Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die spaarvark leër as uurglas

Dawie is versigtig optimisties oor pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Optimisties omdat daar wel meetbare teikens gestel word, soos die werkstimulus van R100 miljard om 800 000 deeltydse werkgeleenthede oor die volgende vyf maande te skep en om teen 2024 R1 000 miljard in infrastruktuur te belê. Versigtig omdat die ANC-regering nog nooit ’n tekort aan planne gehad het nie, maar wel telkens vasval by die deurvoerslag.

Daar was die Hop (dit het geflop); Gear (wat nie in rat wou kom); Asgisa (askies, maar wie onthou nog waarvoor dit gestaan het?); die Nuwe Groeipad (waarop die ANC verdwaal het); die Nywerheidsaksieplan (ons wag nog op satisfaksie); en die Nasionale Ontwikkelingsplan (ons sien die plan, maar waar is die ontwikkeling?).

Die probleem is dat die regering nog altyd so ideologies verdeeld was dat dit van hom ’n lomp gedierte vasgevang in die dryfsand van ekonomiese en finansiële werklikhede maak.

Sedert Trevor Manuel se tyd as finansminister word daar reeds gewaarsku oor die noodsaak van besparings en strukturele hervormings, maar ministers beur eenvoudig in hul eie rigting.

Dis wel bemoedigend dat die grondslag vir die nodige strukturele hervormings nou gelê is met ’n spesiale eenheid in die ministerie van finansies wat die hervormings sal toepas en vordering monitor. Omdat finansminister Tito Mboweni ’n aanhanger van Brenda Fassie is, heet die eenheid “Vulindlela” – losweg vertaal beteken dit “om die weg te baan”.

Dis ’n nuttige instrument om naas strukturele veranderings ook die herstelplan te dryf met die gesag van die president daaragter. Die eenheid vir belegging en infrastruktuur sal ’n soortgelyke rol speel. Ook van belang is die nuwe eenheid vir projekbestuur in die presidensie onder Rudi Dicks, wat getaak is om sleutelprojekte vir werkskepping te bespoedig.

Dié drie eenhede skep ’n kans om doeltreffend te prioritiseer en deur die instel van duidelike verantwoordelikheidslyne vinniger vordering te maak.

Dit help immers niks om van die een driepuntkrisisplan tot die volgende vyfpunt-, sewepunt- of negepuntplan te strompel nie. Wat wel sal help is om – veral met behulp van die drie eenhede hierbo genoem – weg te kom van die vae versugtings en eerder deurlopend bestendige bestuur aan die dag te lê.

Op dié punt is staatskapasiteit, wat deur kaderontplooiing, korrupsie en ander faktore gerysmier is, nog ’n wesenlike hindernis. Die groot vraag is dus of daar nog genoeg bekwame mense in sleutelposte is om werk te maak van die doelwitte in die herstelplan.

Dan kort die onderwys dringende aandag. Geen beduidende inklusiewe groei of standhoudende werkskepping is moontlik sonder dat die krisis in die onderwys nie opgelos word nie.

Jaar ná jaar kry onderwys die grootste hap uit die begrotingskoek, maar daar word nie waarde vir geld op dié enorme belegging gekry nie. Die redes daarvoor is natuurlik wydlopend, maar ’n groot probleem bly die wyse waarop die onderwysvakbond Sadou die onderrigstelsel as gyselaar hou.

Dié vakbond dwarsboom deurlopend pogings om hoofde vir die prestasie van hul skole verantwoordelik te hou, hy bedryf verwoestende stakings en skop ook vas teen maatreëls om gehaltebeheer deur inspekteurs te vestig.

Voorheen het Ramaphosa en Mboweni verwys na die noodsaak om ongewilde besluite te neem. Een van dié besluite moet wees om met politieke vasberadenheid Sadou se vernietigende greep op die onderwys te verbreek.

Die uurglas is leeg, die spaarvarkie nog leër en die regering kan geen verdere tyd verspil nie.

Meer oor:  Dawie  |  Uit My Politieke Pen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.