Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die tyd vir praat is verby, Tito

Tito Mboweni lewer aan die einde van die maand sy toespraak oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR). Die komende weke is allerbelangrik vir sy boodskap oor die ekonomie om gestalte te kry.

Judith February
Judith February.

Dit gaan tyd neem om die omvang van die verrotting in die Zuma-jare te verstaan en iets daaraan te doen.

In pres. Cyril Ramaphosa se geval moet hy met ’n staat werk wat só deur korrupsie en staatskaping uitgehol en verswak is dat dit moeilik gaan wees om sy beloftes na te kom. Wat Mboweni betref, het ons ’n finansminister wat nie bang is om die “heilige koeie” van afleggings en reddingsboeie aan die staatsondernemings aan te vat nie.

Sy ekonomiese bloudruk, wat laat in Augustus bekend gemaak is, het gemengde reaksie ontlok.

Mboweni het gesê hy is nie die minister van reddingsboeie nie. Die bloudruk sluit in ’n inskiklikheid jeens privatisering en regulasies wat dit makliker sal maak om sake te doen en groei tot 3% te verhoog terwyl werk geskep word. Dit sluit ook ’n voorstel in om Eskom se steenkoolkragstasies te verkoop. Uiteraard is Cosatu sterk hierteen gekant.

Vanjaar se MTBR gaan die fokuspunt in Oktober wees. Die ekonomie gaan ook oor die politiek, en Mboweni se toespraak sal dus fyn dopgehou word vir aanduidings van die ANC se standpunt oor sekere ekonomiese sleutelkwessies.

Enige minister van finansies het geloofwaardigheid, ’n sterk insamelingsdiens en ’n ewe geloofwaardige tesourie nodig. As deel van die genadelose aanval op ons demokratiese instellings is sowel die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) as die nasionale tesourie erg verswak. Edward Kieswetter, die nuwe kommissaris van die SAID, werk onverpoosd om die instelling weer op te bou, maar dit gaan tyd neem.

Mboweni gaan ons inlig wat die begrotingstekort is. Omdat die ekonomie so traag is, word dit op ongeveer R50 miljard geraam. Waar gaan die geld gevind word om die tekort aan te vul, en nog belangriker, hoe en waar gaan uitgawes gesny word?

’n Mens kan nie help om te dink dat Mboweni eenvoudig dapper moet wees en die moeilike besluite wat die regering moet neem, moet verduidelik nie.

Sy begroting moet ook dringend die verkwistende en nuttelose uitgawes in die regering beëindig. Mboweni is nie die minister van reddingsboeie nie, maar hoe gaan Eskom reggeruk word? Gaan dit in drie verdeel word, en indien wel, wanneer? Die ANC se antwoord is onduidelik.

Maar dit is nie net Eskom wat die fiskus laat leegloop nie. Die SAL is in ’n onmiddellike krisis met werknemers wat einde September gedreig het om te staak. En dan is daar Denel en Prasa en ’n lang lys van korrupsie en wanbestuur. Die staat is ook stadig en ondoeltreffend met die betaling van sy verskaffers en versmoor daardeur kleinsake-ontwikkeling.

Daarby moet die regering se nuwe planne vir die Nasionale Gesondheidsversekering gefinansier word. Gegewe die beperkings van ons ekonomie is die logiese vraag hoe hierdie finansiering gevind gaan word.

’n Mens kan nie help om te dink dat Mboweni eenvoudig dapper moet wees en die moeilike besluite wat die regering moet neem, moet verduidelik nie. Dan moet hy en sy kollegas tot aksie oorgaan.

Suid-Afrika praat veels te veel en doen veels te min. Die tyd vir eindelose besprekings moet seker nou verby wees. Hoe gaan die ANC, wat vasgevang is in faksiegevegte en verdelings en verslaaf is aan die trog van staatsondernemings, dit insien?

Of Mboweni kan vuurmaak onder mense (en daardeur onder die ekonomie), hang af van sy ware mag in die kabinet en die ANC – en of Ramaphosa daarin gaan slaag om op sy tande te byt en die moeilike besluite sal neem wat nodig is om die ekonomie te red en vertroue ná die verwoestende Zuma-jare te herstel.

Meer oor:  Judith February  |  Tito Mboweni
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.