Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die stembrief praat veel harder as die staat
Barnard Beukman

Wanneer die steeds erge ongelykhede in die Suid-Afrikaanse samelewing beoordeel word, is dit nou tyd dat daar met groter eerlikheid na die oorsake gekyk word. Dit is al manier om die regte oplossings te kry en vorentoe te beweeg op ’n manier wat die ongelykhede inderdaad effektief begin uitskakel.

Sonder enige kwalifisering behoort daar teen dié tyd konsensus te wees dat die apartheidsbeleid die ongelykhede geskep en in ’n groot mate verskans het. En die mislukte dienslewering deur die nuwe bewindhebbers van die afgelope twee dekades sal baie slegter moet vaar om enigsins met die skade van apartheid vergelyk te kan word. Om die twee in ’n weegskaal te probeer vergelyk, is ’n oneerlike poging om van apartheid se skade te probeer ontvlug.

Maar die ANC-regering se aandeel in voortgesette ongelykheid moet nou op elke agenda wees waar daar oor die ongelykhede gepraat word of die gesprek is gewoon oneerlik en ’n wanvoorstelling.

Een voorbeeld is die departement van basiese onderwys se jaarverslag vir 2016-’17. Van die 59 skole wat in die tydperk gebou moes word, is net 16 gebou. Van die 265 skole wat toiletgeriewe moes kry, is net nege uiteindelik gehelp. 280 skole moes water kry, maar dit is net vir tien gedoen. Van die 620 skole wat elektrisiteit moes kry, is almal nog daarsonder.

Die lys van verskonings in die verslag behoort die basis van ’n klagstaat te vorm. Die groot verskoning is dat “R621 miljoen verloor is omdat swak kontrakteurs vervang moes word”. Dit is niks anders as kodewoorde vir korrupsie, selfverryking, diefstal en staatskaping nie. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel luukse motors en duur oorsese vakansies uit die R621 miljoen gekom het. Algehele administratiewe onbevoegdheid en onvermoë om dienslewering te bestuur in oorlaaide staatsdepartemente met ’n heeltemal te groot salarisrekening is die res van die probleem.

Die lys van verskonings in die verslag behoort die basis van ’n klagstaat te vorm.

Waar is die Nasionale Vergadering se onderwyskomitee, die openbare beskermer, die Menseregtekommissie en die nasionale vervolgingsgesag? Of het hul toenemende evolusie na tandelose “waghonde” oor die werk wat sedert 1994 nodig is om gelykheid te herstel te ver gevorder?

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, wys graag tradisionele model C-skole en onlangs ook private skole uit as die groot oorsake van ongelykheid in onderwys.

Dit wil hy oplos deur groter magte te kry om daar in te meng.

Selfs al sou die byna 800 000 wit Afrikaanse skoliere uit hul skole geplaas kon word, sou dit nie ’n fraksie van die probleme oplos om vir sy sowat 12 miljoen leerlinge voorsiening te maak nie, wys ’n onderwyskenner in ’n gesprek uit.

Lesufi en ander is gewoonlik stil oor die werklikhede wanneer hulle teen ongelykheid in onderwys uitvaar. Ja, weer eens grootliks die gevolg van ’n bepaalde verlede, maar nóg konferensies en seminare daaroor gaan nie huidige kinders se situasie oplos nie.

Om vir hulle vryheid en gelykheid te bring sal daar nou verstaan moet word waarheen die 43 skole (59 minus die 16 wat wel gebou is) verdwyn het wat die vorige jaar gebou moes word.

Uiteindelik sal gemeenskappe self moet besluit hoe om by groter gelyke geleenthede uit te kom. Daarvoor het hulle die magtigste wapen in ’n demokrasie – die stembrief. Sonder om deur elke staatsdepartement se wanprestasie van die afgelope 20 jaar te werk, is daar vanjaar net in onderwys 43 goeie redes om deeglik te besin oor die 2019-verkiesing wat nader snel.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Menings  |  Stembrief  |  Politiek  |  Rubrieke  |  Staat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.