Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die voorreg om op die stoel van ’n engel te sit
Annelie Botes

In Februarie 2008 het ek geskryf oor die man wat my uit ’n seestroom by Buffelsbaai gered het. Dit was gedurende Paasvakansie in 1968 toe ek tien was en nie kon swem nie.

Daar was geen menseredder nie, en my histeriese ma het op en af gehardloop op soek na hulp, maar niemand het kans gesien nie. Toe verskyn daar ’n engel. Hy was al diep see-in toe hy vir die eerste keer gewaar is.

In die samedromming nadat ek uitgebring is, het my redder verdwyn. Ongeag hoe my ouers van huis tot huis in Buffelsbaai navraag gedoen het, is hy nooit opgespoor nie en hulle kon nooit dankie sê nie. Ons het aangeneem dis ’n vakansieganger wat reeds vertrek het.

Dit het my 40 jaar lank gepla. Elke keer as ek iets in die lewe bereik het, het ek gedink aan die naamlose man aan wie ek dit te danke het.

Dus het ek ’n rubriek geskryf, hopende dat iemand die legkaart kon voltooi. Tot my vreugde skryf ’n man uit Hopetown toe aan my – en hy ken die storie.

Toe verskyn daar ’n engel. Hy was al diep see-in toe hy vir die eerste keer gewaar is.

Ongelukkig is my redder, oom Sidney Muller, ’n aardrykskundeonderwyser van Oudtshoorn, vier jaar tevore oorlede. Maar die man van Hopetown gee my toe die kontakbesonderhede van oom Sidney se seun, Helgaard, wat in George woon. Nóg 12 jaar flits verby waarin ons talle male deur George ry sonder om Helgaard op te soek.

Toe ek in 2019 bitter siek was en geglo het die swart engel kom my haal, het ek in die hospitaal ’n lys gemaak van onafgehandelde gewetensake, ingeval die engel met die raspervlerke my oorslaan. Een was om by Helgaard uit te kom.

Verlede Saterdag, op pad huis toe van die Woordfees af, het die dag aangebreek om hom van aangesig tot aangesig te ontmoet – 52 jaar ná die amperse tragedie.

Toe hy die pienk baaipet ver agter die breekbranders gewaar, het hy strand toe gehardloop en ingeswem, sonder om dit uit te basuin.

Wat ’n openbaring was dit nie om by Helgaard op die stoep te sit en te luister na die lewenstorie van wie Sidney Muller was nie. Groothartig. Nederig. Die redder van vele lewens.

Oom Sidney het op die balkon van sy strandhuis in Buffelsbaai, nie ver van die strand af nie, gesit. Hy was superfiks en het ’n wye kennis van die see gehad. Toe hy die pienk baaipet ver agter die breekbranders gewaar, het hy strand toe gehardloop en ingeswem, sonder om dit uit te basuin.

Veral merkwaardig as ’n mens dink dat hy op daardie tydstip twee klein dogtertjies gehad het wat vir die totaliteit van hul lewens van hom afhanklik was.

Wat my aangedaan gemaak het, was toe Helgaard die houtstoepstoel wys waarop sy pa gesit het toe hy my gewaar het. Dit was ’n ontsagwekkende voorreg om in sý stoel te sit met ’n lugfoto van Buffelsbaai se strand in my hand.

Dit was asof oom Sidney langs my sit. Ek het my ma met uitgestrekte arms en ’n huilvertrekte mond na my sien aankom. Ek kon haar stem hoor: “Sussie, Sussie . . .”

Ná 52 jaar is die sirkel voltooi. Al wat oorbly, is om ’n gerf wit krisante op oom Sidney se graf te gaan sit. In danksegging.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Buffelsbaai  |  Redding  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.