Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die toekoms in die tyd van die koronavirus

Is die verlede al wat ons het in die tyd van die koronavirus? vra Naomi Meyer.

’n Verlate straat Sondag in Delhi, Indië. Foto: Getty Images

Ek is in die Hoërskool Stellenbosch se skoolsaal terwyl die land wag vir pres. Cyril Ramaphosa se toespraak.

Die saal is amper vol; tog is ek die enigste mens in die ry waar ek sit. Daar is net één ander met ’n mediakaartjie om die nek. Dalk is sy net so in twee geskeur soos ek: wil graag Die dinge van ’n kind beleef, maar wonder of die afgelope week se vol sale van die Woordfees dalk nie tog die allerbeste broeiplek van koronaviruskieme was nie. Vandag was daar vier nuwe gevalle.

“Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël,” sê Mart op die verhoog. Die land is vir haar onverstaanbaar met die Grensoorlog en die politiek. Sy beleef ’n ontwaking as jong vrou, saam met haar vriendin, wat ontdekkings van haar eie maak en, ten spyte van haar eie bravade, ook niks verstaan nie.

Die wonder van hierdie produksie, behalwe vir Cintaine Schutte se goeie toneelspel, is dat dit ’n mens terugneem na ’n era. Vir my na my eie studentedae.

Daar is ’n selfoonskerm tussen my en die uitsending, maar die musiek is ’n ligkol in my dag. Dis die enigste ligkol.

“Die verlede is al wat ons het,” skribbel ek in die donker op ’n papiertjie. Op pad motor toe, dink ek aan ’n universiteitsvriendin van my wat in April haar seun na ’n karatekampioenskap op Stellenbosch bring en met wie ek dan sal kan kuier. In die motor skakel ek die radio aan en hoor die laaste gedeelte van die president se toespraak. Kennelik het ek ’n baie belangrike deel daarvan gemis. Ek kom by die huis en my kinders lig my in: Die skool sluit vroeër.

Die Maandag begin dit: die styging in Covid-19-gevalle. En die virtuele uitsendings. My dogtertjie sou klavierkonsert gespeel het. In plaas daarvan ontvang ek ’n video-opname van haar klavierjuffrou. Daar is ’n selfoonskerm tussen my en die uitsending, maar die musiek is ’n ligkol in my dag. Dis die enigste ligkol.

Ek lees van die ryskorrels op ’n skaakbord in hierdie artikel:

" ’n Uitvinder het ’n skaakbordspel aan ’n koning voorgelê. Die koning was so bly en beïndruk dat hy voorgestel het die uitvinder kan sy eie prys daarvoor bepaal. Die uitvinder het gevra vir rys – en die spesifieke hoeveelheid (getal ryskorrels) sou bepaal word deur ’n baie eenvoudige formule: plaas een korrel op die eerste blokkie, twee op die tweede, vier op die derde, ens; verdubbel dus elke keer die vorige blokkie se getal – tot by die 64ste blokkie. Die koning het ingestem, maar het gou agtergekom dat hy ingeloop is. Toe hulle by die helfte van die bord kom, was sy kasteel reeds propvol rys, en slegs die volgende blokkie sou dit verdubbel. Die 64ste blokkie sou ’n oneindige hoeveelheid rys voorstel. Dinge begin mal raak op die tweede helfte van die skaakbord. Dit is hier waar die getalle onbegrypbaar begin raak."

Is die virus so erg?

Cintaine Schutte in “Die dinge van ’n kind”. Foto: Aardklop

Aan die deurknoppe sit kieme, mense kyk mekaar wantrouig en met samehorigheidsgevoel (op ’n afstand) aan.

“Ons is saam in hierdie ding,” sê ek vir ’n vreemde verkoopsdame. Sy trek haar skouers op. Sy het die persoon voor my se kruideniers opgelui, en nou raak haar hande aan my kruideniers. Ná my volg daar nog iemand. Hoeveel ryskorrels is daar nou al op die bord? Ek bekyk die lug wat almal by wie ek verbystap, omhul.

