Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die verlede lê ook in reuke

Stel jou voor: ’n Stad met oop rioolgragte. Yskaste, preserveermiddels bestaan nie. Jou bure meen bad is gevaarlik; dit kan ’n man siek maak.

Jana Luther

Die reuk van ontlasting, vrot kos is alomteenwoordig, maar ook ander geure. Langs die gragte groei lindebome met welriekende bloeisels, op bleikpersele word wasgoed gewas. Die rykes dra gepoeierde pruike, smeer pommades aan hul hare, dra geurige hars – van amberbome en uit die ingewande van potwalvisse – aan kettings en in wandelstokke. Mirre, algemeen in parfuum en medisyne, word as wierook gebruik om die reuk te verdring van oorledenes wat begrawe word.

In Europa karteer ’n span wetenskaplikes uit verskillende vakgebiede nou dié reuke en geurpersepsies van die verlede. Belangrike bronne is ou Latynse resepteboeke vir medisyne, romans, reisverhale, koerante.

Om reuke en geure te beskryf, is moeilik, sê ’n taaltegnoloog, dr. Marieke van Erp, aan scientias.nl. Iets kan vreemd, sleg, soet, sterk, dalk soos vis, kaas of ou sokkies ruik, maar gestel dis vanielje en niemand weet wat dit is nie. Hoe verduidelik jy die geur? Dis soet, maar nie soos reukvrye suiker nie.

Behalwe dat ruik ’n persoonlike ervaring is, is die neus vir talle die mins belangrike sintuig. Hoor, sien, voel, proe is vir ons belangriker.

Daarom is geurmeesters met ’n absolute reuksin nodig. Volgens die werf NEMO Kennislink word omtrent 3 000 geure onderskei. ’n Geurmeester moet dié geure memoriseer en blindelings kan herken. Maar eers moet die taal van geure aangeleer word: woorde soos “aards”, “groen”, “rokerig”, “soet”, “vars”, “vrugtig” . . . Vir elke geur is daar ’n standaardmengsel of -stof wat altyd dieselfde ruik, soos die organiese verbinding cis-3-heksenol vir die reuk van varsgesnyde gras.

In vandag se steriele omgewings wil ons onsself en ander nie ruik nie.

In vandag se steriele omgewings wil ons onsself en ander nie ruik nie. Ons kyk eerder na vervaldatums as om kos te besnuffel. Om die lug te verfris word natuurlike reuke chemies nageboots; plastiek ruik soos leer, kleuters verwar uitveërs met aarbeie. Naas ’n visuele logo spog menige maatskappy deesdae met ’n geurlogo, laat dit uit lugversorgers blaas sodra mense ’n gebou binnestap.

Op dieselfde manier word reuke met kunsuitstallings geïntegreer, soos tans in die Mauritshuis in Den Haag. Hier sal besoekers van Februarie af, op neushoogte, tot die nardussalf in die kruik van Maria Magdalena kan ruik, spesifiek volgens die resep in die Nuwe Testament van die Bybel berei.

“Met reuk kan jy mense regtig terugneem na die verlede, meer as met musiek, met taal of met die oë. Reuke wek emosies en ervarings. Dit raak mense se harte,” sê dr. Caro Verbeek, Nederland se eerste reukhistorikus. In oorleg met Unesco word daar gewerk om, naas geboue en natuurgebiede, ook geure by die lys van beskermde wêreld-erfgoed te voeg. Watter is deel van jou verlede?

  • Luther is ’n mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Geure
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.