Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die virus bly vir ons onsigbaar

Te midde van die (geregverdigde) woede oor die impak van die inperkingsregulasies, kom al hoe meer opmerkings in gesprekke en in die kommentaarafdelings van nuusblaaie voor oor die “kamtige virus”.

Johanna van Eeden

Covid-19, waarna aan die begin van die pandemie as ’n “onsigbare vyand” verwys is, word nou só hanteer: Sien is glo. En ons sien nie eintlik iets nie, so waarom sal ons dit glo?

Ons voel wel aan eie bas hoe die ekonomie om ons uitmekaarval. En meer van ons loop nou rond met maskers, hoewel dit blykbaar ’n gier is wat nog nie heeltemal op die platteland posgevat het nie.

Terwyl ons aan die begin van die staat van inperking elke aand angstig gewag het op “die jongste syfers” wat deur die departement van gesondheid uitgereik word, is dit nou maar net nog ’n deel van die vervelige nuussiklus.

The New York Times het Sondag die name, ouderdomme en ’n kort persoonlike beskrywing gepubliseer van 1 000 Amerikaners wat dood is nadat hulle Covid-19 onder lede gehad het. Daarmee het die koerant hulde gebring aan diegene wat aan die virussiekte gesterf het, maar ook name en gesigte gekoppel aan onpersoonlike syfers.

Dit is verstaanbaar dat diegene wat weens die virus siek word, se privaatheid gerespekteer word.

Maar solank ons nie name en gesigte aan Covid-19 kan koppel nie, is dit iets wat daar ver met iemand anders gebeur. So ver dat ons onsself tot kan wysmaak dat dit nie eintlik gebeur nie.

Boonop gaan baie min mense dood aan dié virussiekte en die meeste mense wat daardeur geïnfekteer word, ervaar dit bloot as ’n ligte verkoue.

Waarom dan die bohaai?

Ons kan dankbaar wees Covid-19 het in Wuhan uitgebreek en nie in Lagos nie.

Ons kan dankbaar wees Covid-19 het in Wuhan uitgebreek en nie in Lagos nie. Was dit die geval, was duisende meer mense waarskynlik teen dié tyd dood. Die uitbreek van die pandemie in die Noordelike Halfrond het lande in die Suidelike Halfrond geleentheid gegee om voor te berei.

Kritiek op die regering se benadering is geregverdig – maar die regering kry nie houe omdat daar ’n inperking was nie, maar vir die manier waarop die inperking ingestel is. Die hele idee was om die gesondheidstelsel geleentheid te gee om voor te berei op wat kom.

Wat kom, is waarom elkeen van ons nou persoonlik verantwoordelikheid moet aanvaar vir ons eie gesondheid en dié van die mense om ons. Ja, van die meer as 5 miljoen mense wat reeds wêreldwyd deur Covid-19 geïnfekteer is, het meer as 2 miljoen weer genees.

Maar wat beteken “genees”? Gaan lees ’n bietjie oor die ervarings van diegene wat “genees” is.

Afhangend van hoe gelukkig jy is, is siek en gesond twee terme wat relatief ver van mekaar op ’n spektrum lê.

Word jy siek, beweeg jy nie outomaties na gesond nie. Tussen-in lê herstel en rehabilitasie.

Omdat ons nog so min weet van diegene wat plaaslik deur die virus geraak word, is daardie deel van die pandemie nog nie gespreksonderwerpe nie.

Lang tydperke in ’n hospitaal se hoësorgeenheid veroorsaak ’n sindroom wat lei tot slaaploosheid, hallusinasies en angs.

Jong kinders “genees” dalk van Covid-19, maar Kawasaki-sindroom word by hulle gediagnoseer.

In jonger mense tas die virus die weefsel van tone en vingerpunte aan.

Talle mense wat “genees” van Covid-19, sit met beskadigde longe. Of hul niere word so erg aangetas dat hulle vir die res van hul lewe dialise moet kry om aan die lewe te bly.

Dis die dinge wat ons nie weet nie. Of nie wil weet nie. Omdat Covid-19 vir ons net syfers is.

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Pandemie  |  Sterftesyfers  |  Voorbereiding  |  Koronavirus  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.