Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die verlange na God in eietydse taal verwoord

As ek die lewensvreemdheid van abstrakte kerkspraak hoor en lees, dink ek onwillekeurig aan die filosoof Johan Degenaar (1926-2015) wat baie krities was oor die kerk, meer bepaald die NG Kerk se versuim om op nuwe maniere oor die godsdienstige lewe te dink, te praat en te skryf.

Wilhelm Jordaan

Op ’n keer het hy gesê: “Ons moet besef dat as ’n kerklike diskoers mense viktimiseer dan is daar ’n behoefte aan ’n nuwe diskoers en is dit ons verantwoordelikheid om ’n vrymakende taal te skep wat die wêreld waarin ons woon op ’n nuwe manier struktureer.”

Die gangbare betekenis van “viktimiseer” is dié van teistering en onbillike behandeling. Die verhaal van die kerk is inderdaad een van teistering en onbillike behandeling van mense wat nie die kerklike besluite, belydenisse, diktate en voorskrifte “nagekom” het nie. ’n Enkele sprekende voorbeeld is die viktimisering van gay lidmate en predikante wat plek-plek nog voortduur ondanks tekens van “nuwe” amptelike denke en taal daaroor.

Degenaar se manier van kyk na kerklike denke en taal is van besondere betekenis, byvoorbeeld in die geval van die Pinkstermisterie. Dit verwys na ’n gebeurtenis eeue gelede toe die Heilige Gees uitgestort is; ’n dag van rukwinde met vuurtonge wat op mense se koppe dans, en vreemde tale wat soos fonteine uit hul monde borrel. En almal het dit verstaan, want dit was die taal van die hart in ’n premoderne wêreld.

Tog jammer dit gebeur nie meer nie, nè? Want watter skouspel sou dit nie wees nie! Met ’n kleinkind wat langs jou sit en in die taal van die tyd sê: “Awesome, Oupa, awesome.”

Op sy unieke manier was Degenaar gevoelig vir misterie. Tydens ’n lesing by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn het hy gesê: “Taal kan alles herskep en nuwe wêrelde oopmaak.” Ter illustrasie lees hy ’n gedig deur Annette Snyman:

Die digter wens vir ’n vrymakende taal en die terugkerende bekoring van ’n verbygegane tyd.

“Gee my net één dag soos toenterjare, / ’n dag vol soetwyn in Jerusalem, / g’n drome droom – gesigte sien – / ’n dag wat van wind en vlamme sing! / Maak van my so ’n nuwe Pinksterling / dat ek die taal waarin ek gebore is, / my eie klank, in elke geelvink en kanarie hoor; / by tortels en die kokkewiet se kind / die ABC van duisend warm woorde vind!”

Die digter wens vir ’n vrymakende taal en die terugkerende bekoring van ’n verbygegane tyd. Maar nou in ’n ander gietstuk – uit ’n Afrika-bodem in ’n eie Afrikaanse klank wat borrel in die alfabet van ’n nuwe spreekwyse oor die mens se eeue oue verlange om iets van God te begryp en ’n goddelike teenwoordigheid te ervaar.

Haar gedig sê ook die oorspronklike inspirasie het nie verdwyn nie. Dit staan in die teken van nuwe moontlikhede wat nóú kom uit die nágloed van tóé; dat die uitgestorte geloofsenergie van eeue gelede onvernietigbaar voortduur.

En dít gee jou ’n eie klank en laat jou van binne gloei soos ’n klein kooltjie in ’n kaggel. Sodat jy weer vuur kan word en vlam kan wees . . .

  • Jordaan is ’n emeritus-professor in sielkunde.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.