Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié spogboeke het ’n eie storie

Geen beter plek vir die bekendstelling van boeke uit eie bodem is daar as die Vrystaatse Botaniese Tuin nie. Die koppie is ’n lui likkewaan wat gaste in die laat lower inwag.

Gert Coetzee

Ter viering van die aand en die prestasie. Die Afrikaanse skeppende skryfskool van die Universiteit van die Vrystaat se taledepartement het in een jaar drie boeke by ’n hoofstroom-uitgewer gepubliseer gekry – Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith, Weerlose meganika deur Anton Roodt en Luistervink deur Madré Marais.

Die laaste twee is debuutwerke.

Van al drie is literêr kennis geneem.

Die skrywers neem plaas en vertel hoe hul boeke gemaak is. Die gesprekleier, Henning Pieterse, en Smith self is die skryfmentors van die kursus.

Tussen die mikrofoon en die lugversorger deur, kom die gesprek in genoeg fragmente om ’n boeiende eenheid oor die kuns van skryf en die werk daaragter te weef.

Dit vertel van ’n klein dampkring met kreatiewe energie waar gedagtes geruil, getoets en gepoets is en die kiem van die storie in woorde, sinne en paragrawe en met tyd, barensnood en talent uitgebou is tot die gepubliseerde boekverhale wat aandag getrek het.

Daar is raakpunte en ooreenkomste.

Soos oor die belewenis daarvan oor hoe fragmente tydens die skryfkursus tot volwaardige verhale gegroei en die skryfingenieurswese, kruisbestuiwing en inspanning wat dit geverg het. En die genot wat magiese openbaringsmomente en gedeelde drif meegebring het.

Telkens word die bedrieglikheid daarvan uitgewys dat op die oppervlak van die verhale, wat uit die hoek van die oog vertel word, dit lyk of nie veel aangaan nie, maar daaronder is dit gelade met gebeure en spanning. En is elk eintlik ’n (na)speurverhaal uit eie reg.

Die doel van kuns is om die vrae bloot te lê wat deur die antwoorde bedek word.

Die subtiele aanslag laat my later die aanhaling kom nasoek van James Baldwin, ’n Amerikaanse skrywer, wat gesê het die doel van kuns is om die vrae bloot te lê wat deur die antwoorde bedek word.

Ewe insigtelik is om te hoor hoeveel aanvanklike teks weggesny is, ook ter wille van publiseerbaarheid, sodat selfs net tien persent oorgebly het.

Wat (my) herinner daaraan dat Michelangelo toe hy oor sy Dawid-beeld gevra is, hy glo sou gesê het hy het net alles afgebeitel wat nie Dawid was nie.

In hierdie tyd en dae in Suid-Afrika 2020 vir Afrikaanse lesers is die tematiese refrein van vervreemding, ontheemding en hunkering ook ontoevallig. Wat bekend was, het verdwyn. Wat heel was, is stukkend. Tuis is nie meer tuis nie, maar weg ook nie. Elke boek met ’n eie aanslag, gegewe en magiese realisme en onder die topverkopers.

In hierdie tyd en dae in Suid-Afrika 2020 vir Afrikaanse lesers is die tematiese refrein van vervreemding, ontheemding en hunkering ook ontoevallig.

Oor Weerlose meganika wat in ’n komende Welkom afspeel, vervaag die grens tussen mens en masjien en kol. Rooipiet Moolman raak op ’n slimbot verlief. “Toe ek dit die eerste keer lees, het ek geweet dit gaan gepubliseer word,” het Pieterse gesê. Vir die name kan ’n mens jou “kaduks” lag.

In Smith se boek, wat afspeel in Rouxville (al nie by name nie), kry die teruggekeerde huisarts, dr. Gustav van Aardt, met die pes – ook in die gestalte van ’n polisieman – te doene.

In Marais se kortverhaalbundel met sinne wat ’n lang paragraaf beslaan, maar nog te kort is, kry die karakter in Brandoffer eers uit Londen perspektief.

In ’n tyd van ontwrigting dui die welslae met dié M-graad in skeppende skryfkuns ook op die bestuur van verandering en ’n fokusskuif met studentetalle wat bly afneem.

“Dis die resultaat van prosesse,” het Pieterse gesê. En waar prosesse is, is ’n stelsel, dissipline, kundigheid, doelwitte, kreatiewe uiting – en leierskap.

Só het die skrywersaand verloop en het dit insigte gebring. Buite het die likkewaan intussen nag geword.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Boeke  |  Stories  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.