Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die verlede mag nie gekaap word

‘Wie ook al die verlede beheer, beheer ook die toekoms.”

Dié waarskuwing is vervat in George Orwell seboek 1984, oor ’n totalitêre diktatuur wat poog om mense se denke te beheer. Die regime waaroor die boek gaan, ontwerp ’n fiktiewe verlede om sy aanspraak op die alleenmag, en só ook sy toekomstige beheer oor die land te regverdig.

Die boek berus op verskeie praktiese voorbeelde. Namate die argeologie al meer nuanses oor die verlede blootlê, sien ’n mens dat reeds in die antieke tyd Egiptiese farao’s en Persiese konings se inskripsies duidelik ernstige verdraaiings van die waarheid bevat.

Ook in moderne tye het totalitêre diktators sulke pogings aangewend. Adolf Hitler en sy hoof-ideoloog, Heinrich Himmler, het ’n mitiese verlede ontwerp van heldhaftige, eensgesinde Germane wat die barbaarse hordes uit die ooste, die Slawe, op afstand gehou het.

Deesdae weet ons die Germane was, soos swart mense in Suider-Afrika in die 18de en 19de eeu, in talle stamme verdeel wat mekaar dikwels tot die dood beveg het.

In die Sowjetunie kon Wladimir Lenin en Josef Stalin, gesien die kommunistiese ideologie, moeilik ’n “etniese” geskiedenis ontwerp.

In die Sowjetunie kon Wladimir Lenin en Josef Stalin, gesien die kommunistiese ideologie, moeilik ’n “etniese” geskiedenis ontwerp. Maar hulle het wel verkeerdelik die hele wêreldgeskiedenis in die keurslyf van klasse-teenstellings ingepers.

Meer nog, Stalin het foto’s waarop van sy latere teenstanders (wat hy uit die weg geruim het) langs hom staan, laat dokter om die betrokkenes uit die geskiedenis te verwyder. Net soos van die farao’s inskripsies van en oor hul voorgangers uit die rots laat beitel het.

In ons eie dae sien ons ’n moderne diktator wat opnuut die geskiedenis probeer kaap. Sy naam is Wladimir Poe­tin, president van Rusland, en in ’n sekere sin Stalin se opvolger.

Poetin het onlangs groot opspraak verwek toe hy die nie-aanvalsverdrag van 23 Augustus 1939 tussen Hitler en Stalin verdedig het. Dít was die verdrag waarmee Hitler sy rug gedek het sodat hy Pole kon binneval, wat die Tweede Wêreldoorlog laat uitbreek het.

Poetin het bowendien te kenne gegee dat Pole deels die skuld vir die verdrag en die daaropvolgende Duitse inval moet dra. Wat Poetin sterk onderspeel het, was dat die verdrag Stalin die vryheid gegee het om Pole self iets meer as twee weke ná Hitler binne te val.

Die Pole was uiteraard woedend. Pres. Andrzej Duda het gevolglik die herdenking van die bevryding van Auschwitz in Jerusalem geboikot omdat Poetin daar sou wees.

Dis nou al verskeie jare dat Poetin die Stalin-verlede probeer herskryf.

Daar is ’n Russiese beweging, bekend as Memorial, wat die herinnering aan die miljoene slagoffers van die kommuniste in die algemeen en van Stalin in die besonder lewend probeer hou. Hy maak die lewe vir Memorial baie moeilik. Die beweging is byvoorbeeld tot ’n “buitelandse agent” verklaar, wat dit haas onmoontlik maak om geld te kry.

Toe ek in 2014 in Rusland was, is ek in ’n vriend se datsja buite Moskou ontvang. Die huisie is langs ’n groot bos waar Stalin se NKVD, die KGB se voorganger, duisende mense doodgemaak het. Die lyke lê daar sonder grafstene en niemand weet wie in watter graf lê nie. Almal in die omgewing weet daarvan, maar niemand durf daaroor praat nie, hoogstens agter die hand fluister.

Ek merk tekens dat die ANC iets soortgelyks probeer doen.

Die verbod dat die eeufeesviering van ons lugmag met die “Suid-Afrikaanse Lugmag” (van die ou Suid-Afrika) geïdentifiseer word, is maar ’n enkele voorbeeld.

Ons mag nooit toelaat dat ons verlede – en daarmee saam ons toekoms – gesteel word nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Verlede  |  Kaping  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.