Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die uitpik van ’n leespad is ’n belegging

’n Week gelede bestel ’n advokaat uit Brooklyn Square boeke. Omdat ek voor Kersfees alle pakkies op die eienaars se skote wil hê, word sy pakkie onverwyld opgemaak en ek stuur die gryse poskantoor toe.

Annelie Botes

Dié stapels pakkies hanteer ek vrou-alleen. Die gryse help met die pos, maar hy faktureer my met ’n regmerkie op die winkelboekie wat teen die yskas vassit. R10 per pakkie. Om administratiewe wanorde te vermy, word géén boeke gepos alvorens die betaling op my bankrekening wys nie. En die gryse draai nie die motorsleutel voordat hý nie betaal is nie.

Só wil ek bloedgraag die advokaat se pakkie op die posdonkies se karretjie laai, sodat hulle kan aanstap. Hulle is nie vinnig nie, en ’n donkie kan nie in die loop pie nie, so die karretjie moet aftrek vir die donkies om stil te staan. Nou wil ek vir almal wat so kla oor die poskantoor iets sê. Sedert 2016 het ek 1 522 pakkies via die poskantoor gepos. Iedereen het sy bestemming bereik. Soms verkreukeld ná ’n swerwery, maar nogtans.

Daar trek die donkies met die advokaat se pakkie, sonder ’n inbetaling. Tong in die kies e-pos ek vir hom dat ek geen bewys het wetsgeleerdes is boereverneukers nie, en geen leser het my al ooit bevark nie; ek kan nie sien hoekom hý nommer een sal wees nie. Maar ingeval hy ’n deurtrapte jakkals is, stuur ek ’n stringetjie selfgemaakte bidkrale en ’n roosmaryntakkie uit ons tuin saam. Want as dit moet, gaan ek sy hakskeenvelle aftrap.

Genadiglik het hy ’n sin vir humor, deesdae ’n skaars karaktertrek. Mense is kortgedraad en frons asof hulle vrotpootjie ruik. So tussen die geskerts deur raak hy iets kwyt wat my sal bybly tot in my krom dae. Hy skryf: “Mense wat lees, steel nie. En mense wat steel, lees nie.”

Hy skryf: ‘Mense wat lees, steel nie. En mense wat steel, lees nie.’ Dit het my voor die bors gegryp.

Dit het my voor die bors gegryp. Want daar groei ’n penwortel in daardie woorde.

Die mens word nie gebore met wysheid in pag nie. Lees is ’n goudmyn waaruit die mens eindeloos behoort te put om wysheid te bekom. Daarsonder is dit bykans onbegonne om jou horisonne te verbreed.

Nou dink ek op my eentjie oor diegene wat nog mik om Kersgeskenke te koop. Wat van boeke? Wat van stapels opgegaarde tydskrifte waarin jy nooit weer sal blaai nie? Sit dit op die Salvation Army se stoep. Deel by verkeersligte uit. Gee aan motorwagte, ouetehuise en sukkelende skole. Maak van leeskanse ’n weergalose geskenk.

As kinders had ons raaiselboeke. Een raaisel vra: Daar groei ’n boontjie voor my deur, sy ranke loop die hele wêreld deur . . .? Die antwoord: ’n Pad.

Hoe salwend sal dit wees as die belese mensdom sonder verposing ’n leespad kan uitpik tot aan die donker uithoeke van die aarde. Dit sal nié verspilde sweet wees nie. Dálk eer meer siele die agste gebod wat sê jy mag nie steel nie.

Ook nie ander se vrede, waardigheid, vreugde of hóóp nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Kersfees  |  Van Alle Kante  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.