Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die storie agter die rektor

Kan ’n skool ’n rektor as hoof hê? By Paul Roos Gimnasium is die gebruik ’n trotse tradisie wat spruit uit die geskiedenis van dié skool, skryf Jannie van der Westhuizen.

Leerlinge van Paul Roos Gimnasium sing hul harte uit tydens ’n interskolebyeenkoms. Die gebruik om die hoof van dié skool ’n rektor te noem, spruit uit die skool se beginjare, wat nou verweef is met die ontstaan van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Gallo images

Daar word dikwels bespiegel oor die gebruik van die titel “rektor” wanneer daar na die skoolhoof van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch verwys word. Hoe is dit moontlik dat ’n skool ’n “rektor” as hoof kan hê, word gevra?

Dit dien vermeld te word dat Paul Roos nie die enigste skool is waar daar van die hoof as “rektor” gepraat word nie. Ander voorbeelde is onder meer Grey High School in Port Elizabeth en Michaelhouse in die Natalse Middelland.

Arrogant en verwaand

Verwysings na die skoolhoof as die “rektor” word soms met negatiwiteit begroet en word selfs as arrogant of verwaand beskou. Dit is jammer, want groter begrip vir hierdie gebruik sal tot veel groter waardering daarvoor lei.

Artikels hieroor deur Mariena Kotze, argivaris van die Paul Roos Argief, en prof. Pieter Kapp, historikus van Stellenbosch, in die Paul Roos-150-gedenkboek, gee die agtergrond vir hierdie trotse tradisie van 146 jaar.

Die historiese agtergrond skets die nou vervlegde ontstaan van Stellenbosch as dorp, die skool en die Universiteit Stellenbosch (US). Dit is dan ook hierin waarin die verduideliking vir die verwysing na die hoof van Paul Roos as “rektor” lê.

Die skool open sy deure 155 jaar gelede, op 1 Maart 1866, as die Stellenbosch Gimnasium.

Paul Roos

Die openingseremonie vind in die Stellenbosch Moederkerk plaas en word deur 800 mense bygewoon. Die skool se stigters was ds. J.H. Neethling, predikant van die Moederkerk, prof. N.J. Hofmeyer en prof. John Murray, laasgenoemde albei verbonde aan die Kweekskool (Teologiese Seminarium), wat in 1859 geopen is. Hierdie drie here was ook later die stigters van die Hoër Meisieskool Bloemhof in 1875.

Op die eerste skooldag was daar 88 leerlinge, waarvan 58 die seuns van Rynse sendelinge was. Hulle het tydens die openingseremonie die kerk vanuit die konsistorie onder applous binne gestap.

Die eerste drie hoofde van die skool, William Braid, Charles Anderson en William Milne, is in Skotland gewerf. Dr. Koos Marais word in 1897 die eerste Afrikaanssprekende rektor.

In 1946 verskuif die skool na die huidige terrein, geleë op die historiese plaas Welgevallen, op die oewer van die Eersterivier.

In 1946 verskuif die skool na die huidige terrein, geleë op die historiese plaas Welgevallen, op die oewer van die Eersterivier.

Die skool se naam word verander na Paul Roos Gimnasium, hernoem na die oud-Stellenbosser Paul Roos. As oudskolier was hy in 1906 die eerste kaptein van ’n Springbok-span wat oorsee toer (na die Britse Eilande). Hy was die rektor van die skool vanaf 1910-1940 en die ontstaan van die naam “Springbokke” word ook aan hom toegedig. Dit omdat hy in 1906 sy span as “de springbokken” aan die media voorgestel het.

BA-graad word werklikheid

Simon van der Stel het ’n leidende rol daartoe gespeel dat die vryburger Steven Jansz Botma in 1679 die eerste eienaar van die Welgevallen-plaas word, met Coetzenburg, wat vandag onder meer die sportterrein en proefplaas van die US huisves, as buurplaas.

Jannie Marais, oudleerling van die destydse Stellenbosch Gimnasium, diamantmagnaat, en medestigter van Naspers en Die Burger, sou later die trotse eienaar van Coetzenburg word. Marais sou ook £100 000 skenk vir die stigting van die US.

Die aanvanklike doel met die stigting van die skool was om studente vir verdere teologiese studie aan die Kweekskool voor te berei en om veral opleiding in Grieks en Latyn te ontvang. Ná die totstandkoming van die skool moes daar hieraan uitvoering gegee word.

