Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die universiteit as ’n idee
Foto ter illustrasie: iStock

Ons kan gerus nog meer oor universiteite praat in Suid-Afrika.

Gesprekke oor die universiteit in veral Afrikaanse kringe het te lank grootliks oor die kwessie van die taal (in die sin van onderrigmedium) gehandel. Daardie debat is nou afgesaag. Daar is soveel ander en meer opwindende kwessies wat die idee van die universiteit aan die orde stel.

Om mee te begin: Bloot die uitdrukking “die idee van die universiteit”, moet ons veral laat nadink. Wat is ’n “idee”?

Ek sou sê ’n idee is ’n middel of konstruk deur middel waarvan ons dink. Die denkoperasie wat deur idees moontlik gemaak word, is die daad van interpretasie.

Met behulp van idees interpreteer ons die relatiewe waarde of belang of relevansie van dinge in ons ervaringsveld.

Demokrasie is die swakste vorm van regering wat ooit bedink is – behalwe vir al die ander wat al beproef is.

’n Voorbeeld van ’n idee is Winston Churchill se uitspraak: “Demokrasie is die swakste vorm van regering wat ooit bedink is – behalwe vir al die ander wat al beproef is.”

Idees behels waarde-oordele en kan altyd bevraagteken word. Met ons idees bepaal ons individueel en kollektief wat, op die vlak van denke en verstaan, vir ons die meeste sín en sáák maak.

Sommige idees dra soveel gesag dat ons nie meer besef dat hulle bloot idees en daarom altyd betwisbaar is nie.

Een so ’n idee is die idee van die universiteit. Wat is daardie idee? My definisie: ’n Universiteit is die institusionalisering van die idee dat wetenskaplike kennis die beste en mees betroubare kennis is, en dat vertroudheid met sodanige kennis aan mense die beste voorbereiding vir die lewe bied.

Weer eens: Ek sê nie my definisie is onfeilbaar nie. Kan daar nie immers na ander vorme van voortgesette opleiding verwys word wat ’n mens ewe goed of beter vir die lewe voorberei nie?

Kan daar nie immers na ander vorme van voortgesette opleiding verwys word wat ’n mens ewe goed of beter vir die lewe voorberei nie?

Tog, ek sou staan by my definisie. Dit gee daaraan uitdrukking dat die idee van die universiteit in ons tyd meer geword het as ’n blote idee. Dit het al soveel gesag verwerf in ons kultuur dat dit ’n instelling geword het – dit is “geïnstitusionaliseer”.

Dit beteken ons tref dit reg oor die wêreld aan dat mense optree in ooreenstemming met die idee van die universiteit.

’n “Instelling/institusie” is niks anders nie as die feit dat mense nie slegs individueel nie, maar gesamentlik handel of optree.

Vandaar die amper universele status van universiteite as die instellings waartoe mense die meeste aspireer met die oog op hulle en hul nasate se opvoeding.

Die sukses wat universiteite tot nou reeds behaal het, het veral te make met die soort waardes wat hulle ons leer as dit kom by die beoordeling van kennisaansprake en teorieë.

Dit is waardes soos: rasionaliteit – die eis dat slegs die krag van die redelike argument bepalend is vir die geldigheid van kennis; objektiwiteit – die eis dat wat ek beweer, deur enigiemand anders wat oor die nodige agtergrondkennis beskik, gekontroleer moet kan word; genuanseerdheid en die oop gesprek – die eis dat ek nie slegs die verkeerde nie, maar ook die goeie en die waardevolle in ’n opponent se standpunt sal sien, en genuanseerd met hom/haar kan saamstem of verskil.

Universiteite is merkwaardige prestasies van ons kultuur. Hulle bemiddel waardes en is in die proses self een van die belangrikste waardes van ons wêreld.

Tog bestaan hulle nie in lugleegtes of as ivoortorings nie. Hulle is ál meer verweef met die eise van die alledaagse lewenspraktyk.

Ons het lankal uitgevind dat kennis mag is en die wêreld al hoe meer verander.

Daarom staan universiteite ook al hoe meer aan die voorpunt van ’n ekonomie wat in ons tyd ’n “kennis-ekonomie” geword het.

Aan die vooraand van ’n “vierde nywerheidsrevolusie” is die samelewing se verwagtinge van universiteite hoër as ooit.

Van Niekerk is professor in filosofie en direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.