Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die swart horries van ’n rugby-babelaas

Kyk, as daar nou ’n ding is wat my die gorriehorries gee, is dit ’n winkelsentrum op ’n gewone dag.

Blouwillem

En dan praat ons glad nie eens van ’n superbesige sentrum in Kerstyd nie, nee, sommer net ’n gewone dag.

Maal nou ’n besige Desember-sentrum met tien en jy het Swart Black Fridag. Geadverteerde, georkestreerde chaos waar ons alles wat ons nie nodig het nie halfprys kan kry.

Het die Yanks al ooit ’n groter onding uitgedink as dit, en ons ’n meer idiotiese ding by hulle oorgevat?!

Ek het in beginsel besluit om Vrydag elke halfuur by sewe verskillende winkels niks te koop nie en het op Swart Donderdag reeds my Swart Vrydag-aankope gedoen wat ek toe beperk het tot twee rolle wit toiletpapier ( die enigste kritiek belangrike item behalwe skaaptjops waaraan ek kon dink).

Maar Dik Daan het ander planne gehad. Teen Dinsdag het hy al ’n pak advertensies so dik soos Johannesburg se telefoongids gehad waarin hy alles gemerk het wat hy wou koop en Donderdag het hy die bankbestuurder gaan sien oor ’n sewende verband op sy huis om sy aankope tot ongeveer die Oordeelsdag te kon finansier.

So kom ek Vrydagaand daar by Daan en daar sit hy met ses bottels van oom Jacob se koffie en ’n berg toiletpapier voor hom. “En al die ander goed wat jy op jou dikke lys gemerk het?” wil ek verbaas weet. “Als uitverkoop toe ek seweuur daar aankom”, grom hy.

Ja, my Kroon, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

“Al wat ek nog kon kry, was van Nataniël se wors wat halfprys was omdat hulle dit die helfte dunner gemaak het as gewoonlik.”

En dan die ander ding wat my nog amper erger gorriehorries gee as Swart Vrydag is Swart Saterdag se skoprugby van die Bokke. Wie op die liewe moeder aarde het dié wedstrydplan uitgedink? Dalk die EFF, wat die grootmeesters is van grandiose planne wat nooit kan werk nie?

Vat nou maar weer die geval van Papier. Die een oomblik is hy nog in Rassie se goeie boekies, want hy vat vlam, speel die veld aan die brand en skeur die verdediging aan flarde, maar die volgende oomblik vee die coach hom af aan Papier en bring sy skrumskopper op vir wie die Walliesers soos ’n boek lees.

En daar sit ons nou soos verlede jaar, die jaar voor dit en al die jare vóór dit in die feesdae met ons gallerige rugbybabelase. Ek moet nog net besluit of Boney M in ’n winkelsentrum beter is as ’n rugbybabelaas in die Kerstyd.

As ’n mens iets mag sê oor Rassie se personeelbestuur, wat sal ons kan sê oor onse Cyril se spankeuses? Wat hy in sy jongste kabinetskommeling gedoen het, is om byvoorbeeld die skrumskakel- en losskakelposisies saam te voeg en ’n slot in dié posisie aan te stel en dan heen te gaan en sy vuilste rooikaartspelers eerste op sy spanlys in te vul.

Ja, my Kroon, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Meer oor:  Blouwillem  |  Rassie Erasmus  |  Swart Vrydag  |  Rugby  |  Springbokke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.