Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Dis hoekom ek nie baklei vir Afrikaans nie'

In haar wêreld het Afrikaans en Engels nooit met mekaar gewedywer nie. Hulle het baie gemaklik langs mekaar gesit, skryf Jo-Ann Floris.

Jo-Ann Floris

Daar in my hartland in die Boland is die taal wat jy praat, ’n vloeibare konsep. 

Afrikaans en Engels het nog altyd handjies vasgehou en soms openlik gevry, want die een kant van die familie was die Ingelse “van die Kaap”; die ander kant ons Afrikaanses op die platteland.

Soos ek nou die ding onthou, was ons plattelanders maar ’n bietjie van ’n raaisel vir die Ingelse aunts en uncles en cousins, want hulle kon nie glo dat ons uitbundig gelukkig was daar op die “plaas” nie.

Maar as hulle gedink het ons is agter die klip, het hulle hul lekker laat gemaak.

Want as die aunties vir my ma iets vertel het wat nie vir ons kinders se ore bedoel was nie, het hulle dit in Engels vertel. Net omdat hulle aangeneem het die plaasjapies kan nie Engels verstaan nie.

Dit het ons natuurlik goed gepas, en vir baie giggels agterna met my ma gesorg, want sy het hulle nooit reggehelp nie.

Omdat die twee tale gelyke status in ons huis gehad het – en steeds het in my familie – is ek huiwerig om by ’n hogere taaldebat betrokke te raak. Soos die een wat sê as Afrikaans nie ’n hoër funksie het nie, lê dit daar gekwes en wag vir die doodskoot.

In my wêreld moes die twee nooit met mekaar wedywer nie. Hulle het baie gemaklik langs mekaar gesit en vir ons later ’n selfvertroue hupstoot gegee toe ons die wêreld (in ons verwysingsraamwerk buite die provinsie) begin verken het.

Toe ek die eerste keer die wonder van ’n tweede taal ontdek, was ek nogal spoggerig. Ek wou by almal spog met my nuwe woordeskat.

Miskien het dit te doen gehad met ’n gemeenskap wat sy aan sy moes leef en woon en oorleef. Daar was altyd die twee gesigte: ryk en arm wat in dieselfde straat woon, die dubbelverdieping langs die huis wat deur die genade staan bly. Moslem en Christen, en voor die “vreemdheid” verby was, Rooms-Katolieke.

Die kinders wat met krullers in die hare in die son moes speel sodat dit kon droog word, omdat hul huise nie lektriek gehad het nie, het lustig gespeel met die kinders wat die luukse van ’n yskas en haardroër en ’n stouf geken het.

My ma het net die lyn getrek met vloekery – dit was nie geduld nie, maar Engels was orraait.

Toe ek die eerste keer die wonder van ’n tweede taal ontdek, was ek nogal spoggerig. Ek wou by almal spog met my nuwe woordeskat.

Eendag luister ek sleg af toe ’n aunty vir my ma vertel van so-en-so wat pregnant is. Ek het nie ’n idee gehad wat dit beteken nie, maar die woord het so ’n mooi, ronde klank gehad wat ek oor en oor wou sê.

Afrikaans het nooit ’n politieke kleur of konnotasie in ons huis gekry nie.

Omdat ek nie geweet het van wie die aunty praat nie, het ek die naam bloot vervang met my ma. Toe vertel ek vir almal my ma is pregnant.

Dié storie loop terug na haar toe en die oumense wil weet “maar Mollie, sien jy dan kans vir nóg een”. Geld was mos maar skraps.

Die stomme vrou moes toe die storie se spoor vat om agter te kom wie is die bron. En daar staan ek en blom in selftevredenheid oor my nuwe woord. My ma het nie in my trots gedeel nie.

Punt is, Afrikaans het nooit ’n politieke kleur of konnotasie in ons huis gekry nie. En Engels as die tweede taal in ons huis was ’n natuurlike uitvloeisel om kommunikasie met ’n deel van ons familie te vergemaklik.

Nou nog, as ek vakansietye huis toe gaan, luister ek verstom na hoe die tale lewend gehou word. Ek slurp die Afrikaanse gesegdes op – dit word sommer so in die loop gebore. Dis in die nuus wat gedeel word, die skinder, die godsdiens, die landsake – ek sweer daar word ’n woord ’n dag gebore.

Dit is waaroor dit gaan vir my. Dat ons mekaar verstaan, en lepels vol skep van dit wat op die taal-tafel voorgesit word.

En dan kom die Engelse cousins en gooi ons met hul taal en pittighede en ons lag oor die krom Engels of Afrikaans as ’n woordeskat opraak. Dan maak ons sommer saam nuwe woorde op en knik instemmend vir mekaar want ons het ’n manier gevind om mekaar te verstaan.

Dit is waaroor dit gaan vir my. Dat ons mekaar verstaan, en lepels vol skep van dit wat op die taal-tafel voorgesit word. Dis reg om eers net ’n proesel te skep as die bakke te veel bied. Soms moet ’n nuwe smaak net eers ’n rukkie op die tong lê.

Ek werk in Afrikaans, gaan kerk toe in Afrikaans en Engels, kuier gemaklik in albei. My studies was in Engels, maar dit het niks van my taalvaardighede of liefde vir Afrikaans weggevat nie. (Ek staan by die dag verstom oor jongelinge wat vertel hulle het hul Afrikaans verleer in die drie of vier jaar dat hulle geswot en die kursus oorwegend Engels was. Dis bloot nie moontlik dat drie jaar die res van jou lewe ongedaan maak nie – of is dit?)

Ek is jammer ek is nie ’n kampvegter vir ’n taal se hoër funksies of akademiese waarde nie. Ek is wel bereid om moue op te rol vir die voorreg om te praat in ’n taal wat my nie soos ’n gas laat voel in my eie land nie.

* Floris is ’n redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Boland  |  Engels  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.