Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die ware ‘erwe van ons vaad’re’
Alida Kok

In Junie verlede jaar het prof. Pierre de Vos, grondwetkenner, in ’n meningstuk in Daily Maverick geargumenteer dat erfreg afgeskaf moet word omdat die oordrag van welvaart tussen generasies ’n onregverdige verdeling van rykdom in ons samelewing bewerkstellig en in stand hou.

In dié verdeling van rykdom word veral wit Suid-Afrikaners volgens hom voorgetrek. Die rede daarvoor is dat wit bevoordeling ten tyde van koloniale heerskappy ontstaan het en vandag steeds in stand gehou word, aangesien onverdiende ekonomiese voordele van ouer na kind oorgedra word.

Om dié onregverdige orde aan te spreek, meen De Vos, kan erfreg afgeskaf word of erfporsies baie swaar belas word sodat welvaart na ’n sentrale owerheid teruggelei word. In De Vos se sosialistiese fantasiewêreld sal dit maatskaplike solidariteit bevorder en ’n meer regverdige orde tot stand bring.

De Vos se meningstuk het tot heelwat woede onder lesers gelei, onder meer omdat die afskaffing van erfreg die gevolg sal hê dat ouers van die geleentheid ontneem word om die ekonomiese uiteinde van hul lewenswerk aan hul kinders te gee.

Erfreg en erfporsies handel oor veel meer as die gee en neem van geld en bates – dis ook die bevestiging van ’n besonderse familiale band en identiteit tussen ouers en kinders. As ’n mens aan erfreg torring, torring jy ook aan hierdie besonderse band en identiteit.

Individue wat ’n bydrae tot die politiek van die land lewer, is baie keer polities gesosialiseer deur hul besonderse band met ’n ouer of ’n kind.

Volgens De Vos is lesers woedend oor sy voorstel, want die afskaffing van erfreg daag die idee van die “kerngesin” of “nucleur family” uit. ’n Tradisionele benadering tot erfreg bevoordeel kerngesinne en nie uitgebreide gesinne nie en hoewel gesin-solidariteit in verskeie kulture in Suid-Afrika baie sterk is, is die meeste gesinne vandag uitgebreide gesinne wat nie soseer voordeel uit erfporsies trek nie.

Terwyl De Vos se argument nie goedgunstig teenoor gesinne of die verhouding tussen ouers en kinders is nie, is daar wel ’n kosbare aspek van die band tussen ’n ouer en kind wat ’n baie meer konstruktiewe rol in die politiek van ons land speel.

Individue wat ’n bydrae tot die politiek van die land lewer, is baie keer polities gesosialiseer deur hul besonderse band met ’n ouer of ’n kind. As ’n persoon ’n prestasie in die openbaar behaal, lees so ’n prestasie dikwels as ’n liefdesbrief aan ’n ouer of ’n kind en dié band is so kragtig dat dit die vuurkrag is wat kan help om ’n samelewing te bou en te verbeter.

Ons kan goeie voorbeelde daarvan in onlangse politiek sien.

As ’n mens praat met rolspelers in die Afrikaner-Afrika Inisiatief – die inisiatief waarin Afrikaner-organisasies en die Thabo Mbeki-stigting skakel – sal hulle aandui dat dit belangrik is om aan die inisiatief deel te neem om sodoende ’n beter toekoms in die land vir hul kinders te bou.

Mense in hierdie groep word onder meer gedryf deur die behoefte om ’n beter “erfporsie” vir hul kinders te verseker (al is hierdie erfporsie nie net ekonomies van aard nie).

Nog ’n voorbeeld van’ n rolspeler wat ons samelewing ’n beter plek gemaak het en wat gedryf is deur sy band met ’n ouer, is die internasionale menseregtekenner prof. Christof Heyns, wat op 28 Maart oorlede is. Die sluipmoord in 1994 op sy pa, dr. Johan Heyns, het hom aangespoor om by die Verenigde Nasies werk te verrig oor buitegeregtelike en arbitrêre teregstellings en ’n reusagtige nalatenskap agter te laat.

Dis nie nodig om agterdogtig te wees oor die sogenaamde “kerngesin” in ons politiek nie. Dis juis in gesinne en in die bande tussen ouers en kinders wat ons die samelewing kan verbeter.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Rykdom  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.