Later lees ek wat skryf Adriaan Basson: “Many of us will get the coronavirus and some will die.” Ek lees wat skryf ’n joernalis in die Irish Times: Róisín Ingle: “We are living in a science fiction movie and nobody knows how it will end.”

Is die virus so erg soos wat almal sê? Daar is ’n hoes in nog ’n gang, nog twintig nuwe gevalle, nog dertig nuwe WhatsApp-grappe. Hoe erger dit in die land gaan, hoe snaakser word dit. As dit in die hele wêreld vreeslik gaan, vermenigvuldig ook die grappe soos verraderlike ryskorrels.

Die WhatsApps wat ek ontvang, is nie net grappig nie. Daar is entrepreneurs wat kos verkoop of mense wat mekaar vertel watter boeke hulle gaan lees. Ek sien daar is nog honderde sterfgevalle in Italië.

In die Groot Depressie moes hulle derdehandse klere dra, of skoene wat nie gepas het nie. Op die Groot Depressie het ’n Tweede Wêreldoorlog gevolg.

Rondom my begin die roetine lostrek, soos tweedehandse klere.

Alle sport is gekanselleer. Die krieketproewe gaan nie voort nie. Die kunstefeeste en kunswedstryde en menslike byeenkomste is afgestel.

Iewers lees ek van die groot D.

In die Groot Depressie moes hulle derdehandse klere dra, of skoene wat nie gepas het nie. Op die Groot Depressie het ’n Tweede Wêreldoorlog gevolg.

Nee, al die omstandighede was anders. Die prokureur wat juis ’n dag of twee gelede my en my man se testament opgestel het, het vertel van ’n gesprek wat hy by die Woordfees bygewoon het: hoekom die Groot Griep van 1918 anders was as nou. So baie faktore.

“Ons almal het nou soveel meer kennis. Ons weet ons moet ons hande met seep was.”

Ons was vroegoggend by die prokureur, voor werk.

Naomi MeyerFoto: Izak de Vries

Sy vrou was getuie en sy seuntjie was ook by. Enkele dae gelede was dit toelaatbaar: klein byeenkomste. Die roetine van skool toe gaan was aan die orde van die dag, van in die motor klim en in die dorp tussen skares wees.

Die logika van kruideniersware. Die reg van vrye toegang, van vervoer, van menslike interaksie.

Ek werk aan betaalstate, wie gaan geld aan die einde van die maand ontvang. Die maand het nog datums, daar is nog ’n begin en ’n einde, ’n soort struktuur. My universiteitsvriendin stuur ’n boodskap en ek weet reeds voordat ek dit lees: die karate is gekanselleer.

Melanie Verwoerd skryf oor al die verskillende werklikhede van die mense in die land.

Ons bure in die kompleks, hoor ek, is nie so bekommerd soos ek nie. Hulle braai vleis en speel klipharde musiek. Hulle afsondering is nog nie verbode nie, hulle is nie honderd mense nie, ook al lawaai hulle genoeg dat hulle klink soos ’n duisend.

Ek kyk na ’n privaat-e-pos wat ek nie deur die dag kon lees nie: my kind het toelating tot ’n goeie hoërskool ontvang. Die nuus word met gedempte stilte begroet.

Ons het mekaar met gelatenheid aangesteek. Die afgelope paar dae voel soos Die dinge van ’n kind, met die verlede al wat oorgebly het. Die korona laat ons terugkyk en na binne kyk.

En ek sukkel om die gedagte af te skud: waar ons nou is, beroof die korona ons van die illusie van ’n toekoms.

* Naomi Meyer is ’n skrywer en inhoudsbestuurder van LitNet. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Adriaan Basson  |  Cintaine Schutte  |  Koronavirus  |  Verlede  |  Toekoms  |  Groot Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.