Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié stilswye nie goud werd
Pres. Cyril Ramaphosa het voor die verkiesing op Beyers Truter se plaas, Beyerskloof, by jong boere gepleit om in Suid-Afrika te bly. Foto: Jaco Marais

Plaasmoorde is nie belangriker as ander misdaad nie, maar pres. Cyril Ramaphosa se stilswye daaroor maak dit al hoe moeiliker om te droom oor ’n toekoms waarin ons kinders in veiligheid en harmonie sal grootword, skryf Mihlali Xhala en Yolanda Andrag.

Geagte pres. Ramaphosa,

Ons skryf as groot aanhangers van jou visie vir die land. Te midde van die groeiende frustrasie oor jou vermoëns, bly ons skuldig aan Ramaforie. As jong mense glo ons in jou “long game”. Dat jou geduldige en konsulterende leierskapstyl wel vrugte sal dra.

Ons kom uit radikaal verskillende agtergronde – een uit ’n bevoorregte boerderygemeenskap in die Wes-Kaap en die ander uit die landelike en veel armer Oos-Kaap. Tog droom ons saam oor ’n toekoms waarin ons kinders in veiligheid en in harmonie sal grootword. ’n Suid-Afrika van eindelose moontlikhede.

Meneer die president, jy maak dit wel al hoe moeiliker om in dié droom te glo. Moeiliker om jou te verdedig. Moeiliker om ons geleerde en vaardige vriende daarvan te oortuig dat daar ’n toekoms vir jong mense soos ons in hierdie land is. Dat die gras nie groener anderkant die water is nie.

Alle lewe is ewe belangrik

Meneer die president, boere is nie belangriker as ander landsburgers nie. Alle lewe is ewe belangrik. Net so is geen misdaad belangriker as ’n ander nie. Daagliks sterf mense in informele nedersettings in haglike omstandighede. In puttoilette. Kinders wat verkrag of vermoor word in landelike Suid-Afrika, haal amper nooit die hoofopskrifte nie.

Ons verstaan dus u woordvoerder se standpunt dat u nie uself teen spesifieke soort misdade gaan uitspreek nie.

Tot nou toe was dit ook ons verweer. Maar in die huidige maatskaplik-ekonomiese klimaat en die mate waarin ons land verdeel is, is ’n moord op ’n boer nie net nog ’n moord nie.

En nee, alle plaasmoorde is nie gegrond op rassehaat nie, net soos alle plaasmoorde nie net toegeskryf kan word aan armoede en ongelykheid nie.

Maar die rol van ras is onlosmaaklik deel van die groter narratief oor plaasgeweld. ’n Ontkenning daarvan sal nie net die demografiese samestelling van landelike ge- meen­skap­pe misken nie, maar ook die impak van ons geskiedenis op welvaartverdeling.

Die noodwendige rasgegronde interpretasies wat uit plaasgeweld vloei, is wat dit juis belangrik maak. Dis wat die narratief skep waaruit rassistiese en verdelende uitsprake en optrede vloei.

Mihlali Xhala (bo) en Yolanda Andrag (onder)

Teelaarde vir verdelende retoriek

Nasionale reaksie is nie nodig omdat boere belangriker is as ander burgers nie, maar omdat ’n gebrek daaraan ’n vakuum skep wat ’n teelaarde vir die randfigure van die politieke spektrum se verdelende retoriek is. Hulle het nog een doodgemaak. Hulle haat ons en wil ons stelselmatig uitwis. Nog ’n gronddief is dood. Een wit man minder, een monster minder. Hulle het ’n een-tot-vyf-meerderheid teenoor ons, ons moet ons beveilig.

U stilte ontketen ’n verdelende debat tussen die verlinkse en verregse groeperings. Dit plaas dié in die middelgrond in die versoeking om kant te kies. Dit stel ons teen mekaar op. Dit verteer ons vermoë om saam te werk. U vererger bestaande onsekerheid in die landbousektor.

Meneer die president, bewys die mense verkeerd en versterk ons hande. Nie net om landelike veiligheid te verbeter nie, maar om broodnodige ekonomiese aktiwiteit te stimuleer. ’n Holistiese oplossing vir werkskepping is nodig, tesame met ’n behoorlike begroting vir landelike polisiëring.

Ons sien dat u party beplan om werkloosheid binne vyf jaar te halveer. Georganiseerde landbou het reeds bestaande ontwikkelingsprogramme. Moenie die wiel gaan herontwerp nie. Ons het ook nie die luuksheid om verder tyd af te staan aan kommissies en panele nie. Dokumente en beloftes skep nie werk nie. Ondernemings skep werk. Boere skep werk.

  • Mihlali Xhala en Yolanda Andrag is albei werksaam by Agri SA.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Agri Sa  |  Moorde  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.