Gedurende Anderson se termyn besluit die skoolbestuur dat opleiding tot op ’n vlak van ’n BA-graad gedoen moet word. Die aanvaarding van die University Corporation Act in 1873 het die weg hiertoe gebaan, en aan die einde 1874 word die “Arts Department” (Kollege) ’n werklikheid.

Die eksaminerende liggaam sou die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop wees. Vanaf 1875 tot 1879 is die skool en die Kollege in dieselfde gebou gehuisves, met Anderson as hoof van albei instellings. Hy sou as rektor Anderson bekend staan. Die enkele dosente aan die Kollege sou die titel van professor kry, maar steeds onderhewig wees aan die gesag van die skool.

Archibald MacDonald word as die eerste professor in klassieke tale en Engelse letterkunde aangestel.

Maties word gebore

Aan die begin is die matrieks as deel van die Kollege hanteer. Die junior matrieks (vandag gr. 11), moes ’n toelatingseksamen by die professore aflê voordat hulle na die senior matriekklas – en deel van die Kollege – kon oorskuif.

Die skeiding van die twee instansies vind in 1881 plaas. Daar was toe 210 seuns op skool en 61 studente aan die Kollege.

Sedert 1887 sou die kollege as die Victoria Kollege bekend staan, wat in 1918 die Universiteit van Stellenbosch sou word.

Die senior matrieks sou eers vanaf Julie 1899 na die skool teruggeplaas word. Aan die einde van die eeu het die skool ’n indrukwekkende opvoedingsprogram aangebied. Benewens die tradisionele vakke, is Duits en Grieks aangebied, en was Latyn ’n verpligte vak. Roos self het dan ook Latyn onderrig.

Die gebruik van die term “rektor”, met verwysing na die hoof van die instelling (skool en kollege), en wat sedert rektor Anderson in 1875 in gebruik is, het ná die afskeiding van die Kollege in 1881 bly voortleef. Die tweede rugbyspan van die US, wat as Victoriane (Vics) bekend staan, verleen sy naam aan Victoria Kollege.

Anderson het as “Ou Kalie” bekend gestaan, en is die persoon na wie daar in die bekende volksliedjie “Wat maak oom Kalie daar” verwys word – dit ten spyte van sy absolute waardigheid!

Daar sou vir baie jare ná die Kollege se afstigting formele bande tussen die twee instellings bestaan. Alhoewel daar nie vandag meer ’n formele verbintenis tussen die skool en die universiteit is nie, is daar steeds noue samewerking op verskeie terreine.

Selfs die bekende maroen rugbytrui word deur albei instellings gedeel. Tydens die 150-jarige feesjaar het die skool se eerstespan op sy beurt die ou tradisionele Victoria Kollege se trui gebruik.

Drie premiers, ’n Springbok en aktivis

’n Besoek aan die skool se argief lewer ’n interessante blik op die geskiedenis van hierdie historiese instelling. Interessante memorabilia word daar bewaar, onder meer van die drie oudpremiers – Jan Smuts, J.B.M. Hertzog en D.F. Malan – en Anton Lubowski, die Swapo-aktivis. Roos Roos se Springbok-baadjie van 1906 is ook daar te sien. Die rottang wat Roos tydens sy termyn as rektor gebruik het, word ook daar bewaar en hoewel dit al vir jare nie meer in gebruik is nie, speel dit steeds ’n simboliese rol in die skool.

Die Paul Roos 150-gedenkboek bied ook ’n volledige blik op die eerste 150 jaar van die skool se geskiedenis. Andre van Staden, die huidige skoolhoof, is die 16de rektor sedert 1866.

Die gebruik van die term “rektor” het dus, in die geval van Paul Roos Gimnasium, uitsluitlik ’n historiese oorsprong en is ’n trotse tradisie wat reeds vir 146 jaar by hierdie tradisionele seunskool bewaar, gekoester en gebruik word.

In die geval van Grey High School, wat vernoem is na sir George Grey, word die titel “rektor” sedert die skool se stigting in 1863 gebruik. Volgens die skool se webblad “a status to which the school was entitled because the Institute had revenue for Crown Lands”.

  • Van der Westhuizen is ’n onderwyskonsultant van George en voormalige rektor van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.
Meer oor:  Rektor  |  Hoof  |  Paul Roos Gimnasium  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.