Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Die Vowels’ – sustersklanke van die taal

Hier waar ek en my vrou in ’n aftreeplekkie woon, is ek en ’n buurman die afgelope naweek tot erelede van ’n “vrouekring” benoem! En dit voel goed – soos om deur die Engelse koningin tot ridder geslaan te word.

Dié vrouekring het nie eintlik ’n naam nie. En dit sou ’n belediging wees om hulle Die Servette, Die Breikring, Die Oefenmaatjies, Die Traktaatjies of die Sonskyntannies te noem.

’n Gepaste naam is miskien “Die Vowels”, my akroniem vir die Vereniging van Onregeerbare Welsprekende Susters. Want dis presies hoe hulle (sewe in getal) is: susterklinkers van die taal.

Dis nou al jare dat hulle (almal so te sê anderkant afgetree) as universiteitskollegas byme­kaar­kom om te doen wat vroue goed doen – praat (wiskundig gesproke tot die derde mag). Hulle nooi toe die twee manne om dit saam te doen.

Tussendeur het ek die gedagte aan onregeerbare, welsprekende vroue bedink.

Baie soos in die komediefliek The Cemetery Club is daar – welsprekend eerbiedig én welsprekend oneerbiedig – oor alles onder die son gepraat: Kinders, kleinkinders, vriende, oudkollegas, ou en nuwe avonture, dalende akademiese standaarde met breedlopende verdomming, die behoud van taal en -kultuurvakke, skuins grappies, woordspelings, die belangrikheid én die sotternye van nalatenskap en “lewende testamente”.

En, vanselfsprekend vir oueres van dae, oor gesondheid, siekte en die dood én waar jou laaste rusplek behoort te wees. Soos in ’n koor beaam: Geen verassing – net ’n gat in die grond waar ’n boom uit jou eie lyf, uit jou eie komposhopie, tot koel groen woude kan groei. Wakende sipresse, hoë bloekoms, buigende treurwilgers.

So saam met die verhelderende en korswillende woorde, die geurige kos en die strelende wyn het die “convivium” gekom waaroor Marthinus Versfeld lieflik skryf. Hoe die samesyn van mens en mens jou met menslikheid en ’n bietjie goddelikheid beklee.

I am obnoxious to each carping tongue / Who says my hand a needle better fits . .

Tussendeur het ek die gedagte aan onregeerbare, welsprekende vroue bedink. Soos gegee deur Shakespeare se talle “unruly women” – Katherine, Beatrice, Rosalind. En Cleopatra, oor wie hy skryf: “Age cannot wither her, nor custom stale / Her infinite variety; other women cloy / The appetites they feed, but she makes hungry / Where most she satisfies . . .”

En dit begin by my eie vrou – my praatmaat, kollega en beminde. Met haar hoë bewustheid van snydende tonge (manlik en vroulik) wat nie van welsprekende vroue hou nie.

Soos Anne Bradstreet dit sê: “I am obnoxious to each carping tongue / Who says my hand a needle better fits . . .”

Voorts onthou ek dat ek met elk van die sewe “Vowels” ’n besondere werkverhouding én heerlike lawwe oomblikke had.

Ek reken D.J. Opperman het aan sulke klinkende vroue gedink toe hy sy “Sproeireën” geskryf het: “O my nooi is in ’n nartjie . . . daar’s ’n vrou in elke geur”.

Dis die stoffasie waaruit onregeerbare, welsprekende vroue se “infinite variety” floreer.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Herinneringe  |  Klub  |  Taal  |  Vroue  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.