Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die twee kiekies teen die muur bokant die bed

Ja, natuurlik was daar politiek in die Klein-Karoo.

Abraham H. de Vries

Die Natte daar het met Fords gery en die Sappe met Chevs. Die Fords se garage was links nes jy by die dorp inkom en die Chevs s’n in die hoofstraat.

Bo onder die berg het deske jare selfs ’n “kommunis-gesin” ’n huis gehad, een met ’n Amerikaanse kombuis.

Hul dogter het iewers in die buiteland gewerk en sy het later daar aan ’n man verloof geraak. Die paartjie het hier kom trou en die onthaal was in die plaasrestaurant.

’n Maand later is hulle terug, maar eers nadat die bruidegom in ’n Kaapstadse hospitaal was.

Hulle wittebrood is bederf deur ’n aanval een aand in ’n stillerige straat in die Tuine. Tóé al.

Selfs jare later, nie ná hul tweeling se geboorte en dáárna die demokratisering van die land, was hulle weer hier nie.

Die mense het begin skinner met hul vrese en oor die politiek.

In ons huis was daar vir politiek min trek.

Hoekom weet ek nie, want Pa se beste vriend (wat jonger was as hy, “want ek het hom op my rug grootgedra”) was ’n lid van die destydse Volksraad.

Dié twee kon aande om gesels, veral in die winter as die Bolinder-houtstoof brand en die brandhout en die koffie tussen die gesels deur gesellig ruik.

Ma kon, as dit moes, gou sago-melkkos maak as die vriend onverwags daar opgedaag het.

Politiek se skinnerstories het hy, soos Pa sou sê, voor die werf se hek gelos. Want regte stories vertel die waarheid sonder om te wil hê jy moet dit glo.

Dis juis skinnerstories oor twee foto’s wat glo langs mekaar bokant hulle bed gehang het wat die voorbaatse “kommuniste” die storie oor hul politiek besorg het.

Met jou selfoon kan jy darem as jy wil gaan kuier, seker maak jou vriende lewe nog.

Die man aan die linkerkant teen die muur het ’n yslike bles gehad – byna nes pa s’n – en die een langs hom ’n woeste snor en ’n langmouhemp wat tot styf onder sy keel toegeknoop was.

Die “kommunis” se vrou het altyd ’n kamera by haar gehad, oral foto’s geneem.

Dis hoekom ek gedink het – wat almal in ons plaasskool sou dink – dat die man met die bles ’n Calitzdorpse boer was, en die ou regs teen die muur met die toeknoophemp ’n afgetrede boer op Lappiesbaai.

Nou het ons al jare lank ’n nuwe politiek. Ons dorp het garages vir vier of meer soorte motors, selfs Mercedesse.

Maar die strate word nie meer skoon gehou nie. Die politici praat meer as wat hulle luister na die mense wat al hoe armer word.

Met jou selfoon kan jy darem as jy wil gaan kuier, seker maak jou vriende lewe nog.

Die “kommuniste” se huis het lank leeg gestaan voor dit lank gelede verkoop is.

Die laaste keer wat ek daar rondgeloop het, het Lenin en Stalin se foto’s vol stof agter ’n leë boekrak in die gang gelê.

Dit was net die vergrote kiekies van die kleinkinders, die tweeling in Australië, wat nog in die verlate slaapkamer gehang het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.