Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié tipe geduld noodsaaklik in Covid-19-tyd

Die Covid-19-pandemie beproef ons op verskillende maniere, tot verskillende grade, en in verskillende sfere van die samelewing. Die een eienskap wat die meeste beproef word, is ons geduld.

Kenners meen ons gaan nog lank met die virus saamleef, daarom die versoek van die medici en ander dat ons ons gedrag moet verander en aanpas.

Dit is nie net die virus wat ons geduld toets nie, maar ook dit wat daaruit voortvloei – die onverantwoordelikheid van sommige mense, die groeiende armoede, werkloosheid, geweld, en veral geweld teen vroue en kinders.

In sy boek How to Be Good in a World Gone Bad beskryf James Spiegel geduld as die gewag sonder om te kla. Om dit nog duideliker te omskryf, voeg hy by dat daar ’n mate van ongemak nodig is by die “wag sonder om te kla”. Hy gebruik die voorbeeld van iemand wat op ’n gas wag en ’n boek sit en lees. So iemand kan nie sê hy toon geduld bloot omdat hy nie kla nie, want hy verwyl sy tyd deur rustig te sit en lees.

Dus is die volledige definisie van geduld dan om ongemak te verduur sonder om te kla.

Om geduld of die bereidwilligheid om te wag sonder om te kla as deugsaam te beskryf, moet daar ’n mate van ongemak van die een of ander aard wees. Dus is die volledige definisie van geduld dan om ongemak te verduur sonder om te kla.

Dit roep volgens Spiegel ook ander deugde soos selfbeheersing, nederigheid en vrygewigheid op wat nodig is in ons demonstrasie en uitleef van geduld.

Geduld om te wag sonder om te kla terwyl ons ongemak, ongerief, pyn of lyding verduur, is sekerlik die moeilikste van alle vorme van geduld. Paulus bid in Kolossense 1:11 dat die Here ons krag sal gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

Hy sien die noodsaaklikheid van geduld, nie net vir ons morele en geloofslewe nie, maar ook as inherent belangrik vir ons integriteit as aanhangers van die evangelie en as navolgers van Jesus. Daarom moet ons oefen om geduldig te wees .

Geduld met jouself, met ander en veral teenoor God is belangrik en noodsaaklik. En met ons ongemak oor sosiale distansiëring, ons irritasie met die dra van maskers, die aanhoudende gewas van ons hande, die gedurige skoonmaak van werkoppervlakke, en die lang rye mense, toets ons geduld behoorlik.

Nou besef ons skielik hoe belangrik en noodsaaklik geduld as deug vir ons menseverhoudings en vir die vreedsame verloop van ons samelewing is. Net so kan ons nou sien en beleef hoe ongesond ongeduld vir ons fisieke, emosionele, geestelike en/of psigiese toestand is.

Moeder Teresa het gesê sonder geduld sal ons minder in die lewe leer. Ons sal minder sien. Ons sal minder voel. Ons sal minder hoor. Ironies genoeg beteken gejaagd en meer gewoonlik minder.

  • Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof  |  Korona  |  Geduld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.