Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die taal van jou lyf

Met die grootste deel van jou gesig agter ’n stuk lap, verg dit iets om lyftaal te verstaan. Maar, skryf Cas Wepener, ten minste voel jy dan meer in beheer en minder moeg.

Die nuwe normaal . . . voetgangers steek ’n besige kruising in Tokio oor, presies soos ses maande gelede, behalwe dat almal nou gemasker is. Die alomteenwoordigheid van maskers veroorsaak dat ons nou meer as ooit tevore bedag raak op lyftaal.Foto: AP

’n Ernstige grappie wat gereeld nog sy opwagting maak, is dat die wyse waarop ’n predikant die kansel bestyg, tot ’n groot mate reeds haar oortuigings verklap nog voordat sy ’n enkele woord gesê het.

Daardie insig geld vir die meeste lewensterreine – lank voordat jy jou mond oopgemaak het, het ek al vir jou gekyk en ’n mening begin vorm. Hoekom? Want net soos monde, praat lywe ook.

Na gelang van jou glimlag of afwesigheid daarvan, jou liggaamshouding, die wyse waarop jy as voorsitter in die stoel inskuif en die skriba hanteer, waar presies jy kies om aan die tafel plek in te neem – teenoor of digby die voorsitter . . . Die geheel van jou optrede en houding, bepaal nog voordat jy jou mond oopgemaak het en ek jou kan hoor, my en menige ander se mening oor wie jy is, wat jy regtig dink en hoe ons daarop behoort te reageer.

Barometers en seine

Natuurlik weet voorsitters en bestuurders dit, sit hulle ook op hierdie terrein hul beste voetjie voor en bestuur nie net hul woorde nie, maar ook hulle liggaamstaal noukeurig.

Die res van die vergadering is minder op hul hoede hiervoor. Diegene in ietwat mindere posisies om die tafel se lywe is gewoonlik betroubare barometers waaraan die druk in die vertrek taamlik akkuraat met ’n vinnige blik om die tafel gemeet kan word.

Die persoon wat voor sit, of voor staan en praat of klasgee, is deurentyd besig om die seine van die mense voor hom se lywe te interpreteer.

Almal praat op die oomblik oor hoe uitputtend die aanlyn vergaderings, klasgee, konferensies en selfs kuiers hulle maak. En verskeie redes word hiervoor aangevoer.

Wat my die meeste uitput, is die feit dat ek gewoonlik die voorsitter kan sien (en dan ook maar net haar gesig), maar ek kry selde die geleentheid om die ander gewone mense soos ek, wat ook (virtueel) om die tafel sit, se gesigte en lywe te sien.

Dit is uitputtend, want ek moet almal ordentlik kan beloer om so nie net die inhoud van die betoog te volg nie, maar ook om te kan lees wat nie gesê word nie, om die impak van wat aan die ontvou is te kan peil.

Ironies genoeg help gesigsmaskers my op die oomblik hiermee, want mense lag in die eerste instansie nie met hul monde nie, maar met hulle oë. Daar is ’n eenduidigheid aan oë bokant ’n masker, want te dikwels is oë in kombinasie met ’n mond, wange en plooie, ’n bonte konkoksie van teenstrydige seine. Maskers skakel heelwat van die teenstrydighede uit en wat bly is daardie immer eerlike paar oë.

Verklap deur jou nek

Tydens aanlyn vergaderings, konferensies en klasgee kry ’n mens, veral waar ek werk en data spaarsamig gebruik moet word en jy ander dus net hoor en nie sien nie, selde die voorreg om al daardie oë bokant die maskers te beloer en te interpreteer. Dit is uitputtend.

Hierdie virtuele vergaderings het my opnuut laat besef hoe onbetroubaar baie van ons bestaande navorsing oor menslike handelinge is.

In byvoorbeeld die bestudering van sekere soorte kommunikasie word dit wat gesê word dikwels net met klank opgeneem, daarna getranskribeer tot teks en dan ontleed deur middel van inhoudsanalise. Soms word rekenaarprogramme ingespan om nog meer sekuur te bepaal wat presies gekommunikeer is. Op grond daarvan kan daar dan vasgestel word wat presies gekommunikeer is.

Virtuele vergaderings vestig opnuut die aandag daarop dat daardie studies tekortskiet. Ons woorde is maar een klein onderdeel van kommunikasie en sonder dat jy kan sien hoe verveeld of vererg, of bly of boos, die liggaam van prater en die luisteraar is (of hoe ’n lyf probeer om sy blydskap of boosheid te verbloem), het jy nog nie ’n goeie greep op die kommunikasie nie.

Elke sone van ’n lyf liggaam en elke liggaamsdeel het bepaalde simboliese waarde.

Vat byvoorbeeld ’n kop: as iemand nie van iets hou nie, trek die kop effens terug. As iets lekker ruik of mooi klink, wel, dan draai die neus of oor effens nader na dit wat waardeer word.

’n Slim voorsitter weet sy moet haar kop in ’n goeie neutrale posisie hou en haar eie kamtig neutrale posisie ook so beskerm.

Die res van die vergadering laat val gewoonlik hul skanse makliker. Nekke is insgelyks belangrik, Anna M Louw noem nie verniet die hoogmoedige stamvader in Kroniek van Perdepoort Koos Nek nie. Stywe nekke is trots en hul eienaars hardnekkig. Kaal nekke is broos. Slap nekke is verveeld. Enige dosent en onderwyser weet van rammetjie uitnek vir wie jy nogal graag die nekslag wil toedien.

’n Wag v oor jou hande

Daar is ook nog die gesig en die middellyf en die arms en voete wat hul eie simboliese waarde bevat. Soos Robin Wililams in Dead Poets Society opmerk oor een van die seuns wat met sy pelvis wat effens vorentoe du loop: “Mr. Overstreet, driven by deeper force.”

Tydens virtuele vergaderings mis ek ook die hande van ander mense, want dis presies hier waar die meeste mense droogmaak, of eerlik is, want hulle hou nie ’n wag voor hul hande nie.

Kyk maar net na al die handjies om die tafel en wat hulle doen: die oop uitnodigende hande, die geklemde vuiste en natuurlik die wat hul handjies soos Sheila Cussons se vliegies “joods kletserig in hul skik” vryf.

Natuurlik is dit harde werk om lywe te interpreteer, maar ten minste voel jy dan meer in beheer en minder moeg.

  • Wepener is hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cas Wepener  |  Taal  |  Lyf  |  Covid-19  |  Gesigmaskers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.