Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die vervulling van tuinmaak lê in die mistiek

Met ’n onlangse besoek aan Stellenbosch het ek ’n draai gemaak by my ouers se laaste huis: Buitekringweg 47. Om vir ’n tydjie te vertoef by die bome wat my pa in die laat 1960’s op ’n onbewerkte verkeerseilandjie oorkant hul huis geplant het.

Van die 15 wat daar nou is, het my pa seker so vyf geplant, wat beteken sy handewerk was aansteeklik en ander mense het oor die jare daarmee voortgegaan.

Nou is daar ’n woudjie van koelte en stilte. Wat my laat wonder het wat dit is wat mense laat tuinmaak en bome plant.

Is dit bloot ’n bietjie opportunisme? Tuine en bome is mos noodsaaklik vir jou estetiese sin. Jy ontspan in jou eie tuin of in dorpe en stede se parke.

En tuine is ’n “groen wins” wat die suurstofkringloop bevorder. Tuine en bome is ook ’n bate vir jou huis se waarde. ’n Mooi tuin sorg vir ’n beter prys. Daarom huur sommige mense landskapargitekte en beroepstuiniers om die spoggerigste tuin in die buurt te hê.

Nog ’n rede is dalk ’n ekologiese bewussyn – die besef dat die mens deel is van ’n lewende ekosisteem waarin die enorme (die aarde, sterre, son en die heelal) en die kleine (partikels, atome, mikrobes, individue, plase, tuine, parke, gemeenskappe en samelewings) ’n patroon van fyn ewewig vorm; dat alles in mekaar se beskutting simbioties kan saamleef.

Gans anders as die brutale, selfdienende egosentrisme waarmee mense die aarde en haar bronne uitbuit en verniel.

Dit is vanuit dié bewussyn wat ’n mens boomplant-veldtogte moet begryp. Soos in die geval van die Indiese omgewingsaktivis en boswerker Jadav Payeng se lewenswerk. In 1979 toe hy 16 was, het hy gesien hoe slange op die warm, kaal sandbanke van die Brahmaputra-rivier sterf.

Hy het toe begin bome plant en oor dekades ’n bos geskep wat vandag 550 hektaar beslaan. Payeng werk en plant steeds daar en baie mense wat sien wat hy bereik het, volg hom na. Naas die bome en plantlower huisves die bos nou Bengaalse tiere, renosters, bokke, hase en baie soorte voëls.

Maar die vervullendste rede vir tuinmaak en bome plant is die mistiek daaromheen.

Maar die vervullendste rede vir tuinmaak en bome plant is die mistiek daaromheen. Soos ek dink my pa, boerseun en onderwysman, dit beleef het. Ek sien nog sy bruin hande vol grond wanneer hy tussen die krismisrose werk, sy laphoedjie én die krullende rokie van ’n skelm sigaretjie.

Hy het verstaan wat die digter Friedrich Hölderlin bedoel in die gedig “Da ich ein Knabe war” (“Toe ek ’n seuntjie was”): “Die welluidende gesuis/van die bome in die bos was my skool/en van die liefde het ek/tussen die blomme geleer.”

Miskien is dit dan soos die Mexikaanse digter Octavio Paz sê: ’n Tuin is nie ’n plek nie; dit is ’n deurgang.

Waarheen weet ons nie, maar om deur die tuin te gaan, is genoeg. Want om daardeur te gaan, is om vir altyd te bly.

Meer oor:  Menings  |  Plante  |  Tuinmaak  |  Rubrieke  |  Tuinier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.