Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die taal wat ons met ons naaste praat
Annelie Botes

Synde al lank in die skryfbedryf, moes ek dikwels kritiek sluk. Dis maklik. Groei skubbe. Tog, dis nie so simplisties nie. Tannie Dalene Matthee het gesê jy moet nóóit jou rug styf ruk oor kritiek nie. Lek jou wonde en ontleed of die persoon ’n geldige redenasie het. Vat dan daaruit wat jy moet, en los wat jy moet.

’n Tegniek wat sy my geleer het, is om te luister na ’n kritikus se “tone of voice”. Soos die Chinese spreekwoord sê: “The tongue can paint what the eyes can’t see.” Of Maya Angelou: “Words mean more than what is set down on paper. It takes the human voice to infuse them with deeper meaning.”

As jy jou kind kapittel oor ’n dom besluit, sal hy meer baat as jy sê: “My kind, jy moet vooraf bereken waar jy kan beland,” as wanneer jy hom bespring met: “Is jy mal in jou kop? Of onnosel? Of agter die klip?”

Die intonasie verskil myle. Behalwe dat jy seermaak, maak jy ’n vyand. Volgens bewering word 90% van mensewrywing veroorsaak deur ’n verkeerde stemtoon.

Die Bybel sê die tong is ’n tweesnydende swaard.

John Steinbeck sê: “ ’n Skrywer (van wat ook al) leef in eerbied vir woorde omdat hulle wreed of goed kan wees. Hulle kan hul betekenisse reg voor jou oë verander. Hulle tel geure en reuke op soos botter in ’n yskas.”

’n Skrywer (van wat ook al) leef in eerbied vir woorde omdat hulle wreed of goed kan wees. Hulle kan hul betekenisse reg voor jou oë verander. Hulle tel geure en reuke op soos botter in ’n yskas.

Laas week was daar ’n datumfout in my rubriek oor die ontstaan van die wiel. Ek is dankbaar lesers help my beskaafd reg. Maar in Die Burger van 24 Julie is ’n brief van Estelle Venter van Paternoster waarvan die toon onsmaaklik in my ore skree.

Sy skryf: “ ’n Mens moet wonder wat in die teebrousel is waaraan Annelie Botes en die Gryse so op die stoep sit en teug.

“Met verwysing na die Bybelboek Rigters sê sy Samuel het dit 550 v.C. geskrywe, ‘(l)ank voor daar sprake was van die wiel’. Dalk as die Gryse ’n spreekbeurt kon kry, sou hy aan sy skrywersvrou kon vertel het dat – al stry die geskiedkundiges oor die spesifieke datum – die wiel ten minste etlike millennia vantevore al op waens en diesulkes in gebruik was. Die Gryse se gunsteling Bybelvers blyk nie verniet Rigters 16:16 te wees nie – dit smaak my hy is pal ingespan om ’n kakebeenwa te trek.”

Teebrousel? Nou voel ek soos ’n heks. Hoe weet sý hy kry g’n spreekbeurt nie, of dat hy die geskiedenis uit den hoofde ken daar op die stoep? Om te sê hy is pal ingespan om ’n kakebeenwa te trek, beteken ék is ’n kakebeenwa. En hy ’n willose os. Jimmele.

Die 1953-Bybel sê in Spreuke 15:1: “ ’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”

Laat ons onthou dat ons “tone of voice” en woordkeuses geure en reuke optel soos botter in ’n yskas. Wat ek as botter voorsit, proe vir iemand anders dalk na vrot uie.

Dominus eleison. Hê genade.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Taal  |  Praat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.