n pot strooi afgemaak. Daar was selfs geluide dat die familie van die oudgeneraal moet prosedeer, want die feite – ’n belangrike onderbou in die soeke na die waarheid – ontbreek.

Dit is nie ’n kuns om mense wat dood is te beswadder nie. Dis so maklik soos ABC. Die dooies kan in ieder geval nie praat nie (om Adam Small te parafraseer). Daar is dus nie ’n maklike pad tussen persepsie en waarheid nie. Dit is so dat ’n sekere mnr. X na vore gekom het en beweer het dat hy een van die slagoffers van die Malan-ekskursie was. Mnr. X se openbaring het maar min gedoen om die pro-Malan-ondersteuners te streel.

Kom ons loop net ’n bietjie soos ou jakkals terug op die spore. Niemand het kwansuis geweet van Vlakplaas nie. Dit was voorgehou as ’n militêre plaas waar askari’s bloot net gebreinspoel is.

Kom ons loop net ’n bietjie soos ou jakkals terug op die spore. Niemand het kwansuis geweet van Vlakplaas nie. Dit was voorgehou as ’n militêre plaas waar askari’s bloot net gebreinspoel is.

Dit was die narratief wat voorgehou is aan Suid-Afrikaners.

Ons weet nou dit was ’n moordplaas waar mense soos honde afgemaai is en gruweldade in die naam van apartheid en nasionale veiligheid nie net gepleeg is nie, maar ook gekondoneer is. Dié moordenaars het selfs medaljes van die minister van verdediging gekry nadat hulle mense geëlimineer (ja, dit was die woord wat gebruik is) het.

Hierdie sluipmoordenaars van Vlakplaas het bier en brandewyn gedrink en vleis gebraai terwyl die lyke van aktiviste besig was om langs hulle tot as uit te braai. Ons het toe ook nie geweet nie en was verontwaardig toe dit voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie op die lappe gebring is.

Dan praat ’n mens nie eens van die Cradock-vier nie. Ook nie van Griffiths en Victoria Mxenge, die Pebco-drie en die dood van die vryheidsvegters Sipiwe Mtimkulu, Steve Biko, Ahmed Timol en Dulcie September nie.

In Country of My Skull verwoord Antjie Krog dit so: “Their hands, their fingernails, in their eyes, on their lips – signs that these are the faces of killers, of The Other.”

Ons moet dus mooi dink voor ons ander as blote leuenaars afmaak en hulle wil kruisig. Die waarheid haal ’n mens op ’n vreemde manier in – selfs al sou dit beteken dat die voëls dit uitbring.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.