Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die toneelstuk is belangriker as die akteurs

Albei kante het in die afgrond gekyk. Albei het nie gehou van wat hulle sien nie. En dus het albei ’n tree agtertoe gegee.

Dít is, kortpad gevat, die kern van die handelsooreenkoms wat pres. Donald Trump van Amerika en Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie (die EU se “kabinet”), vandeesweek in Washington gesluit het.

Daarmee is die dreigende handelsoorlog tussen Amerika en die EU voorlopig – met die klem op “voorlopig” – afgewend.

Uiteraard het albei kante op ’n oorwinning aanspraak gemaak. Só werk die politiek nou eenmaal. Maar inderwaarheid kan álbei tevrede met die ooreenkoms wees. En, trouens, die hele wêreld saam met hulle.

Ondanks Trump se twiet ’n paar weke gelede – “Handelsoorloë is goed en maklik om te wen!” – is niémand ooit die wenner in ’n handelsoorlog nie. Selfs al wen jy op kort termyn, wys die geskiedenis van die 20ste eeu onverbiddelik dat ’n handelsoorlog die hele wêreld benadeel. En daarmee sny die “wenner” homself ook in die vingers.

Trump se skielike bereidwilligheid om iets toe te gee, val nie uit die lug nie. Hy was die laaste weke onder kwaai druk in sy eie land.

Trump se skielike bereidwilligheid om iets toe te gee, val nie uit die lug nie.

Onder sy eie Republikeinse Kongreslede was die druk massief. Daar was tekens dat die ontevredenheid ook onder burgers wat deur die handelsoorlog benadeel sou word, veral sommige boere en fabriekswerkers, opgebou het.

Dat hulle oorwegend in deelstate woon wat Trump in 2016 naelskraap gewen het, en dat die tussentydse Kongresverkiesings oor iets meer as vier maande plaasvind, het ongetwyfeld ook iets met Trump se gesindheidsverandering te make.

Immers, as die Demokrate in November wen, bestaan die moontlikheid dat Trump amptelik in ’n staat van beskuldiging gestel en uit sy amp verwyder kan word.

Die ooreenkoms tussen Trump en Juncker wys dat Trump sy bot onversetlikheid kan laat vaar as sy belange bedreig word. Dit wys trouens dat Trump verstandig kan wees as hy wil.

Natuurlik het Juncker ook toegewings gemaak. So gaan die EU groot hoeveelhede sojaboontjies en Amerikaanse aardgas invoer, wat goed is vir Trump se binnelandse gewildheid.

Dit pas in die tweeledige strategie wat die belangrikste Europese leiers afgespreek het: Probeer die skade in die betrekkinge met Amerika soveel moontlik te beperk, en tel die drade op wanneer hy eenmaal van die toneel verdwyn het en gaan dan voort. Uiteindelik gaan dit immers nie slegs om die akteurs op die verhoog nie, maar om die toneelstuk self.

Alle probleme is nie hiermee opgelos nie. Enersyds is die ooreenkoms slegs ’n – weliswaar belangrike – verklaring van voorneme; andersyds moet die handelsoorlog met China nog opgelos word. Nietemin, ’n begin is gemaak. Dis genoeg rede vir algemene vreugde.

Meer oor:  Donald Trump  |  Jean-Claude Juncker  |  Eu  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.