Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die waarheid se baie gedaantes maak ons vry
Nico Koopman

In Johannes 8 verkondig Jesus Christus dat die waarheid ons sal vrymaak. Die universeel menslike honger na vryheid word net gestil waar waarheid heers. Die vryheid waarna demokratiese samelewings hunker, het waarheid broodnodig.

Waarheid is ’n wonderwoord. Dit verwys daarna dat ons beskrywing van ’n mens, verskynsel en gebeure in die verlede en hede ’n getroue weergawe is van die werklikheid. Dit verwys ook na veronderstellings en teorieë wat in die praktyk in ’n groot mate as korrek bewys word.

Waarheid het ’n kontekstuele karakter. Mense se ervarings, kontekste en omstandighede, asook die bril waardeur ons na sake kyk, oefen ’n invloed uit op hoe ons die werklikheid beskryf en weergee.

Waarheid staan ook nie los van motiewe nie.

Korrekte feite wat met verkeerde motiewe aangewend word en op die verkeerde tyd en plek, kwets en verkneg, dit heel en bevry nie.

Waarheid omarm genuanseerdheid en erken die dubbelslagtigheid van ons werklikheid. Dit weet iets is nie altyd eenduidig reg of eenduidig verkeerd nie.

In ons dag ervaar ons ook hoe ontwykend waarheid is. Dit word as vaag voorgestel; nie as die duidelike teenoorgestelde van die leuen nie. Dit word gesien in omskrywings soos halwe waarheid, vals waarheid, verdraaide waarheid, skynwaarheid, suinig met die waarheid, post-waarheid en selfs geen-waarheid – want alles is mos maar eintlik relatief. In ons komplekse wêreld is waarheid vaag, glibberig en ontwykend. Dit laat ’n mens simpatiseer met Pontius Pilatus se uitroep: “Wat is waarheid?”

Waarheid sinspeel ook op karakter en het met integriteit te make. Integriteit beteken dit wat ons begeer, bedink, spreek, beplan en doen is geïntegreerd en in harmonie met mekaar.

Waar daar waarheid en voorspelbaarheid is, voel ’n mens veilig en geborge.

Mense van karakter leef met integriteit, konsekwentheid, opregtheid, egtheid, betroubaarheid en voorspelbaarheid. Ek onthou nog altyd hoe iemand jare gelede op ’n vergadering ’n afwesige lid van die vergadering se moontlike siening oor ’n saak beskryf het: “Soos ek Pat ken, sal sy waarskynlik soos volg hieroor dink . . .”

Waar daar waarheid en voorspelbaarheid is, voel ’n mens veilig en geborge.

Ons is waarheid in ál sy gestaltes aan mekaar verskuldig. Dit is pynlik as die waarheid verdraai word in die hantering van samelewingsvraagstukke waarmee individue en instellings stoei.

Dis pynlik as jy ervaar mense het nie eens die basiese inligting oor ’n saak wat hulle opponeer en verdag maak onder oë geneem nie; as jy besef hulle het nie werklik geluister na wat iemand sê nie of nie eens gevra of ’n dokument en beleid werklik dit sê wat aan hulle voorgehou word nie.

Waarheid en waaragtigheid, heling en vryheid word by die deur uitgegooi as ons nie die inligting tot ons beskikking in oënskou neem nie.

  • Prof. Koopman is ’n viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Waarheid  |  Feite  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.