Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die tandepasta is uit die buis
Johann Maarman

In die ou paternalistiese dae en veral in die tyd van oudpresident PW Botha het oudkollega Freek Swart, ’n briljante politieke joernalis, op ’n koerant-bosberaad nonchalant opgemerk: “As ’n persoon PW in die politiek wil vernietig, sal daardie persoon ’n dik bos baard moet hê en gereeld ’n groot brekfis moet eet.”

Ons jong joernaliste het aan Freek se lippe gehang, want hy was een wie se voorspellings meestal in die kol was en sy antennas was op die regte politieke frekwensie ingestel.

Ons weet nou dat daardie persoon met die groot bos baard toe nie in die gedaante van Eugène Terre’Blanche gekom het nie, maar eerder in die skoongeskeerde FW de Klerk en die Nasionale Party-koukus, wat PW uit die politiek geskouer het.

Freek se woorde het die afgelope week weer by my gespook oor wie die man gaan wees wat pres. Cyril Rama­phosa uit die Uniegebou kan verjaag.

Met al die onthullings hoe geld gevloei het na die sakke van Ramaphosa se kohorte wat hom gehelp en verseker het dat hy die ANC se presidentsverkiesing wen, maak nie goeie leesstof uit vir Suid-Afrikaners wat soveel vertroue in hom het nie.

Uit watter hoek ’n mens dit ook al bekyk, Cyril is op die agtervoet, want dié onthullings word gulsig opgeslurp deur sy politieke teenstanders.

Uit watter hoek ’n mens dit ook al bekyk, Cyril is op die agtervoet, want dié onthullings word gulsig opgeslurp deur sy politieke teenstanders.

Dis opmerklik dat die Ramaphosa-kamp tans soos ’n rugbyspan is wat in sy kwartgebied vasgepen word. Dis politieke skrum op skrum, lynstaan op lynstaan, met die Ramaphosa-vyftiental wat aanhoudend moet dooddruk.

En selfs wanneer die CR17-faksie in sy eie kwartgebied begin hardloop, skop die troika van Zuma-Magashule-Malema-aksie hom terug, onder meer met goedgemikte “openbarings” van “onderduimse optrede” in die ANC-leierskapverkiesing.

Ramaphosa mag dalk niks verkeerd gedoen het nie, want in ’n presidensiële verkiesings moet ’n mens diep sakke hê. Maar dis die beginsel wat tel. Hy moes oop kaarte gespeel het met Suid-Afrika en nie gewag het dat die openbare beskermer hom onkant betrap nie. Toe die eerste gerugte begin loop het, moes hy Suid-Afrika in sy vertroue geneem het.

Ramaphosa moes self in die kryt geklim het.

Maar wat doen hy? Hy stuur sy spindokter in om die vure dood te slaan. Met respek gesê: ’n spindokter is maar ’n funksionaris van die president se kantoor. ’n Uitvoerende hoof sal vir seker nie sy loonklerk instuur om ’n multimiljoen-transaksie met ’n internasionale beleggingsmaatskappy te beklink nie.

Ramaphosa moes self in die kryt geklim het. Sy verduidelikings dat hy ’n land het om te bestuur en dat die reg sy gang moet gaan, mag wel waar wees, maar dit gaan verby die gewone ANC-lid se ore, want al wat hulle hoor, is dat die ANC-president onder die duim van witmonopoliekapitaal is. Dié narratief word versterk deur Ramaphosa se teenstanders en die Ace Magashules en die Julius Malemas van die wêreld is glad nie lui om nog hout op die brandstapels te pak nie.

Want wat tans in Suid-Afrika aan die gebeur is, laat siniese buitelandse kommentators die hande saamslaan met: “Tipies van Afrika.”

Dit versterk die persepsie dat daar nêrens politieke leiers so oneerlik as op dié vasteland nie. En ongelukkig is die geskiedenis van Afrika besaai met grusame episodes van leiers wat hul mense na vryheid gelei het en daarna rot en kaal besteel het.

Soos hulle sê, die tandepasta is uit die buis. Ramaphosa behoort ons van verdere verleentheid te spaar en eerlik met ons te wees of daar nog geraamtes in sy kas is. Hy skuld ons ’n antwoord.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.