Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die vrou wat glo Parkinson se siekte kan ruik
Heinz Mödler

Joy Milne, ’n 68-jarige afgetrede verpleegster van Perth, Skotland, het ’n baie sensitiewe neus. Sy het dekades gelede geruik daar is fout met haar man – iets aan hom het anders geruik en dit het haar gehinder.

Maande later, in 1986, is Parkinson se siekte by hom gediagnoseer.

Navorsers het toe Joy se reuksin getoets om vas te stel of haar diag­nose bloot toevallig is, en of daar ’n wetenskaplike verklaring daarvoor is. Hulle het haar ’n dosyn hemde gegee om aan te ruik. Die helfte van die hemde het aan mense behoort wat aan Parkinson se siekte ly. Sy het al ses uitgeruik.

Maar sy het ook een van die gesonde mense se hemde as siek uitgewys. Ses maande later is Parkinson se siekte by hierdie persoon gediagnoseer.

Die verwantskap tussen reuke en siekte is niks nuut nie, en dit is soms moontlik om die diagnose van metaboliese siektes soos diabetes mellitus te maak deur net na die asem of urien te ruik.

Honde, wat baie beter as ons ruik, is bekend daarvoor dat hulle siektes in hul eienaars kan opspoor.

En dit is maar met ons menslike neus. Honde, wat baie beter as ons ruik, is bekend daarvoor dat hulle siektes in hul eienaars kan opspoor lank voordat enige simptome en tekens ’n verskyning maak.

Deur Wagter se onrustigheid en verandering in gedrag ernstig op te neem, kan prostaat-, long- en ander karsinome dalk betyds gediagnoseer word om jou te genees.

Dit is nie net mediese siektes wat kenmerkende reuke het nie. Ook psigiatriese siektes, soos skiso­frenie, kan dalk vroeg al deur die neus gediagnoseer word.

Die chemiese stof trans-3-metiel-2-hekse­noësuur (TMHA) het ’n kenmerkende reuk en daar is voorgestel dat die teenwoordigheid van TMHA kan lei tot ’n vroeë diagnose van skisofrenie. Ongelukkig sukkel wetenskaplikes nog om hierdie verwantskap onomwonde te bevestig.

Maar dit is nie net siektes wat soms kenmerkende reuke afgee nie. Ou mense ruik ook anders. Wanneer jy vir ouma die trappies ophelp, besef jy sy ruik anders. Sy ruik soos ander ouer mense. ’n Reuk wat geensins onwelriekend is nie, net kenmerkend anders.

En jy verbeel jou nie, wetenskaplikes beweer hierdie reuk is weens die teenwoordigheid van spesifieke aldehiede op die vel van ouer persone. Veral die tweeling-aldehied, nonenal en nonanal, is die verbindings wat iemand “oud” laat ruik. Nonanal het ’n ietwat soeter reuk.

Ouer mense hoef glad nie geaffronteer te voel omdat hulle dalk anders ruik nie, want nonanol is een van die bestanddele wat van Chanel No. 5 die wêreld se top-parfuum gemaak het. Wat ’n mens laat wonder of Chanel No. 5 ’n vervaldatum het . . .

Buiten dat ouer persone anders ruik, behoort hul reuk jonger mense daaraan te herinner om met respek op te tree en nie net bloot die reuk ignoreer nie. Vir die Japanners is respek vir ouer persone ’n vereiste en hulle het selfs ’n term vir hierdie reuk – “kareishu.”

Hierdie aldehiede word ook deur die velle van diere afgeskei en jou persoonlike diagnostikus, Wagter, sal, soos die Japanners, sy plek op die voedselketting ken wanneer die bure se ou chihuahua kom kuier.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Gesondheid  |  Ruik  |  Siektes  |  Diagnose  |  Medies  |  Reuksintuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.