Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die twee kante van die taximan
Jean Meiring

Die gees van Kersfees lê soos kapok die wêreld vol gesaai. In Kaapstad ook, so wil dit blyk.

Gister lees ek op ’n sekere alom bekende webblad dat ’n Kaapse taxibestuurder, wat uit Zimbabwe sy heil hier kom soek het, hom anderdag trompop teen die te verwagte goedhartigheid en deemoed geloop het.

Vroegoggend op 15 Desember luier hy agter sy stuurwiel buite die DecoDance-nagklub in Seepunt. Uit die donker word hy deur ’n spulletjie genader wat in helder styfpas-sportklere getooi is.

Een uit hul geledere het ’n oordosis tiermelk in en moet ylings droomland toe. Sal die gawe drywer nie tog die beskonkeling en ’n maat, wat sy hand moet vashou, die entjie na ’n nabye woonstelblok neem nie?

Die rit is kort, maar brood is brood.

Die handvashouer – in ’n lemmetjiegroen borstelyf en ’n wit-en-rooi ban­dana geklee met ’n bypassende buiksak – lig die bestuurder in dat hy die dorsaard gewoon bed toe sal help en ’n oogwenk lank lawe.

Dán kom hy terug motor toe – om hom weer klubwaarts te wend.

Met die terugrit sal daar by ’n geldoutomaat aangedoen moet word om velle te trek, ook – goedgunstiglik – ietsie vir die wag.

"Wag net hier,” sê Moeder Teresa. “Ek’s oor 15 minute terug."

“Wag net hier,” sê Moeder Teresa. “Ek’s oor 15 minute terug.”

Die karweier wag en hy wag. Gou is ’n halfuur verstreke.

Iets is nie pluis nie. Hy nader die deurbewaker en doen navraag oor waar Dawid die wortel kon begrawe het.

“Nee,” kom dit terug. “Die kleurmannetjie het blykbaar drie minute ná hul aankoms, met Adoons sluimerend in die kooi, op ballettone weer sy opwagting buite gemaak.”

Die donker nag het hom ingesluk soos hy met snaar en stramboel terug klub toe is.

So reg uit Die biblioteek aan die einde van die wêreld, Etienne van Heerden se pasverskene roman wat juis kommer oor dié bespiedende oë verwoord, lê die drywer sy hande op sekuriteitskamera-beelde van die binnekant van die woonstelblok se ingangsportaal.

Hy laat hulle op die internet vry, op soek na sy skuldenaars.

My boodskap aan my broer-uit-’n-ander-buik is dít: Ek vergewe jou.

Op die kleurkiekies het Groenie sy onvaste mater koesterend om die lyf, laasgenoemde se arm maak – om een van Van Heerden se geliefde uitdrukkings effe te herontplooi – ’n swaanboog om die stutjonge se nek.

Die motorman vertel neffens die beelde die treurige verhaaltjie. En spreek dan in ’n treffende apostroof, iets in dier voege, sy passasier aan.

“My boodskap aan my broer-uit-’n-ander-buik is dít: Ek vergewe jou. Ek plaas geensins enige blaam op jou nie. Dit sou kon wees dat jy só grootgemaak is, dat jy geleer is om geen respek vir ander mense te hê nie.

“Die manier hoe jou woorde soos heuning was, laat my dink dat dít nie die eerste keer is dat jy so iets gedoen het nie. As ek als oordink, tref dit my dat jy dalk ’n professionele bedrieër is.

“Jy kon gewoon reguit vir my gevra het dat ek jou gratis aflaai. Ek sou jou beslis gehelp het.

“Jy mag dink dat dit ’n kleinigheidjie is, maar jy’t brood van ons tafel weggeneem.”

Met Van Heerden se roman pas klaar gelees, is ek alte bewus oor hoe die woede binne my op vinnige agterpote kom. Is hierdie ruising wat soos vuur deur die internet skeur nie juis wat met een van Van Heerden se hoofkarakters gebeur het nie?

Wat immers van die ou regsreël dat ’n mens beide kante van ’n saak moet aanhoor voor jy ’n oordeel vel?

Lemmetjiebors, die beskuldigdebank se mikrofoon wérk, selfs oor die Kersgety.

Meiring is ’n regsgeleerde van Johannesburg.

Meer oor:  Jean Meiring  |  Passasiers  |  Taxibestuurder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.