Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die verpligting om brûe oor grense te bou

Onlangs word ek uitgenooi om ’n iftar-aandete by ’n moskee in die Kaap by te woon. Dis die ete wat gehou word met die verbreking van die vas in die maand van Ramadan, en dis die gebruik om gaste, en veral ook nie-Moslems, na die geleentheid te nooi.

Ons is baie vriendelik ontvang en kon ná die gebruiklike skoene-uittrek agter in die moskee plaasneem. Die murabbi het uit die Koran gepreek oor hoekom Moslems wel met Christene kan vriende wees. Tydens die gebede, toe mans, waarvan sommige pa’s met seuns, in rye kniel, was daar telkens gewyde stiltes, wat nie anders kon as om te ontroer nie.

Ná die tyd is die vas gebreek met dadels en water, waarna ons na die saal langsaan beweeg het vir die heerlikste en geurigste brijani. Net die reuk daarvan het my mond behoorlik laat water – en ek het darem toe al ’n stewige middagete gehad!

Daar is veral twee redes hoekom ek die geleentheid bygewoon het. Die eerste was die besonderse ontmoetings met Moslems van diverse afkoms deur die jare. Vir iemand soos Maulana Haider, saam met wie ons verkiesingmonitors was, het jy net die hoogste respek. Dieselfde geld natuurlik ook vir mense soos Mickey Glass uit die Joodse gemeenskap.

Verder is ek oortuig dat, gegewe ons konteks, ons ’n verpligting het om brûe oor grense heen te bou, grense wat vir ons eens onoorbrugbaar gelyk het. Die gebeure in Bosnië, Noord-Ierland, Sri Lanka, Nieu-Seeland en Nigerië is maar net enkele illustrasies van wat sou kon gebeur as geloofskonflik ons tref.

Die geskiedenis wys ons daar is dinge erger as rassekonflik.

Die geskiedenis wys ons daar is dinge erger as rassekonflik. Dit is etniese konflik en geloofskonflik. Praat jy met kollegas in bruin kerke, dan vertel hulle jou egter van jare lange geïntegreerde verhoudinge met die Moslem­gemeenskap. Hul kinders is immers met mekaar getroud en hulle moes leer om huwelike en begrafnisse saam by te woon.

By die onlangse DAK-konferensie oor versoening in Afrikaans is daarop gewys dat van die heel eerste geskrewe “Afrikaans” aan die Kaap ’n stukkie vertaling uit die Koran is.

Is bogenoemde ’n bedreiging vir my geloof in Jesus Christus? Glad nie. Dit laat my opnuut in verwondering staan voor die ondeurgrondelikheid van God. En saam met Paulus (Galasiërs 3:10), groei die versugting om Christus al inniger te leer ken . . .

Suid-Afrika is in vele opsigte een van die mees diverse lande op die planeet. Ons vind dit in ons natuurskoon en kulturele diversiteit. ’n Deel van dié ontsaglike rykdom kon ek verlede week by ’n uitvoering van die Drakensbergse Seunskoor in die Drakensberge beleef!

Ons het nie gekies om hier te wees en saam met wie ons hier sal wees nie. Ons kan wel kies hoe ons teenoor mekaar gaan optree.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.