Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dié vroue was reuse in taal se ontwikkeling

’n Leemte in die geskiedskrywing oor Afrikaans is die rol wat vrouetaalkundiges in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel het. Na my wete en snuffele is daar nog geen navorsing oor dié onderwerp gedoen nie, in teenstelling met navorsing oor die rol van ander vroue­bydraers in die ontwikkeling van Afrikaans.

Anna de Villiers kan as die eerste regte-egte Afrikaanse vrouetaalkundige beskou word. Sy was ’n merkwaardige vrou wat reeds in 1927 by die Buro van die WAT as assistent aangestel is en later ook as die eerste vroueredaksielid van dié woordeboek. In 1934 behaal sy haar doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch (US) met ’n proefskrif getiteld “Die Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika”. By haar afsterwe in 1979 beskryf die destydse Oggendblad haar as ’n “vrouetaalreus”.

Gerhard van Huyssteen

(Terloops, sy vertolk ’n kameerol in die baie ingewikkelde en befaamde liefdestrilogie/-kwartet/-kwintet/-sekstet/-septet/ens. van die 1930’s, waarvan onder andere Hettie Smit, W.E.G. Louw, Fred le Roux (ook bekend as Kees Konyn!) en Truida Pohl deel was. Sien, onse Dok Anna was kortstondig verloof aan die digter I.D. du Plessis (skrywer van onder meer “Vreemde liefde” en – hou vas! – “Hasie by die dam”). Ná die verbreking van die verlowing word . . . (Nee wag, ek dwaal skinderagtig af!)

Vóór haar het Lydia van Niekerk al in 1916 aan die Universiteit van Amsterdam gepromoveer met ’n proefskrif oor die eerste Afrikaanse taalbeweging. Sy spesialiseer eintlik meer in die letterkunde en word later ook die eerste vrou wat as professor aan die US aangestel word.

Nog ’n Afrikaanse vrouetaalreus wat eers in die letterkunde rondgekuier het, maar toe die Smal Pad van die Taalkunde gevind het, is Edith Raidt. Sy promoveer in 1965 aan die Universiteit van Kaapstad met ’n proefskrif oor die geskiedenis van die byvoeglike verbuiging in Nederlands en Afrikaans.

Vroue soos De Villiers en Raidt was indertyd die alleenlopers in ’n manswêreld, maar intussen is die bordjies verhang. Uit ’n aanlyn blitsondersoek oor Afrikaanse taalkundiges aan ses universiteite blyk dit dat die verhouding mans:vroue in 2018 ongeveer 40:60 is.

In die Taalkommissie is twee derdes van die lede deesdae vroue. Dit het wel meer as 75 jaar sedert dié liggaam se totstandkoming geduur voordat die eerste vroue (Ilse Feinauer en Joey Swanepoel) in 1992 daarin benoem is. Ná hulle volg talle vrouetaalreuse, soos Anna Coetzee, Adelia Carstens en Mariëtta Alberts.

Lesers gaan van volgende week ook die stem van ’n ander bekende vrou in die Afrikaanse taalwêreld hoor, wanneer ek en Jana Luther hierdie rubriekruimte met ongereelde afwisseling gaan deel. Luther is ’n senior taalpraktisyn by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, redakteur van die HAT en nuutverkose sekretaris van die Taalkommissie. Sy is ook deel van die Twitterati; volg haar solank by @janaluther en @viva_afrikaans.

  • Gerhard van Huyssteen werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.
Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Rubriek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.