Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die verhaal van verval in dorpe oor die land heen

’n WhatsApp-boodskap net voor Kersfees het tot ’n bespreking gelei wat die verhaal vertel oor wat aangaan in Suid-Afrika buite die ietwat bedorwe lewens wat ons in die Wes-Kaap lei.

Die boodskap, op ’n Saterdagaand op ons buurt se groep, het gelui: “Water spoel oor ’n pad buite die supermark, aangemeld by die stadsraad”. Binne ’n halfuur het die volgende boodskap gekom: “Stadsraad se span op die toneel.” En nog ’n halfuur later: “Probleem opgelos.” Ek het nie veel daarvan gedink nie – dit was nie iets om oor opgewonde te raak nie.

My broer David en sy vrou, Gill, by ons op besoek van Harrismith in die Vrystaat, was verstom oor die Whats- App-boodskappe. Hulle het ’n terneerdrukkende verhaal vertel oor die ineenstorting van infrastruktuur in Harrismith, wat onder die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit val, ’n gebied van 4 338 km² groot, met meer as ’n miljoen inwoners, insluitend die grootste gedeelte van die voormalige tuisland Qwaqwa.

Dit is een van die Vrystaat se ekonomiese sleutelgebiede, ’n belangrike deurgangroete na die Drakensberge, Golden Gate Nasionale Park en die Sterkfonteindam. Die N3-eenstop Bergview is ’n gewilde stilhouplek op die Johannesburg-Durban-hoofroete. Die mooi Wilgerivier, ’n hoofsytak van die Vaalrivier, vloei deur die dorp. Maar dinge val uitmekaar.

Die munisipaliteit skuld Eskom meer as R4 miljard en is onder administrasie sedert 2018 toe die burgemeester te midde van bewerings van korrupsie uit sy pos verwyder is; die gebied moet vir weke op ’n slag sonder water klaarkom; vullis word nie verwyder nie; riooldienste het ineengestort en onverwerkte rioolvuil vloei deur die strate tot in die Wilge- en dan die Vaalrivier; die paaie is vol slaggate; en die plaaslike ekonomie is op die rand van ineenstorting. Die Bergview-eenstop moes groot uitgawes aangaan om nie meer van die netwerk afhanklik te wees vir krag en water nie.

Ná 40 dae sonder water het die boer Petrus van Eeden gaan ondersoek instel.

Hier kom ’n groep plaaslike wit boere, swart gemeenskapsleiers en ander nou in die prentjie. Ná 40 dae sonder water het die boer Petrus van Eeden gaan ondersoek instel. By die watersuiweringsaanleg het hy die gemeenskapsleier Sam Twala ontmoet, en hulle het besluit om dinge reg te maak. Só is die sogenaamde Waterhelde gebore. Hulle maak die watervoorsiening en slaggate reg, sorg dat vullis verwyder word, en lewer dienste wat die munisipaliteit behoort te voorsien.

My vrou is ’n vervaardiger by Carte Blanche, en aan die einde van die gesprek het sy gesê: “Dit klink na ’n Carte Blanche-storie.” Verlede week was ’n Carte Blanche-span in Harrismith en Qwaqwa waar hulle ’n insetsel oor die Waterhelde geskiet het (dit is Sondagaand uitgesaai, maar jy kan dit op YouTube gaan kyk).

Die mense van Harrismith het pres. Cyril Ramaphosa se thuma mina-oproep beantwoord. Hulle wil dit regmaak wat weens jare van korrupsie en diefstal onder oudpres. Jacob Zuma se ANC en die premierskap van Ace Magashule gebreek is.

Dit is ’n storie van korrupsie en verval wat in klein en groot dorpe oor Suid-Afrika heen herhaal word en waar die mislukking van basiese dienste tot grootskaalse agteruitgang van die omgewing bydra.

Gaan die regering luister na dié mense soos die Waterhelde, wat op die thuma mina-uitdaging geantwoord het? ’n Mens kan maar net hoop.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Natuurbewaring  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.