Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die sondes van jou kinders kan jou stemme kos

Noudat Joe Biden ná sy goeie vertoning in die voorverkiesings in 14 Amerikaanse deelstate (ook bekend as “Super Tuesday”) klaarblyklik die voorloper in die wedloop om die Demokratiese Party se presidentskandidatuur is, moet hy verwag dat teenstanders hul bes gaan doen om hom te na te kom.

Biden het ’n kwesbare plek – sy seun, Hunter. Tot dusver is nêrens nog bewyse gelewer dat Hunter die wet oortree het nie, maar tog kleef daar ’n reukie aan hom.

Op die allerminste kan geloofwaardig aangevoer word dat hy ’n belangebotsing gehad het deurdat hy sy pa se amp as visepresident gebruik het om ’n direkteurskap in die Oekraïense maatskappy Burisma los te slaan.

Burisma is ’n beheermaatskappy vir ’n groep ondernemings wat in die ontginning van olie en aardgas spesialiseer. Hunter het sonder enige ervaring direkteur geword. Later het die destydse Oekraïense regering ’n aanklaer, Wiktor Sjokin, aangestel om Burisma te ondersoek. Op ’n besoek aan Kiëf in 2015 het Joe Biden, toe nog visepresident, gedreig dat Amerika ’n leningswaarborg van ’n miljard dollar sou terughou tensy Sjokin in die pad gesteek word.

Dít was die aanleiding vir Biden se teenstanders om hom van korrupsie te beskuldig. Vandeesweek het die Republikeinse sen. Ron Johnson aangekondig dat sy ondersoek na die saak versnel gaan word.

Pres. Donald Trump het gesê die ondersoek na Biden en sy seun “gaan ’n groot kwessie in die veldtog wees. Ek gaan dit die hele tyd opper, want ek sien geen ander uitweg nie.”

Die Demokrate se verweer is dat Biden se optrede in Kiëf niks met sy seun se dinge te make het nie. Sjokin, sê hulle, was berug om sy eie korrupsie in diens van die destydse korrupte Oekraïense regering.

Amerikaanse politiek is deesdae totaal giftig. Dit is ’n totale oorlog waarin skynbaar alles geoorloof is.

Na bewering het hy verskeie pogings om korrupsie in die Oekraïense regering te beveg gekelder. Geen wonder nie dat die druk om hom te ontslaan nie net van Biden gekom het nie, maar ook van die Europese Unie.

Die Amerikaanse politiek is die laaste dekade of drie totaal giftig. Dit gaan nie meer bloot om mening teenoor mening of beleid teenoor beleid nie – dit gaan om ’n totale oorlog waarin alles geoorloof is.

Die verdelende invloed van Trump se optrede het dié proses vererger. Dus moet Biden en die Demokrate nie kla as die Republikeine hul kanonne op die swak plek in sy mondering, sy seun, rig nie. Dit is soos die Amerikaanse politiek deesdae maar werk.

Terselfdertyd kan verwag word dat die Demokrate met ondersoeke na Trump se eie kinders gaan terugslaan. Veral sy seun Don en dogter Ivanka het na bewering nogal finansieel by hul pa se presidentskap gebaat.

Hou vas mense, hier kom ’n vuil veldtog soos nooit tevore nie.

Meer oor:  Leopold Scholtz.  |  Meningsberig  |  Wêreldburger  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.